Die oorspronklike kompakte sportnuts?

In my kop is daar, saam met Jeep se Cherokee, ʼn sportnutsvoertuig wat al baie langer sy rondes doen as al die nuwe goed wat mens kry … dit is Subaru se Forester. Dit voel vir my of die Forester op sy tyd ʼn baanbreker was.

Die sportnuts-bakstyl gepaard met Subaru se beroemde simmetriese allewielaandrywing het van die Forester ʼn formidabele mededinger in sy segment gemaak. Ek onthou ʼn tyd toe die 2.5 XT met sy turbo mense se oë laat rek het as die turbotraagheid padgee vir ʼn golf wringkrag. In die huidige reeks het mense hul misnoeë uitgespreek oor die verwydering van die turbo-model. Ons is toe gelos met net die 2.0- atmosferiese bokserviersilinderenjin.

Vir die meeste doeleindes is die 2.0i voldoende, maar baie mense soek die krag waaraan hulle gewoond was. Subaru het egter nie die turbo teruggebring nie, maar wel ʼn 2.5i model. Die nuwe atmosferiese bokserviersilinderenjin bied 136 kW en 239 Nm – nie te versmaai nie. Die enjin is gepaard met Subaru se palwisseltransmissie.

Ek moet bieg dat CVT-ratkaste beter werk met turboaangejaagde enjins – maar die 2.5-Subaru voel heel lekker, solank mens nie te aggressief raak met die versneller nie. Die voordeel van die palwisseltransmissie is egter die goeie brandstofverbruik wat dit bied. Subaru beweer ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 8,3 l/100 km.

Die ontwerp is pure Subaru en eie aan dié Japanse vervaardiger. Daar is heelwat aan die gang en ek sou die ontwerp beslis nie elegant noem nie, maar die Forester is glad nie ʼn lelike eendjie nie.

Die binneruim is gepeper met elke denkbare luuksheid. Daar is leerbedekte elektriese sitplekke met geheuefunksie, spoedkontrole, ʼn groot raakskerm met CarPlay en Android Auto, outomatiese ligte en ruitveërs – alles. Aan die veiligheidskant is die Forester nóg sterker. Subaru kry al ʼn geruime tyd vyf sterre in die ANCAP-botsingstoetse in Australië. Subaru se EyeSight-stelsel beheer die aanpasbare spoedkontrole én bied funksies soos botsingwaarskuwing en dies meer.

Op die pad is waar die Forester tot sy eie reg kom. Dit is ʼn gemaklike sportnuts wat sitplek vir vyf bied. Die 220 mm-grondvryhoogte is klasleidend, en dit gepaard met die vierwielaandrywingstelsel bied mens ʼn sportnuts wat werklik gebruik kan word, nie net in die dorp of op die teerpad nie.

Dit is maklik om die Forester op te som. Dit is ʼn puik voertuig. Al die luukshede hou dinge regtigwaar gemaklik. Indien jy in die mark is vir ʼn kompakte sportnuts, moet die Forester nie miskyk terwyl jy gaan toetsbestuur nie.

Die reeks lyk só:

Subaru Forester 2.0i115 kW/196 Nm7.6 l/100 kmR486 000
Subaru Forester 2.0i-S ES115 kW/196 Nm7.6 l/100 kmR564 000
Subaru Forester 2.5i-Sport ES136 kW/239 Nm8.3 l/100 kmR599 000
Subaru Forester 2.5i-S ES136 kW/239 Nm8.3 l/100 kmR629 000

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en 5 jaar/75 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Mitsubishi Outlander 2.4 GLS123 kW/222 Nm8.2 l/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R539 995
Nissan X-Trail 2.5 4×4 Tekna126 kW/233 Nm8.3 l/100 km6 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km- diensplan

R599 900
Jeep Compass 2.4 4×4 Trailhawk129 kW/229 Nm9.5 l/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg en diensplanR604 705
Toyota Rav4 2.5 VX AWD152 kW/243 Nm7.3 l/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

6-dienste- diensplan

R622 300
Mazda CX-5 2.5 AWD Individual143 kW/258 Nm7.3 l/100 km3 jaar/ onbeperkte km- waarborg en diensplanR644 300
Volkswagen Tiguan 2.0TSI 4Motion HIghline162 kW/350 Nm7.8 l/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R685 200
Honda CR-V 1.5T Exclusive AWD140 kW/240 Nm7 l/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R773 100

Die prysklas vir dié mededingers is wyd – maar almal het vierwielaandrywing. Slegs die Outlander en X-Trail het sewe sitplekke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.