Die perfekte toerbus?

Ek is ʼn woonwa-mens en my wa het al wyd en syd oor Suid-Afrika getoer. Dit sou fantasties wees indien die wa kon praat.

Ek is die derde eienaar en die tweede eienaar het hom vir dekades lank besit en die Wes-Kaap platgetoer met hom. Ek het hom daar gaan haal, en nou toer ons Gauteng, Noordwes, Limpopo en Mpumalanga plat. Hy gaan binnekort Natal toe. Ons kan nie wag nie.

Maar is daar ʼn beter oplossing? Veral vir avontuurlustige mense wat net wil toer en nie lank op ʼn plek vertoef nie? Beslis, en die Volkswagen California Coast is presies daardie wa.

Ek moet bieg dat ek altyd gedink het die California is té beperk totdat ek hom onlangs by die huis gehad en vir vroulief gesê het: “Kom, ons moet die ding gaan opslaan en sien hoe alles werk!” Dis toe dat ek ontdek daar is ʼn bed in die dak – California het dus slaap- en sitplek vir vier mense.

Voor is dit ʼn doodgewone Caravelle met lapsitplekke. Agter is dit egter ʼn ander wêreld. Die voorste sitplekke draai óm. Daar is ʼn stoof, wasbak, yskas, kaste, ʼn tweesitplek bank wat ʼn bed word, ʼn koppelpunt waar ʼn stortjie inprop en ʼn tafel. En dan lig die dak op waaronder daar ʼn lieflike bed wegkruip!

Daar is ʼn afdak wat uitrol, ʼn tafel wat in die skuifdeur gestoor word en twee kampstoele wat in die kattebakdeur gestoor word. Selfs ʼn watertenk!

Nou ja, vir langtermynkamp is dit nie die oplossing nie, maar vir plek-tot-plek reis en die wêreld sien is daar niks wat kort nie en niks oortollig nie, net alles wat ʼn mens benodig. Ja, om in die boonste bed te klim kan dalk ʼn uitdaging wees vir die ouer garde. Verder het elke venster ʼn blinder wat kan toemaak sodat die Coast privaat is binne.

Die Coast word deur Volkswagen se 2.0BiTDI dubbelturbo viersilinderdieselenjin aangedryf wat 146 kW en 450 Nm bied. Ons het tydens ons tyd met die bussie ʼn billike 10 ℓ/100 km gehandhaaf. ʼn Mens voel die ekstra gewig van al die gereedskap, maar die vering en vierwielaandrywingstelsel laat die Volksiebus vol selfvertroue die pad aandurf. Ons het in die gietende reën van die lughawe af terug huis toe gery en in ʼn enorme storm het die bus nie ʼn enkele voet verkeerd gesit nie. Indrukwekkend.

Nog ʼn voordeel van die Coast is sy vierwielaandrywingstelsel. Nee, hy gaan waarskynlik nie duine ry nie, en ook nie ʼn hindernisbaan baasraak nie, maar modderige of sandspore tot by ʼn pragtige kampplek sal die Coast lag-lag opvreet.

Die Coast is maklik om op te som. In ʼn Suid-Afrikaanse konteks maak hy seker minder sin waar ons baie stoorplek het en eerder lank kamp waar ons stilhou. Uit ʼn Europese oogpunt waar ʼn mens minder parkeerplek het, en waarskynlik in die week van openbare vervoer gebruik maak kan mens die Coast in jou motorhuis bêre, en naweke die hele Europa plat toer! Dis lekker!

Die California lyk só:

Volkswagen California Coast 2.0BiTDI 4Motion DSGR1 314 800

Die reeks word gedek deur ʼn drie jaar/120 000 km-waarborg en ʼn vyf jaar/60 000 km-omvattende instandhoudingsplan.

Die California Coast het geen mededingers in die plaaslike mark nie en daar word jaarliks 18 000 wêreldwyd verkoop – dus is die Volkswagen California Coast die wêreld se gewildste kampeerwa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chantel ·

Dis nou baie oulik. Ons het ‘n Ford Tourneo Custom. Ons kamp ook met haar, haal die 2 agterste sitplekke uit en lê ‘n dubbelbedmatras daarin, ons Campmaster vries- yskas pas perfek. Kiddies is uit die huis, so ek en manlief kamp heerlik met haar en nie nodig vir tent opslaan en afslaan nie.

Wielspore ·

Jaloers Bokkie….. dit is daarem vir jou ‘n mooi stukkie yster. Hoop julle ry voorspoedig en geniet die vakansie. Ons vertrek more van Nelspruit omgewing Port Elizabeth toe met ‘n beskeie T Cross vir ‘n kort vakansie.
Lekker ry!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.