Die SYM CitiCom S 300i – ʼn praktiese pendelfiets

Die SYM CitiCom S 300i. Foto: Brian Cheyne

Ek wonder altyd hoekom ons Suid-Afrikaners so gal braak oor bromponies. Dalk as ons ʼn beter naam as bromponie uitgedink het, was die persepsie anders.

Ek het ʼn week deurgebring op die SYM CitiCom S en tot die slotsom gekom dat ons iets groots miskyk.

ʼn Motorfiets, in sy mees basiese definisie, is tog ʼn fiets wat deur ʼn motor aangedryf word, nie waar nie? Daar is verskeie aspekte waarmee ʼn motorfiets soos die SYM ander meer tradisionele motorfietse troef.

Daar is die outomatiese ratkas wat die hele ry-ervaring eenvoudiger maak. In digte stadsverkeer kan jy net die krane oopdraai en gaan. Die SYM het ʼn 278cc‑enjin wat 21 kW ontwikkel. Ek was verbaas oor hoe vinnig die CitiCom versnel het. Op die N1 het die SYM regtig moeiteloos by die verkeer bygebly en kon maklik die spoedgrens handhaaf. Die enjintjie het glad nie vermoeid gevoel nie, en ek reken die vervaardiger se geraamde topspoed van 140 km/h is heel konserwatief geskat.

Die SYM CitiCom S 300i het ʼn lywige holte onder die sitplek. Foto: Brian Cheyne

Dan is daar die bagasie wat deel is van hierdie klas fiets. Die SYM het ʼn lywige holte onder die sitplek en ʼn kleiner paneelkissie voor die ryer. Die paneelkissie is sluitbaar en het selfs ʼn 12V‑sok waar jy jou foon kan laai. Onder die sitplek is daar genoeg plek om ʼn valhelm te stoor en as jy mooi werk, dalk nog brood en melk ook. Op ʼn sportfiets is daar skaars plek vir jou beursie onder die saal.

Met ons laatmiddag donderbuie nou weer deel van die daaglikse roetine, sal ek veel eerder op die SYM wil wees as op ʼn sportfiets. Jy kan maar deur ʼn plassie water ry en net die onderkant van die fiets word nat. Jy sit ook meer gemaklik, alhoewel die SYM nie juis veel beweging vir my voete gebied het nie.

Wat hierdie model bietjie bo die ander modelle laat uitstaan, is sy 16”‑wiele. Dit stryk die hobbels op die pad mooi uit, maar sy kort as-afstand maak die CitiCom effe senuweeagtig as die padoppervlak begin sleg word. Dit demp egter nie geesdrif waarmee die SYM kan ry nie.

Die remme op die SYM is aanmekaar gekoppel. Jy kan maar enige een van die twee remhefbome trek om beide die voor- en agterremme te aktiveer. Ek verstaan net nie mooi hoekom mens dan steeds twee hefbome nodig het nie.

Die SYM CitiCom S 300i. Foto: Brian Cheyne

Ek het my tyd met die SYM baie geniet. Dit is rats genoeg vir enige tipe verkeer en klein genoeg om deur die nouste van gapings te glip. Vir mense wat al motorfiets gery het en dalk tentatief hulle terugkeer oorweeg, is die SYM CityCom die ideale beginpunt. Dit is ʼn verspot maklike fiets om te ry en is ongelooflik prakties.

Ek het na ʼn week se uiters entoesiastiese ryery steeds 32km/ℓ gekry. Sou ek kar ry, met die afstande wat ek ry, kan dit maklik ʼn verskil van R1 000 per maand maak. Gaan kyk maar gerus, die SYM maak baie sin.

Kyk hier na die produkblad.

Die feite:

Enjin278cc enkel silinder met brandstofinspuiting
Gewig (droog)205 kg
Kraglewering28.8kw @ 7 750 rpm
Wringkrag27.5 Nm @ 6500 rpm
Tenk kapasiteit10 ℓ
Saalhoogte800 mm
PrysR54 995

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Inge ·

Lyk baie oulik maar vir daardie prys koop ek maar eerder ‘n tweede handse klein motortjie.

Marcel ·

Dit is juis die probleem met ‘n scooter, die prys….. Vir daai prys kan mens maklik ‘n 2de handse lekkerder fiets optel, dalk GS800 of selfs ‘n 600 super bike. As jy hulle mooi ry gaan jy ook by die 20km/l kan kry en naweke ‘n lekker speelding hê.

anton ·

Marchel as jy n Gs 800 kan optel vir daai prys, kan ek jou verseker val hy uitmekaar.
Miskien eerder n Gs 1150 of moontelik n baie ou Gs.1200 model.
Maar stem saam dat jy n beter speelding/ryding sal hê.

Magda ·

Baie duur vir n pendelfietsie. As jy net werk toe en terug wil ry, is die heeltemal belaglik. Die Big Boy RTS 170 kos R 17,000 nuut en gee my 37 km /l. Ek spaar R 1800 per maand plus tolhekke en parkering. En ek het steeds 2 motors as dit regtig so hard reë dat ek nie kan motorfiets ry nei.

Johan ·

Ek wonder altyd oor beskikbaarheid van parte en die pryse daarvan. Dit raak gewoonlik n nagmerrie wanneer daar fout kom. Dit is of ondenkbaar duur om die goed aan die gang te hou, of daar is net geen parte beskikbaar nie. Ondervinding sê vir my om maar versigtig te wees met bromponies.

Brian Cheyne ·

Magda, SYM het ‘n soortgelyke kapasiteit fiets, die Fiddle, wat ook R17000 kos. Onthou net, die CitiCom is ‘n heelwat groter fiets met baie meer woema!

Johan, om jou vraag te beantwoord: SYM is ‘n Taiwanese vervaardiger wat lank Honda’s aanmekaar gesit het, so hulle het ‘n ding of twee geleer van kwaliteit. SYM word plaaslik ingevoer deur Kawasaki SA, en het 44 handelaars landwyd. Jy behoort nie probleme te ervaar met onderdele nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.