Dié motors kry nul vir veiligheid ná toets

Die Mahindra Scorpio. Foto: Skermskoot uit die video

Die Mahindra Scorpio. Foto: Skermskoot uit die video

Vyf motors van bekende vervaardigers het vandeesweek tydens die laaste ronde van die internasionale Global NCAP-motorveiligheidstoets in Indië nul vir motorveiligheid gekry.

Die doel van dié New Car Assessment Program (NCAP) is om veiligheid in motors te bevorder deur onafhanklike navorsing en toetse wat die veiligheidseienskappe van motors met ander evalueer en die resultate aan die publiek bekend te maak.

Die motors wat in die laaste rondes getoets was, is die Renault Kwid, Maruti Suzuki Celerio, Maruti Suzuki Eeco, Mahindra Scorpio SUV en die Hyundai Eon. Hoewel oorhoofs dieselfde, het dié motors nie noodwendig dieselfde spesifikasies as die Suid-Afrikaanse weergawes nie.

David Ward, uitvoerende hoof van Global NCAP, het aan die webwerf Car Mag vertel dié toetse het weereens die belangrikheid van sterk motors aan vervaardigers beklemtoon.

“Die jongste resultate wys hoe belangrik dit vir motors is om ʼn raamwerk te hê wat in ʼn ongeluk stabiel kan bly,” het hy gesê. “ʼn Sterk raamwerk en lugsakke is ʼn noodsaaklikheid en voorvereiste vir die veiligheid van die insittendes. Dit is baie vreemd dat ʼn vervaardiger soos Renault ʼn motor soos die Kwid sal vervaardig sonder iets soos lugsakke.”

Drie weergawes van die Kwid het dié toets gedop. Die motorvervaardiger het egter gesê ʼn vierde weergawe van die motor sal binnekort bekendgestel word.

Ward het bygevoeg geen vervaardiger behoort motors te vervaardig wat nie aan die regte standaarde voldoen nie. “Vervaardigers moet seker maak dat die nuwe modelle die minimum veiligheidsvereistes van die Verenigde Nasies slaag.”

Kyk hoe die motors die veiligheidstoetse dop:

Bron: Car Mag

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Paul ·

Die verskil tussen moderne hoësterkte-staal en sommer net enige ou gemors wat twintig jaar gelede laas in behoorlike karre gebruik is. Staal is nie sommer net staal nie.
Vergelyk hierdie byvoorbeeld met ‘n video van ‘n Alfa Romeo Giulietta wat in dieselfde “half offset, 64km/h” botstoets is. Een van die veiligste nuwe karre wat te koop is. In die video (maklik op Youtube te vinde) kan gesien word dat die passasierskompartement nie eers enigsins vervorm nie. Die A-pilaar buig nie, die onderstel buig nie, die deurraam buig nie, nie eers die voorruit kraak nie! Koop op eie risiko ‘n Indies-vervaardigde goedkoop karretjie! Blink verf aan die buitekant beteken nie alles is dieselfde wat die staal se sterkte betref nie! Die goed is goedkoop vir ‘n rede!

Liza ·

Baie waar Paul. So ruk terug bots ‘n dame teen my 1998 Toyota Tazz, liggies maar wel. Geen merk of duik aan my karretjie nie, haar nuwe duur blink motor baie skade gehad, gelukkig was dit haar skuld en nie myne nie…

Paul ·

Liza, wat daardie botsing, wat waarskynlik relatief liggies was, eintlik aantoon is hoe die Tazz eintlik nog ‘n outydse, swak ontwerp het met baie minder “frommelsones” terwyl die nuwe karre gemaak is dat alle dele wat nie deel vorm van die passasierskompartement nie, baie maklik opfrommel en breek. Daardie opfrommeling van eksterne dele veroorsaak juis dat minder skokkrag op die passasiers binne-in die kar uitgeoefen word, terwyl die Tazz, omdat dit minder opfrommel, ‘n groter skok na sy passasiers deurlaat.

JD ·

Hi Paul presies. Baie mense assosieer verkeerdelik na n ongeluk dat die jar met die minste skade is die beter kar. Al wat dit beteken is in n ongeluk vat jou liggaam al die skok nie die kar waar n kar opfrommel beteken dit die kar vat al die skok. Ek sal verkies die kar val uitmekaar om my maar almal im die kar stap veilig weg.

johann cb ·

Alle verduidelikings opsy: wat het ons gedoen voor die koms van die lugsak, kragstuur en ABS remove?

Paul ·

Meer ernstige beserings gekry in motorongelukke?

Daar is wel ook navorsing wat suggereer dat wanneer motors meer veiligheidsmaatreels het, mense al hoe meer roekeloos begin ry, wat die getal ongelukke verhoog.
Dit sou dus voorstel dat alle karre eerder met ‘n groot ysterpen op die stuurwiel moet toegerus word. Dit sal byna 100% sekerheid van dood tydens ‘n ongeluk gee, wat daartoe sal lei dat mense baie versigtig sal bestuur.

johann cb ·

Verskoning en regstelling – dit moet lees “ABS remme!”

Lance ·

Dis tog logies man …. maak eers seker die kar voldoen aan vereistes voor jy dit begin vervaardig , bemark en verkoop …nou te laat om te se nee die nuwe ene gaan voldoen …wat van die mense wat nou reeds met die onveilige kar ry

Frans C ·

As ‘n mens leer bestuur het in ‘n voertuig sonder al die moderne hulpmiddels waardeer jy vandag se moderne motors soveel meer. Daar is egter ‘n nadeel al die moderne hulpmiddels skep ‘n valse beeld van ‘n mens se bestuursvermoë.

Pietsepan ·

Ek kerm al lankal soos ‘n verlore stem in die woestyn dat die media, veral TV en drukkery, baie kan doen om padveiligheid te bevorder deur advertensies te maak van verkeerde padgebruik. Wys wat bestuurders verkeerd doen in padveiligheid advertensies. Dalk sal dit tot die afgestomptes deurdring wat byvoorbeeld vaste en stippellyn beteken. Daar is baie bestuurders op die pad wat nie lisensie toetse voltooi het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.