Dié VW-sportnuts onderskat

Die Volkswagen Touareg V6 TDI. (Foto: Verskaf)

Motoriste word deesdae gepeper met opsies. Daar is voertuie van elke denkbare grootte, enjin opsies, viertrekvoertuie, groot of klein, petrol, diesel of elektries – dis fantasties dat daar soveel is om van te kies en te keur. Daar is wel ʼn uiters bekwame sportnutsvoertuig wat stilletjies in sy hoek sit, sonder om te veel geraas te maak.

Welkom aan die Volkswagen Touareg V6 TDI Executive. Dit is ʼn volgrootte viertreksportnutsvoertuig van VW. Hy loop met hul puik 3.0 V6-turbodieselenjin wat 190 kW en 600 Nm bied. Volkswagen maak aanspraak op ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 7,1 ℓ/ 100 km en ʼn indrukwekkende topspoed van 235 km/h.

Dit klink alles moontlik goed, maar die eindresultaat is veel meer as dit. Die ontwerp is uiters netjies en die binneruim voorwaar luuks. Die enorme raakskerms wat reg oor die paneelbord vloei, is fantasties – al verkies ek knoppies vir sekere verstellings bo ʼn raakskerm. Die Touareg kom met ʼn indrukwekkende spesifikasievlak met geakklimatiseerde sitplekke voor, ʼn enorme panoramiese sondak en ʼn asemrowende Dynaudio-klankstelsel. Agt lugsakke, ABS met EBD, vastrap- en stabiliteitsbeheer rond die veiligheidstelsels mooi af.

Op die pad is waar die Touareg begin uitblink. Lugvering sorg dat die Touareg soos ʼn droom toer op die oop pad. Die V6 voorsien meer as genoeg krag sonder om te dors te wees én hy kan ʼn indrukwekkende 3 500 kg sleep! Al is die vering lieflik soepel, kan die enorme 21”-wiele hier en daar bietjie lomp en swaar voel, maar dit is ongelukkig so by die meeste groot sportnutsvoertuie deesdae.

Die Touareg is ietwat van ʼn verfrissende verrassing. ʼn Mens is gewoond aan die algemene keuses soos BMW se X5 en Mercedes-Benz se GLE, maar verbasend genoeg kan die Touareg sy man staan tussen die uitgesoekte handelsmerke.

Die reeks lyk só:

Volkswagen Touareg V6 TDI LuxuryR1 178 600
Volkswagen Touareg V6 TDI ExecutiveR1 354 500

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Land Cruiser Prado 3.0DT VX-L120 kW/400 Nm8,5 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

9-dienste-diensplan

R1 073 100
Audi Q7 45TDI Quattro183 kW/600 Nm6,3 ℓ/100 km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R1 136 500
Jaguar F-Pace 30d AWD R-Sport221 kW/700 Nm6 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R1 236 232
BMW X5 xDrive 30d M Sport195 kW/620 Nm7 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R1 400 382
Porsche Cayenne250 kW/450 Nm9,2 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R1 419 000
Mercedes-Benz GLE400d 4Matic243 kW/700 Nm7,5 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan

R1 535 240

Die mededingers verskil nogal heelwat van mekaar. Die Toyota is ʼn winskoop, maar sy viersilinderdieselenjin kan nie kers vashou by die ander nie. Die X5 bly een van my gunstelinge en die Mercedes-Benz is swaar op brandstof en effe duur tussen sy mededingers. Die Touareg, Q7 en Cayenne deel almal dieselfde platform.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

En al is die Toyota se enjin kleiner, verkoop hy baie meer. Daar is niks fout met die VW nie, maar in hierdie mark is dit die X5 of Merc aan die een kant (stadsvoertuie?) en die Prado aan die ander kant (Plaaswerk voertuie?) en alles tussen in vaag bietjie weg, wat baie jammer is. Ek is die tipe persoon wat die tussen in weg gewoonlik sal opsoek, juis omdat ek nie gewoonlik die stroom wil volg nie. Dis miskien bietjie dom, maar dit is maar hoe ek is.
Audi het met sy vorige Q7 uit gestaan met die masiewe V8 en V10 enjins, en maggies, hulle het geloop, maar nou ja, dis ons ook nie meer beskore nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.