Dié trokkie kan werk  

Vir ʼn geruime tyd al is klein ondernemings se opsies as dit kom by ʼn klein trokkie ietwat beperk. Hyundai se H-100 en Kia se K2700 is rateltaai – amper onbreekbaar – maar sonder turbo’s is hul werklik verskriklik stadig. Kia het egter ʼn K2500 wat lekker krag bied, maar hy trek die skaal op R350 000.

Daar is wel nog ʼn opsie beskikbaar. Eintlik twee. Ons vergelyk hier spesifiek ʼn 1,5 ton-trokkie met ʼn valkantbak. Die twee opsies is JAC se X200 en JMC se Carrying. Ons het ʼn geruime tyd terug die Carrying onder hande gehad. Dié keer het ek hulp nodig gehad om te verhuis. JAC was gelukkig op presies die regte tyd met my in verbinding en die lorrietjie is gereël.

Die JAC X200 is ʼn 1,5 ton-bakkie met ʼn valkantbak. Hy word aangedryf deur ʼn 2.8-viersilinderturbodieselenjin wat 80 kW en 240 Nm bied. Krag word deur ʼn 5-spoed-handrat aan die agterwiele gestoot. JAC maak aanspraak op ʼn brandstofverbruiksyfer van 9,5 ℓ/100 km.

Met die eerste oogopslag sal ʼn leek dink dis ʼn Hyundai H-100 wat daar staan. Nie ʼn slegte ding nie – sulke trokkies moet eerder prakties wees as mooi. Die valkantbak se meganisme werk maklik en voel stewig gebou; reg om hard te werk.

Op die pad sonder vrag loop die X200 en rondhop, maar sodra daar ʼn bietjie gewig op die bak lê, raak die vering rustig. Enige eienaar van ʼn kleinsakeonderneming wil in elk geval hê die ding moet heeltyd werk – dis waarvoor hy gekoop is. Dis wel op die pad waar die X200 se sterkpunt na vore kom. Die enjin. Waar 80 kW dalk min klink, moet ʼn mens onthou dat ʼn Hyundai H-100 slegs 58 kW bied!

Die JAC het lekker hard gewerk. Nie net het ek verhuis nie, maar my buurman is besig om ʼn oerwoud uit te dun… en die Tshwane-metro se vullisdiens het gestaak, so die trokkie het ʼn paar trippies asgate toe agter die blad, hy was hardeware toe en het ʼn paar vragte vol meubels getrek.

Wat ek sal sê – die JAC is nie bang vir werk nie. Leeg kan hy ongemaklik raak, maar hy moenie leeg wees nie. As ʼn mens hom koud aansit, ruik hy heelwat na diesel en rook tot hy mooi warm is en as jy op die pad toer, rook hy glad nie. Die voordeel daar is dat die enjin nog op ou uitstoot-regulasies sal wees, en dus enige diesel kan gebruik sonder deeltjie-filters en uitlaatgaskleppe wat verstop. Die lugreëling is werklik fantasties, maar JAC moet bietjie verfyn aan die ratwisselingsaksie – hy kan partykeer sukkel om 3de rat mooi te vind.

Dit is maklik om die JAC X200 op te som. As dit kom by sulke kommersiële buksies is rand en sent belangrik. Die Kia se 5 jaar/onbeperkte km-waarborg is ongeëwenaard in die segment. Hyundai se 5 jaar/150 000 km-voertuig- en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg is ook sterk. Die JAC kom toegerus met ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en 5 jaar/60 000 km-diensplan. As die trokkie so hard werk soos enige eienaar sal wil hê hy moet, ry hy sommer daai 60 000 km in die eerste jaar op.

Die reeks lyk só:

JAC X200 Chassis Cab80 kW/240 Nm9,5 ℓ/100 km1 500 kg2785 mm lank

1 650 mm breed

355 mm diep

R284 900
JAC X200 Dropside80 kW/240 Nm9,5 ℓ/100 km1 500 kg2785 mm lank

1 650 mm breed

355 mm diep

R294 900
JAC X200 Double Cab80 kW/240 Nm9,5 ℓ/100 km1 500 kg2785 mm lank

1 650 mm breed

355 mm diep

R304 900
JAC X200 Tipper80 kW/240 Nm9,5 ℓ/100 km1 500 kg2785 mm lank

1 650 mm breed

355 mm diep

R324 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en 5 jaar/60 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

JMC Carrying SWB Dropside Lux84 kW/235 Nm8 ℓ/100 km1 600 kg3 100 mm lank

1 600 mm breed

380 mm diep

5 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km-diensplan

R253 880
Hyundai H-100 2.6D chassis cab (aircon)58 kW/167 Nm10,2 ℓ/100 km1 335 kg2 785 mm lank

1 630 mm breed

355 mm diep

5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R320 900
Kia K2500 2.5TD Workhorse Dropside96 kW/255 Nm9,4 ℓ/100 km1 000 kg2 810 mm lank

1 630 mm breed

355 mm diep

5 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R345 995

Tussen dié mededingers het die twee veterane hul staal en betroubaarheid al bewys. Die JAC en JMC bied beter krag teen ʼn aantrekliker prys en die 1,5 ton-laaikapasiteit is nie te versmaai nie. Moet nie die JAC miskyk as jy jou somme maak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frederik C ·

Maar duur vir so ‘n vreemde ding. Het verlede maand ‘n Kia gekoop vir R 297 000.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.