Dié sedan kan kers vashou by die sportnutse

Die nuwe Toyota Corolla Quest. Foto: Verskaf

Nou die dag lewer iemand ʼn kommentaar op Facebook en sê hy kan glad nie meer met ʼn sedanmotor as huurmotor ry nie – ons paaie is te sleg. Bog. Kyk, ek was nog nie in Spanje nie – die paaie daar is glo absoluut puik en so glad soos ʼn baba se boudjies, maar baie van ons paaie hier is regtig goed.

Já, ons het slegte paaie, maar ek was nog nooit op ʼn pad só sleg dat ʼn motor nie daar kan ry nie. Ek lieg – ek het in Desember 2017 deur Lesotho Natal toe gery. Daar het ek ʼn grondpad gekry wat laestrek en 4×4 gekort het … maar ek praat hier van teerpaaie. Ek ry al amper 20 jaar.

Die nuwe Toyota Corolla Quest. Foto: Verskaf

Ek het nog nooit ʼn band verloor op ʼn slaggat nie. Ek het seker al miljoene kilometers in Suid-Afrika gery, en ek dink mense dink verskonings uit om sportnutsvoertuie te koop. As jy een wil hê, sê net: “Ek soek ʼn sportnuts” – moenie sê dis meer prakties óf dit kan beter ry op ons paaie nie, dis leuens.

Enige mediumgrootte sportnutsvoertuig het sitplek vir vyf, en min of meer dieselfde pakplek in die kattebak as ʼn luikrug. Die syfers wat mens op die internet kry wat sê hulle het 700 ℓ-kattebakruimte is wel tot teen die dak, nie tot by die seiltjie nie. Ek is oortuig daarvan dat mens meer in ʼn sedanmotor se kattebak kan laai as in ʼn sportnutsvoertuig. Já – ek praat nou nie van groot goed soos ʼn boksvrieskas nie.

Die nuwe Toyota Corolla Quest. Foto: Verskaf

Ek kerm so oor ʼn sedanmotor, want ek het tans een. Toyota het vir my ʼn nuwe Corolla Quest afgelaai twee dae voor die staat van inperking in werking getree het. Die skielike gejaag om ʼn paar goedjies te kry en my gasbottels vol te maak voor alles toemaak, is heel maklik deur die Toyota hanteer.

Die nuwe Quest is op die 11de generasie Toyota Corolla gegrond en word hier in sonnige Suid-Afrika vervaardig in Toyota se Prospecton-aanleg. Sover ek weet, is daar net twee sedanmotors wat in Suid-Afrika aanmekaargesit word – die Mercedes-Benz C-klas en die Toyota Corolla Quest. Die enigste sportnutsvoertuie wat hier vervaardig word, is die BMW X3, Toyota Fortuner en Ford Everest.

Die nuwe Toyota Corolla Quest. Foto: Verskaf

Verder bou VW die Polo, Ford die Ranger en Raptor, Isuzu die D-Max en Toyota die Hilux en HIace Ses’fikile. My raad sou wees, ná die afsondering – koop iets wat hier vervaardig word – dit sal ʼn goeie uitwerking op die ekonomie hê.

Ek het onlangs in ʼn artikel oor Haval se H2 geskryf dat daai produk nie vir my klaar voel nie en dat Haval nog werk het om te doen. Toyota se Quest is presies die teenoorgestelde. Een van die motors wat ek by die bekendstelling gery het se paneelbord het op twee plekkies nie perfek gepas nie, en die enjin het aanvanklik effe grof gevoel – maar noudat hy tyd gehad het om bietjie in te loop is die Corolla ʼn perd van ʼn ander kleur. Die een wat ek nou het se bougehalte is onverbeterlik. Alles pas reg en is waar dit hoort.

