Die volmaakte ‘repmobile’?

“Repmobile” is die term wat gebruik word om ʼn motor te beskryf waarmee die meeste verkoopskonsultante duisende kilometers elke maand ry of wat as ʼn maatskappymotor gebruik word.

Daar is ʼn paar vereistes. Die voertuig moet eerstens lig wees op brandstof. Nie 12 km/l lig nie – nee, soos 20 km/l lig. Dit moet gemaklik wees. Dit moet goed toegerus wees en die belangrikste van als, dit hoef nie sportief of mooi te wees nie.

Kom ek verduidelik hoekom. ʼn Verkoopskonsultant moet nie ʼn jaagduiwel wees nie. Dit verwoes die brandstofverbruik en dit is ook uitputtend om elke dag te moet jaag. Partykeer wil ʼn mens net rustig van een kliënt na die volgende ry. Die lelikheid keer ook dat die voertuig dalk gesteel word, so hy is altyd presies waar jy hom gelos het en mense probeer hom nie kaap as jy nog binne-in hom sit nie – dis ʼn wen-wen-situasie.

Maar op ʼn ernstige noot. Ek het al drie Citroën C3 1.4-HDI’s besit. Ek’t baie gereis toe ek nog net ʼn konsultant was. Party maande lê ʼn mens tot 6 000 km af. Teen 22 km/l is dit aansienlik makliker om te sluk as ʼn 4.0-Prado wat moontlik 6 km/l gee.

Die Hyundai Creta is al die dinge. Hy word ondersteun deur ʼn sterk handelsmerk en handelaarsnetwerk met ʼn fantastiese waarborg en ʼn billike diensplan. Die binneruim is gemaklik, en afgesien van die wit leer behoort hy duursaam te wees. CarPlay en Android Auto verseker dat jou hande altyd bly waar hulle hoort – op die stuurwiel.

Die 1.5-viersilinderturbodieselenjin is heeltemal sterk genoeg teen 84 kW en 250 Nm. Die 6-spoed-outo wissel lekker glad ratte en hou die omwentelinge laag. Te danke aan die lae omwentelinge is die kajuit lekker stil en gemaklik.

Op die pad toer die Creta lekker sag en soepel. Padhouvermoë is heel goed vir dié soort voertuig. Die Hyundai spog met ʼn sterk veiligheidspesifikasie. Daar is ses lugsakke, sluitweerremme met remkragverspreiding en stabiliteitsbeheer.

Dit is maklik om die Creta op te som. Ek is onnodig lelik met die arme ou lelike eendjie, maar onder die vel is dit ʼn lekker ryding. Ongelukkig sterf diesel geleidelik uit en dis ʼn jammerte, want die Creta is fantasties lig op brandstof én gemaklik.

 

Die reeks lyk só:

Hyundai Creta 1.5 Premium84 kW/143 Nm6.5 l/100 kmR377 900
Hyundai Creta 1.5 Executive84 kW/143 Nm6.3 l/100 kmR432 900
Hyundai Creta 1.5D Executive84 kW/250 Nm5.9 l/100 kmR472 900
Hyundai Creta 1.4T Executive103 kW/242 Nm7.2 l/100 kmR487 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg, asook ʼn 4 jaar/60 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Renault Duster 1.5dCi Prestige80 kW/250 Nm4.8 l/100 km5 jaar/150 000 km- waarborg

3 jaar/45 000 km- diensplan

R374 900
Subaru XV 2.0i115 kW/196 Nm7.3 l/100 km5 jaar/150 000 km- waarborg

3 jaar/75 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R445 000
Kia Seltos 1.5CRDi EX+86 kW/250 Nm5.7 l/100 km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R463 995
Volkswagen T-Roc 1.4TSI 110kW Design110 kW/250 Nm6.2 l/100 km3 jaar/120 000 km- waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R489 400
Nissan Qashqai 1.5dCi Acenta Plus81 kW/260 Nm4.2 l/100 km6 jaar/150 000 km- waarborg

3 jaar/90 000 km- diensplan

R505 300

Tussen dié mededingers is die Renault Duster voorwaar ʼn winskoop, maar die ander voertuie se binneruimgehalte is beslis beter. Die T-Roc is ʼn lieflike produk teen die prys, en die Subaru XV bied ʼn skrikwekkende 7 lugsakke én vierwielaandrywing teen ʼn puik prys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jack

‘n Half miljoen Rand vir ‘n viersilinder karretjie< Dis buitensporig duur. My eerste vier silinder karretjie, 'n Borgward Arabella, het my R1400 gekos.