Die vrou agter die Ferrari, Chanelle Zackey

Deur Danielle Kleyn

(Foto: Okay Deer)

Chanelle Zackey is die ideale voorbeeld van iemand wat heel onder begin het en gegroei het na waar sy vandag is. Haar storie het begin toe sy besluit het om ’n BA-graad in korporatiewe kommunikasie aan die Universiteit van Johannesburg te doen. Nadat sy haar graad voltooi het, was sy oortuig dat deure links en regs vir haar sal oopgaan en sy het doelgerig vir ’n verskeidenheid vakante poste aansoek gedoen. Tot haar teleurstelling het sy geen positiewe terugvoer ontvang uit die sowat 20 poste waarvoor sy aansoek gedoen het nie.

“Ek onthou dat ek heeltemal hopeloos en moedeloos gevoel het. Hoe moes ek ’n loopbaan sonder enige ervaring begin bou as niemand my ’n kans wou gee nie? Waar moet ’n mens begin?”

Uit desperaatheid om ten minste ’n inkomste te verdien, het sy vir ’n administratiewe pos wat ’n vriendin op Facebook geplaas het, aansoek gedoen. Sy is vir ’n onderhoud genooi en het die werk losgeslaan.

In Junie 2012 gebeur iets wat sy nooit sou kon voorsien nie: Sy word ’n posisie as bemarkingsassistent by Ferrari Suid-Afrika aangebied. Dit was maar net die begin van groot dinge. Sy vier vanjaar haar negende jaar by Ferrari SA. Alhoewel Chanelle nie van mening is dat daar ’n enkele resep vir sukses is nie, glo sy vas dat jy in enige industrie kan uitblink indien jy vasbeslote en konsekwent werk en die geleenthede wat aan jou verskaf word, maksimaliseer.

Chanelle is al met ’n string toekennings vereer. Haar departement word in Januarie 2015 bekroon as Topbemarkingspresteerder deur Ferrari Midde-Ooste, Afrika en Indië. In Oktober 2018 ontvang sy die Global Ferrari Testa Rossa-toekenning vanaf Ferrari S.p.A. vir topbemarkingsbestuurder. In 2018 en 2019 word Chanelle deur Avance Media as een van die 100 mees invloedryke jong Suid-Afrikaners in die besigheidskategorie benoem. Sy is in 2019 boonop beloon met die Bemarkingsprestasietoekenning by die Motoring Women of the Year-toekennings. Chanelle het boonop naam gemaak as ’n spreker by verskeie geleenthede, onder meer as aanbieder en gasspreker by die BNC Technology CPD Conversations Conference en as gasspreker by een van Women Torque se Vrouemaand-geleenthede.

Vir Chanelle is ’n basiese roetine belangrik en sy erken dat sy ’n skepsel van gewoonte is. Alhoewel die aard van haar werk soms die verloop van haar dae onvoorspelbaar maak, probeer sy soveel as moontlik ’n gesonde oggendroetine volg. Sy staan 05:00 op en mediteer of oefen. Wanneer sy 07:45 by die werk kom, maak sy eers ’n koppie koffie of tee voor sy aan die werk spring. Maar wat is die take van die nasionale bemarkingsdirekteur van Ferrari SA? In ’n neutedop is sy verantwoordelik vir die strategiese ontwikkeling van bemarkingsplanne om verkope te maksimaliseer en doelwitte te bereik. Sy hou ook toesig oor en bestuur alle funksies van bemarking en kliënteverhoudinge in die ganse handelaarsnetwerk in Johannesburg, Durban en Kaapstad.

Chanelle is dankbaar vir die vele geleenthede wat sy gehad het om die wêreld te sien en om die kennis van briljante mentors op te slurp, maar haar gunstelingaspek van haar werk is die span saam met wie sy werk.

“Ons het almal ’n sterk gevoel van behoort, ons hou van uitdagings en soek altyd deurlopende maniere om onsself en ons besigheid te bou. In die woorde van die voormalige Ferrari-president, Luca Cordero di Montezemolo: ‘Ons verkoop nie net ’n kar nie, ons verkoop ’n droom’.”

Nes baie entrepreneurs put Chanelle inspirasie uit podsendings en boeke. Haar Bybel is haar padkaart, maar sy geniet ook boeke soos Lean In deur Sheryl Sandberg, asook Robin Sharma se The Leader Who Had No Title en The 5 AM Club. Sy luister graag na Jay Chetty, Robin Sharma en Joel Osteen se podsendings. Daar is verskeie dinge wat haar motiveer, onder meer, haar en haar familie se welstand, om onafhanklik te wees en natuurlik om ’n verskil in ander se lewens te maak.

Sy beklemtoon die belangrikheid daarvan om ’n werk-huis-balans te hê: “Jy moet jouself druk, want niemand gaan dit vir jou doen nie. Bygesê, moet jy ook weet wanneer om te rus en tyd af te neem.”

(Foto: Okay Deer)

Omdat daar ’n tyd was toe Chanelle rigtingloos gevoel het en gevrees het dat sy nooit ’n beroep sou vind wat verwesenlik is nie, het sy haarself belowe dat sy daarna sal streef om ’n verskil in ander mense se lewens te maak.

Die mees verwesenlike projek wat sy tot dusver aangepak het, is die Ferrari-internskapprogram wat sy in 2017 tesame met haar hoofbedryfsbeampte, Jan Ungerer, van stapel gestuur het. Hierdie projek het ten doel om jong, ambisieuse en passievolle individue die geleentheid te gee om op ’n operasionele vlak van die handelsmerk te leer en meer oor die holistiese sakemodel te leer.

“Dit is werklik lonend om passievolle, hardwerkende en vasberade individue te bemagtig en te ondersteun terwyl hulle die eerste stap neem om hul loopbane te bevorder.”

Enige planne vir haar toekoms? Chanelle is baie passievol oor die Ferrari-handelsmerk en sal graag selfs verder in die maatskappy wil groei. Haar langtermyndoelwit is om ’n boek te skryf en te publiseer. Aangesien Chanelle passievol daaroor is om die jeug te bemagtig en op te lei, oorweeg sy ook die moontlikheid om in die toekoms ’n mentorskap-akademie te stig.

Een ding is vir seker: Chanelle Zackey is ’n vrou wat nog hoë hoogtes gaan bereik!

  • Die artikel is verskaf deur Stigter,’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ’n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Enzo Ferrari sou trots op jou wees, wat ‘n inspirerende verhaal. Veels geluk!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.