Die Dieselgate-skandaal in 2015 het Volkswagen miljarde uit die sak gejaag en ʼn klomp lede van die senior bestuur is vervolg.
Die letsels van Dieselgate begin nou wys met die pendulum wat teruggeswaai het in die guns van petrol – veral by klein motors. Dis ʼn jammerte – ek hou bitter baie van ʼn klein dieseltjie, ek self het al drie 1.4-HDi’s besit. Já – in die begin moes mens hulle laat versien dat dit klap, maar soos met enige tegnologie het van die vervaardigers hulle baasgeraak, en dán het mens gesit met ʼn lekker tjor, wat 4.2 ℓ/100 km bied – en slegs elke 20 000 km versien moes word. Die besparings was enorm.
Ongelukkig is daar bitter min nuwe klein dieseltjies. Klein turbopetrolenjins is nou aan die orde van die dag. Van hulle is oukei, maar die meeste van hulle kort nog werk. Gelukkig is dit nie die geval met dié Opel Crossland X 1.6 TD Enjoy nie. Dis ʼn piepklein sportnutserige kruismodel, met ʼn lekker 1.6-viersilinderturbodieselenjin.
Aan die buitekant deel die Crossland X soortgelyke proporsies met buksies soos Volkswagen se T-Cross, Hyundai se Venue en Renault se Captur – maar sy ontwerp is heel uniek en tref mooi onderskeid sodat hy nie wegraak nie. Die binneruim is doelgerig en nie vol fieterjasies nie. Mens kry dadelik die gevoel van ʼn lekker duursame, sterk binneruim wat ná jare lange gebruik deur ʼn gesin net ʼn skoonmaak sal kort – dan’s hy dooddollies.
Die 1.6-viersilinderturbodieselenjin bied ʼn matige 68 kW, maar ʼn baie sterk 230 Nm wat deur ʼn gladde vyfspoedhandrat krag na die voorwiele stoot. Die voordeel van die vyfspoed en die diesel is dat mens nie heeldag besig is om ratte te wissel nie. Die 230 Nm kan énige bult baasraak. Die lekkerste van alles is as mens bitter, bitter sag met hom werk, sal hy maar 4 ℓ/100 km sluk. Dis 25 km/ℓ. Dis fantasties. Nou ja, 0-100 km/h-snelrenne is nie sy forte nie, maar op die oop pad toer hy soos ʼn droom.
Die ritgehalte is heel lekker omdat hy op ʼn 16”-wiel met ʼn 60-profielband loop. Mens het nie vreeslike padhouvermoë van só ʼn buksie nodig nie, maar hy kan sy man staan in die segment. Die meeste Opels se stuurwiele sit lekker in mens se hand en gee goeie terugvoer van wat onder die motor aangaan.
Die Crossland X het ses lugsakke, ABS, EBD, stabiliteit en vastrapbeheer. Dus is hy net so veilig soos enige van sy mededingers in die segment. Opel is die afgelope jare deur diep water en is gereeld ʼn vergete Duitse handelsmerk. Ek onthou toe ek ʼn laaitie was, het die Monza en toe die Astra soos soetkoek verkoop. Hulle verdien beter markaandeel met hul huidige produkte.
Die reeks lyk só:
Opel Crossland X 1.2 Essentia | 60 kW/118 Nm | 5.1 ℓ/100 km | R275 000 |
Opel Crossland X 1.2 Enjoy | 60 kW/118 Nm | 5.1 ℓ/100 km | R296 000 |
Opel Crossland X 1.6TD Enjoy | 68 kW/230 Nm | 4.4 ℓ/100 km | R349 000 |
Opel Crossland X 1.2 Turbo Enjoy outo | 81 kW/205 Nm | 5.4 ℓ/100 km | R349 000 |
Opel Crossland X 1.2 Turbo Cosmo outo | 81 kW/205 Nm | 5.4 ℓ/100 km | R399 000 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en 3 jaar/60 000 km-diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Ford EcoSport 1.5TDCi Ambiente | 74 kW/205 Nm | 5.3 ℓ/100 km | 4 jaar/120 000 km-waarborg 4 jaar/60 000 km-diensplan | R289 900 |
Renault Captur 66kW/ dCi Dynamique | 66 kW/220 Nm | 4 ℓ/100 km | 5 jaar/150 000 km-waarborg 3 jaar/45 000 km-diensplan | R333 900 |