Die tjor wat nie goedkoop voel nie…

(Foto: Verskaf)

Sou ek ʼn motorvervaardiger wees met ʼn model in die intreesegment, dink ek sou my strategie wees om ʼn buksie te ontwerp waarvan die proporsies klein is, maar wat glad nie soos ʼn klein karretjie voel nie. Dit moet nie ʼn straf wees om met ʼn A-segment karretjie te ry nie… Gelukkig het Kia my voorgespring.

Die Kia Picanto is al geruime tyd op my radar. Sedert sy plaaslike bekendstelling in 2004 het die Picanto net van krag tot krag gegaan en sedertdien al derduisende Picanto’s verkoop. Kia het ons onlangs genooi om te kyk na hul jongste Picanto… die X-LINE. Dit is ʼn Picanto met ʼn mooi pak aan wat hom taaier laat lyk, soos ʼn kruismodel.

Die Picanto is beskikbaar in ʼn reeks kleure. Ja, daar is die vervelige wit en silwer, maar daar is ook ʼn fantastiese rooi, geel, groen en oranje. Die ontwerp aan die eksterieur is werklik mooi. Nie net mooi vir ʼn klein karretjie nie – maar voorwaar mooi. In die binneruim kry ʼn mens meer daarvan. Kia het nie in die afgelope paar jaar verniet klomp ontwerp-toekennings opgeraap nie.

Kia is ook ʼn handelsmerk wat al vir jare bó aan JD Power se aanvanklike kwaliteitstudie is, en ʼn mens kan dit voel. Dit is ʼn mooi kajuit wat slim uitgelê is. Alles is ergonomies binne die bestuurder se reik geplaas, en die spesifikasievlak beïndruk. Daar is outomatiese ligte, klimaat beheer, ʼn 8”-raakskerm wat met Apple Carplay en Android Auto toegerus is.

(Foto: Verskaf)

Die X-LINE word aangedryf deur Kia se aangename atmosferiese 1,2 viersilinderpetrolenjin. Die motor het ʼn 5-spoed handratkas met seepgladde aksie, én ʼn lekker ligte koppelaar. Dít, gepaard met goeie kalibrasie van die versneller en ʼn ligte stuurgevoel bied ʼn puik bestuurservaring in en om die dorp, én op die oop pad.

Op die pad ry die Picanto lekker sag en die sitplekke bied goeie steun, al is ek nie gaande oor die kunsleer wat op die sitplekke gebruik word nie. Indien daar ʼn opsie is vir doodgewone bekleedsel sal ek dit beslis neem want ʼn mens sweet maklik op kunsleer.

Dit is baie maklik om die Picanto op te som. Dit is ʼn goedkoper tjor waarvoor mens geen verskonings hoef te maak nie. Dit ry lekker, bied billike spasie en sterk spesifikasie. Dit is een van die min klein buksies waar mens trots kan voel oor die ontwerp… self ʼn bietjie wintie wees.

Die reeks lyk só:

Kia Picanto 1.0 Start49 kW/ 95 Nm5,0 ℓ/ 100 kmR187 995
Kia Picanto 1.0 Start outo49 kW/ 95 Nm5,3 ℓ/ 100 kmR201 995
Kia Picanto 1.0 Street49 kW/ 95 Nm5,0 ℓ/ 100 kmR201 995
Kia Picanto 1.0 Runner paneelwa49 kW/ 95 Nm5,0 ℓ/ 100 kmR207 995
Kia Picanto 1.2 Street61 kW/ 122 Nm5,0 ℓ/ 100 kmR210 995
Kia Picanto 1.0 Style49 kW/ 95 Nm5,0 ℓ/ 100 kmR211 995
Kia Picanto 1.0 Street outo49 kW/ 95 Nm5,3 ℓ/ 100 kmR215 995
Kia Picanto 1.2 Style61 kW/ 122 Nm5,0 ℓ/ 100 kmR220 995
Kia Picanto 1.2 Street outo61 kW/ 122 Nm5,9 ℓ/ 100 kmR224 995
Kia Picanto 1.0 Style outo49 kW/ 95 Nm5,3 ℓ/ 100 kmR225 995
Kia Picanto 1.2 Style outo61 kW/ 122 Nm5,9 ℓ/ 100 kmR234 995
Kia Picanto 1.2 X-Line61 kW/ 122 Nm5,0 ℓ/ 100 kmR237 995
Kia Picanto 1.2 X-Line outo61 kW/ 122 Nm5,9 ℓ/ 100 kmR251 995

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ onbeperkte km waarborg en 2 jaar/ 30 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Starlet 1.4 XS68 kW/ 130 Nm5,1 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

R219 500
Ford Figo Freestyle 1.5 Trend91 kW/ 150 Nm5,5 ℓ/ 100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

4 jaar/ 60 000 km diensplan

R241 100
Honda Jazz 1.2 Trend66 kW/ 110 Nm5,6 ℓ/ 100 km5 jaar/ 200 000 km waarborg

Geen diensplan

R245 600
Suzuki Vitara Brezza 1.5 GL77 kW/ 138 Nm6,2 ℓ/ 100 km5 jaar/ 200 000 km waarborg

4 jaar/ 60 000 km diensplan

R244 900
Volkswagen Polo Vivo 1.4 Mswenko63 kW/ 132 Nm5,9 ℓ/ 100 km3 jaar/ 120 000 km waarborg

Geen diensplan

R246 900
Fiat 500 TwinAir Star63 kW/ 145 Nm4 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

Geen diensplan

R250 900
Renault Sandero 66kW turbo Stepway TechRoad66 kW/ 135 Nm5,4 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km waarborg

2 jaar/ 30 000 km diensplan

R251 900

Slegs een van dié mededingers is ʼn opgepompte weergawe van die modelreeks en dis die Figo Freestyle. Dit is waarskynlik die naaste mededinger. Die Figo se enjin is baie sterk en kan nie geïgnoreer word nie. Die Brezza is ʼn baie groter voertuig teen die prys. Die Polo Vivo word plaaslik vervaardig en is ʼn uiters gewilde opsie. Die Fiat 500 bied sewe lugsakke en ʼn pragtige onwerp vir die geld. Daar is tonne opsies in dié prysklas. Maak vir jou ʼn kortlys en werk van daar af. Toetsbestuur beslis almal, want nie almal ry so lekker soos die Picanto nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

Ek ry ‘n ouer model en dit regtig ‘n aangename goeie rydding

koos ·

Onthou net, die huidige regime sê dankie vir die geweldige belastings wat by hierdie malpryse ingesluit is. Dink net watter verskil hierdie geld in jou pensioenfonds kan maak. En jy gaan meer terugkry as wat jy insit, nie soos met hierdie ding se herverkoopprys nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.