Die nuwe Toyota Corolla Quest. Foto: Verskaf

Die ontwerp is gewone Corolla. Mens kan sien waar die chroomaksente verwyder is om koste te bespaar – maar die Corolla is geensins ʼn lelike eendjie nie. Die binneruim is ook 99% Corolla. Daar is een strook waar daar ʼn nuwe grys insetsel is – maar dit pas heel dollies. Daar is ʼn nuwe raakskerm-inligtingstelsel in die paneelbord wat goeie klank bied. Daar is spoed en klimaatbeheer, asook leerbekleedsel wat die binneruim lekker luuks laat voel.

Ek ry die reeksleidende 1.8 Exclusive met ʼn 6-spoedhandrat. Die atmosferiese 1.8-viersilinderpetrolenjin bied 103 kW en 173 Nm. Dit is genoeg om die Corolla te laat versnel van stilstand tot 100 km/h in ʼn billike 9,8 sekondes, en hy sal aanhou draf tot ʼn indrukwekkende 200 km/h. Nie te versmaai nie.

Die nuwe Toyota Corolla Quest. Foto: Verskaf

Een van die puik pluspunte van die atmosferiese enjin is die goeie brandstofverbruik. Op die oop pad teen 120 km/h bied die Corolla ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 6.2 ℓ/100 km aan. Ek is nou op ʼn gemiddeld van 7.3 ℓ/100 km – dis nou tydens die afsondering hier by die huis rond winkel toe en terug.

Aan die veiligheidskant bied die Quest ʼn sterk spesifikasie met vyf lugsakke, ABS met EBD én stabiliteitsbeheer – heel indrukwekkend. Op die pad voel die Corolla puik. Die vering is lekker soepel al is daar nie groot bakrol nie. Padhouvermoë voel ook baie goed, want die Quest is lig en laag – dit voel baie ratser as wat groter, swaarder sportnutsvoertuie gewoonlik voel. Die Corolla parkeer ook soos ʼn droom.

Die nuwe Toyota Corolla Quest. Foto: Verskaf

Ek gaan vir Toyota vra of ek die Quest ná die staat van inperking vir nog ʼn paar dae kan toets namate ons terugbeweeg in die roetine om te sien hoe hy hom werk toe en terug gedra. Soos ek dit nou beleef, is dit vir my verwarrend as mense hulself breek om duurder sportnutsvoertuie aan te skaf, waar ʼn Corolla 99% van die take kan verrig vir minder geld – en tog lekkerder as baie van die sportnutse waarna mense so streef.

Die reeks lyk só:

Toyota Corolla Quest 1.8103 kW/173 Nm7 ℓ/100 kmR254 900
Toyota Corolla Quest 1.8 outo103 kW/173 Nm6.3 ℓ/100 kmR273 100
Toyota Corolla Quest 1.8 Prestige103 kW/173 Nm7 ℓ/100 kmR289 400
Toyota Corolla Quest 1.8 Prestige outo103 kW/173 Nm6.3 ℓ/100 kmR299 800
Toyota Corolla Quest 1.8 Exclusive103 kW/173 Nm7 ℓ/100 kmR310 500
Toyota Corolla Quest 1.8 Exclusive outo103 kW/173 Nm6.3 ℓ/100 kmR320 900

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en diensplan van drie dienste. Diensintervalle is elke 15 000 km.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Ciaz 1.5 GLX77 kW/138 Nm5.5 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

3 jaar/ 60 000 km-diensplan

R254 900
Honda Ballade 1.5 Elegance88 kW/145 Nm5.9 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km waarborg

4 jaar/60 000 km- diensplan

R305 500
Mazda 3 1.5 Active88 kW/153 Nm5.9 ℓ/100 km3 jaar/ onbeperkte km- waarborg

3 jaar/ onbeperkte km- diensplan

R360 700

Daar is bitter min sedanmotors oor. ʼn Kategorie wat eens op ʼn tyd verreweg die grootste verkoper was, is nou vervang deur die sportnutsvoertuig. Dis ʼn jammerte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Raadslid ·

Skrywer ry al 20 jaar. Dit maak sin dat hy dink ons paaie is in goeie toestand. Voor 1994 was die grondpaaie beter as wat die teerpaaie nou is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.