Elke tipe voertuig het ʼn voorvader – die eerste sportmotor of luikrug en so aan. Ek dink die oorspronklike C-segmentsportnutsvoertuig was dalk Subaru se Forester. Die eerste weergawe was amper ʼn stasiewa, met beter grondvryhoogte. Nietemin, die nuwe Forester is om verskeie redes fantasties. Kom ek verduidelik.
Die ontwerp van die Forester is nie vir my besonder mooi nie. Hy is terselfdertyd beslis nie lelik nie… net anders. Die ontwerp is netjies genoeg, en uniek; hy staan dus uit, sonder om te hard te probeer. Die binneruim is egter slim beplan. Die ergonomie van die Forester is mooi uitgedink. Daar is sitplek vir vyf en ʼn lekker groot kattebak. Nog iets wat ʼn mens opval, is die enorme kopruimte wat beskikbaar is.
Die bougehalte en materiale in die binneruim is heel goed. Ja, dit is beslis Japannees, maar dit is geensins ʼn slegte ding nie. Die fisieke knoppies op die middelkonsole vir die lugreëling, die klankstelsel en inligtingstelsel se funksies, is fantasties – ek hou baie daarvan. Dis intuïtief en ʼn mens hoef amper dadelik glad nie meer te kyk of te konsentreer om dit te gebruik nie.
Die Forester is gelaai met luukshede. Al die belangrikste inligting word op ‘n skerm bo die stuurwiel aangedui, elektries verstelbare sitplekke met geheuefunksie, klimaatbeheer, ʼn panoramiese sondak en ʼn baie gevorderde veiligheidstelsel wat van kameras en radar gebruik maak. Die stelsel beheer die spoedkontrole tot in buffer-aan-buffer-verkeer; selfs al stop die voertuig dood, trek hy self weer weg sodra die verkeer wegbeweeg.
Onder die kap sit Subaru se 2.5-bokserviersilinderpetrolenjin. Die enjin bied 136 kW en 239 Nm. Nie te versmaai nie. Dan kom ons by ʼn opwindende verwikkeling met die nuutste Forester. Die meeste Foresters was bitter swaar op brandstof – maar nie dié een nie. Ek het maklik die 8,3 ℓ/100 km waarop Subaru aanspraak maak, gehaal; selfs beter as jy versigtig ry. Subaru se nuutste CVT-palwisseltransmissie werk puik in dié voertuig. Wanneer jy rustig toer, hoor jy nie die enjin nie en as jy haastig raak, wat gewoonlik die spyker in ʼn CVT se doodskis is as gevolg van die gedreun, is dit ook nie meer ʼn probleem nie. Subaru het dié CVT geprogrammeer om ratte na te aap en hy kwyt hom goed van sy taak.
Op die pad is waar die Forester my hart steel. Dit ry lieflik. Die ritgehalte is heel goed, maar nie té sag nie. Dit, gepaard met Subaru se wêreldberoemde simmetriese allewielaandrywing, sorg vir fantastiese padhouvermoë. Akkurate stuur en ʼn puik gekalibreerde rempedaal beteken dit is ’n voertuig wat ʼn droom is om te ry, al is dit ʼn gesinsbuks. Nog ʼn troefkaart in Subaru se hand is hul allewielaandrywing en 220 mm‑grondvryhoogte, ongeëwenaar in die segment.
Die Forester is uiters maklik om op te som. Die C-sportnutssegment bars uit sy nate met mededingers om elke draai, maar die Forester staan sterk. Hy het ook nou ʼn uitmuntende spesifikasievlak, terwyl hy heel billik geprys is teenoor van die mededingers. Die Forester is R150 000 goedkoper as die duurste Tiguan. Dis 85 000 km se brandstof teen vandag se mal pryse.
Die reeks lyk só:
Subaru Forester 2.0i CVT | 115 kW/196 Nm | 7,6 ℓ/100 km | R486 000 |
Subaru Forester 2.0i-S ES CVT | 115 kW/196 Nm | 7,6 ℓ/100 km | R564 000 |
Subaru Forester 2.5i-Sport ES CVT | 115 kW/196 Nm | 8,3 ℓ/100 km | R599 000 |
Subaru Forester 2.5i-S ES CVT | 115 kW/196 Nm | 8,3 ℓ/100 km | R649 000 |
Die reeks word gedek deur ʼn vyf jaar/150 000 km-waarborg en drie jaar/75 000 km- omvattende instandhoudingsplan.
Die kompetisie lyk só:
Haval H6 | 150 kW/320 Nm | 8,3 ℓ/100 km | 5 jaar/100 000 km-waarborg; 5 jaar/60 000 km-diensplan | R539 900 |
Mitsubishi Outlander | 123 kW/222 Nm | 8,2 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan | R571 995 |
Nissan X-Trail | 126 kW/233 Nm | 8,3 ℓ/100 km | 6 jaar/150 000 km-waarborg 3 jaar/90 000 km-diensplan | R637 500 |
Kia Sportage | 130 kW/265 Nm | 7,5 ℓ/100 km | 5 jaar/ onbeperkte km-waarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan | R663 995 |
Mazda CX-5 2.5 AWD Individual | 143 kW/258 Nm | 7,3 ℓ/100 km | 3 jaar/ onbeperkte km-waarborg en diensplan | R697 600 |
Toyota Rav4 2.5 VS AWD | 152 kW/243 Nm | 7,3 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg 6 dienste-diensplan | R723 400 |
Volkswagen Tiguan 2.0TSI 162kW 4Motion R-Line | 162 kW/350 nm | 8,3 ℓ/100 km | 3 jaar/120 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan | R746 400 |
Ek het hier slegs vierwielaangedrewe mededingers gelys. Die Forester 2.5i-Sport wat ons getoets het, kos R599 000. In die segment is dit ʼn winskoop en absoluut my keuse tussen die lot.
Ja sien, NOU praat julle my taal. Ek ry nog ‘n 15 jaar oue Forester XT (die een met die WRX enjin) en ek sal sonder om twee maal te dink ‘n nuwe een koop as hierdie een eendag nie maar kan nie. Subaru weet net hoe. En die 4-wiel stelsel is by verre die beste in sy klas. Selfs die ouer stelsel wat myne het is myle beter as die res. En die 192kW/400+Nm is ook nie te versmaai nie.