Dié Mustang gee Spitfire vlerke

Die Spitfire #5518 het in 1947 in Suid-Afrika aangekom en oor die dekades heen het hy Suid-Afrika by Langebaan en Waterkloof bedien en die land verdedig.

In die tagtigerjare het die Spitfire in ʼn museum gepronk en in 1994 het hy uiteindelik weer gevlieg. Ongelukkig is die einste Spitfire amper vernietig in ʼn ongeluk by Zwartkop in 2000.

Die Performance Centre, SAAF Museum en Friends of the SAAF het ʼn tydjie gelede hande gevat vir ʼn projek om die Spitfire weer tot sy oorspronklike glorie te restoureer.

Die Performance Centre het ook ʼn lisensie bekom om 10 Ford Mustangs om te bou in RTR Spec 5 wyebak-pragmotors.

Die motors sal enig in hul soort wees. Dit is met die hand geverf en is ʼn perfekte replika van ʼn vorige vliegtuig – met ʼn superaangejaagde V8-petrolenjin. Die projek beoog om R750 000 in te samel vir die restourasie van die Suid-Afrikaanse Lugmag se enigste oorblywende Spitfire, #5518.

Die eerste gelukkig eienaar het reeds eienaarskap geneem van die heel eerste replika. Die oorhandiging is by Zwartkop-lugmagbasis gedoen en was ʼn heel emosionele affêre.

Elke Mustang kry onder andere ʼn Roush-superaanjaer, nuwe Ford Performance-sitplekke, nuwe Brembo-remme, gesmede wiele – de lot. Die ombouing verbeter krag tot 710 perdekrag of ʼn allemintige 525 kW. Met dáái tipe krag gaan ʼn mens beslis sterk remme nodig hê, dus doen 6-suier-remknypers voor diens, en 4-suier-knypers agter.

Al staan ʼn mens net langs die unieke monster, kry jy die gevoel dat dit bitter spesiaal is. Diegene wat dit kan bekostig, kan ook trots wees dat R75 000 van die prys bygedra word tot die restourasie van die Spitfire.

Indien jy self so ʼn Mustang wil besit, besoek http://www.warriorsofthesky.co.za/ en kontak die Performance Centre by 012 003 7000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stefaan ·

Pragtig. Moet net nie gaan “low flying” doen nie aub.

Sylvia ·

Op watter foto is die Spitfire? Ek sien net Mustang’s (prag van ‘n motor) …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.