Dié soort nou yl gesaai

Die Opel Crossland X. Foto: Verskaf

Die Dieselgate-skandaal in 2015 het Volkswagen miljarde uit die sak gejaag en ʼn klomp lede van die senior bestuur is vervolg.

Die letsels van Dieselgate begin nou wys met die pendulum wat teruggeswaai het in die guns van petrol – veral by klein motors. Dis ʼn jammerte – ek hou bitter baie van ʼn klein dieseltjie, ek self het al drie 1.4-HDi’s besit. Já – in die begin moes mens hulle laat versien dat dit klap, maar soos met enige tegnologie het van die vervaardigers hulle baasgeraak, en dán het mens gesit met ʼn lekker tjor, wat 4.2 ℓ/100 km bied – en slegs elke 20 000 km versien moes word. Die besparings was enorm.

Ongelukkig is daar bitter min nuwe klein dieseltjies. Klein turbopetrolenjins is nou aan die orde van die dag. Van hulle is oukei, maar die meeste van hulle kort nog werk. Gelukkig is dit nie die geval met dié Opel Crossland X 1.6 TD Enjoy nie. Dis ʼn piepklein sportnutserige kruismodel, met ʼn lekker 1.6-viersilinderturbodieselenjin.

Die Opel Crossland X. Foto: Verskaf

Aan die buitekant deel die Crossland X soortgelyke proporsies met buksies soos Volkswagen se T-Cross, Hyundai se Venue en Renault se Captur – maar sy ontwerp is heel uniek en tref mooi onderskeid sodat hy nie wegraak nie. Die binneruim is doelgerig en nie vol fieterjasies nie. Mens kry dadelik die gevoel van ʼn lekker duursame, sterk binneruim wat ná jare lange gebruik deur ʼn gesin net ʼn skoonmaak sal kort – dan’s hy dooddollies.

Die 1.6-viersilinderturbodieselenjin bied ʼn matige 68 kW, maar ʼn baie sterk 230 Nm wat deur ʼn gladde vyfspoedhandrat krag na die voorwiele stoot. Die voordeel van die vyfspoed en die diesel is dat mens nie heeldag besig is om ratte te wissel nie. Die 230 Nm kan énige bult baasraak. Die lekkerste van alles is as mens bitter, bitter sag met hom werk, sal hy maar 4 ℓ/100 km sluk. Dis 25 km/ℓ. Dis fantasties. Nou ja, 0-100 km/h-snelrenne is nie sy forte nie, maar op die oop pad toer hy soos ʼn droom.

Die Opel Crossland X. Foto: Verskaf

Die ritgehalte is heel lekker omdat hy op ʼn 16”-wiel met ʼn 60-profielband loop. Mens het nie vreeslike padhouvermoë van só ʼn buksie nodig nie, maar hy kan sy man staan in die segment. Die meeste Opels se stuurwiele sit lekker in mens se hand en gee goeie terugvoer van wat onder die motor aangaan.

Die Crossland X het ses lugsakke, ABS, EBD, stabiliteit en vastrapbeheer. Dus is hy net so veilig soos enige van sy mededingers in die segment. Opel is die afgelope jare deur diep water en is gereeld ʼn vergete Duitse handelsmerk. Ek onthou toe ek ʼn laaitie was, het die Monza en toe die Astra soos soetkoek verkoop. Hulle verdien beter markaandeel met hul huidige produkte.

Die reeks lyk só:

Opel Crossland X 1.2 Essentia60 kW/118 Nm5.1 ℓ/100 kmR275 000
Opel Crossland X 1.2 Enjoy60 kW/118 Nm5.1 ℓ/100 kmR296 000
Opel Crossland X 1.6TD Enjoy68 kW/230 Nm4.4 ℓ/100 kmR349 000
Opel Crossland X 1.2 Turbo Enjoy outo81 kW/205 Nm5.4 ℓ/100 kmR349 000
Opel Crossland X 1.2 Turbo Cosmo outo81 kW/205 Nm5.4 ℓ/100 kmR399 000

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en 3 jaar/60 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford EcoSport 1.5TDCi Ambiente74 kW/205 Nm5.3 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R289 900
Renault Captur 66kW/ dCi Dynamique66 kW/220 Nm4 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R333 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.