Dís mos ʼn bus!

Die bussegment is eintlik ietwat van ʼn ongeliefde stiefkind. Daar is nou nie juis duisende opsies nie, én busse is regtigwaar duur. Vanjaar het ons wel die toevoeging van ʼn outomatiese ratkas by Ford se Tourneo Custom gesien, en Volkswagen het hul nuutste Caravelle bekendgestel.

Mercedes-Benz meen dit is steeds nie genoeg liefde nie. Die luuksste bus tot dusver was Merc se V250d in Avantgarde-spesifikasie. Nou het Mercedes-Benz uiteindelik die luuksste van almal gewys –hul V300d Exclusive. ʼn Pragtige bus waar daar sommer met die eerste oogopslag gesien kan word dat mens in weelde kan karwy.

Die binneruim is wel steeds bus. Dit is vorm eerste, voor ontwerp. Die ding moet tog prakties wees. Daar is sewe lieflike individuele leersitplekke, in die derde ry kyk drie vorentoe, in die tweede ry kyk twee agtertoe (wat mens kan omdraai) en voor is die twee sitplekke vir mamma en pappa. Daar is ʼn tafeltjie waarby ʼn mens of kinders allerhande dingetjies kan uitvoer en daar is USB-poorte en lugreëlingluggate vir ʼn vale.

ʼn Fantastiese affêre maak die kattebak uniek. Die glas kan apart oopmaak as ʼn mens nie die hele reusedeur wil oopmaak net vir ʼn skootrekenaar of só nie, en bo-op die stellasie is twee mandjies wat goed slim vashou. Indien ʼn mens groot koffers of inkopies het, maak die groot deur elektronies oop en toe. Albei kantdeure maak self elektronies oop en toe met die druk van ʼn knoppie óf by die deure, voor in die kajuit óf op die sleutel. Die jongste opknapping kry wel nou ʼn nuwer weergawe van Merc se MBUX-inligtingstelsel – ʼn ware aanwins vir die produk.

Dit bring my by die grootste opknapping op dié bus. Die enjin. Ek het al Benz se 300d-enjin ervaar in ʼn ander produk, die GLC 300d koepee. Dit was ʼn juweel daar, en is presies só hier. Dit is ʼn monster van ʼn viersilinderturbodieselenjin wat 176 kW en 500 Nm bied.

Hy loop seepglad en sou ʼn mens die versneller begrawe ry jy skielik ietwat van ʼn bus-AMG! 0 – 100 km/h neem ʼn komieklike 7,8 sekondes, en die V300d sal aanhou hol tot 220 km/h. My kinders sal gaande wees daaroor, maar ek is bevrees dat vroulief op 160 km/h al sou flou word. Darem sal die kinders vroeg wees vir skool.

Op die pad beïndruk die V300d nes ʼn Mercedes kan. Busse is redelik groot en gewoonlik kan hulle lomp voel. Nie die V-klas nie. Dit ry soos ʼn droom, al kan die ritgehalte effe hard voel – maar dit is nodig vir die padhouvermoë om reg te wees. Dit is verstommend hoe min bakrol daar in só ʼn bussie kan wees.

Dit is baie maklik om die V300d op te som. Dit is ʼn pragtige bus, met luukshede vir ʼn vale. Aan die ander kant is dit regtig bitter baie geld. Vir dié wat dit het, en ʼn behoefte het vir ʼn sewesitplekbus – dié bus sal jou nie teleurstel nie.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz V200d100 kW/ 330 Nm6,5 ℓ/ 100 kmR1 055 330
Mercedes-Benz V220d120 kW/ 380 Nm6,4 ℓ/ 100 kmR1 103 389
Mercedes-Benz V200d AMG Line100 kW/ 330 Nm6,5 ℓ/ 100 kmR1 129 055
Mercedes-Benz V220d AMG Line120 kW/ 380 Nm6,4 ℓ/ 100 kmR1 177 114
Mercedes-Benz V250d140 kW/ 440 Nm6,5 ℓ/ 100 kmR1 186 757
Mercedes-Benz V250d AMG Line140 kW/ 440 Nm6,5 ℓ/ 100 kmR1 260 482
Mercedes-Benz V220d Avantgarde120 kW/ 380 Nm6,4 ℓ/ 100 kmR1 441 172
Mercedes-Benz V250d Avantgarde140 kW/ 440 Nm6,5 ℓ/ 100 kmR1 492 746
Mercedes-Benz V220d Avantgarde AMG Line120 kW/ 380 Nm6,4 ℓ/ 100 kmR1 499 104
Mercedes-Benz V250d Avantgarde AMG Line140 kW/ 440 Nm6,5 ℓ/ 100 kmR1 550 678
Mercedes-Benz V300d Avantgarde176 kW/ 500 Nm7,8 ℓ/ 100 kmR1 554 204
Mercedes-Benz V300d Avantgarde AMG Line176 kW/ 500 Nm7,8 ℓ/ 100 kmR1 635 183
Mercedes-Benz V300d Exclusive176 kW/ 500 Nm7,8 ℓ/ 100 kmR1 788 060

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford Tourneo Custom 2.0 SiT SWB Limited outo136 kW/ 415 Nm6,7 ℓ/ 100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

6 jaar/ 90 000 km diensplan

R763 200
Kia Grand Sedona 2.2CRDi SXL147 kW/ 440 Nm8 ℓ/ 100 km5 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km diensplan

R910 995
Toyota Quantum VX 2.8 Premium115 kW/ 420 Nm8,7 ℓ/ 100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

9 dienste diensplan

R985 600
Volkswagen Caravelle 2.0BiTDI 146kW Highline 4Motion146 kW/ 450 Nm8,2 ℓ/ 100 km3 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 60 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 166 600

Nie een van dié is werklik ʼn direkte mededinger nie, maar dit is die luuksste opsies van dié wat bussies bied, alhoewel die Quantum in seker opsigte luukser is as die Mercedes-Benz, veral met daai lieflike twee elektriese rusbanke in die tweede ry sitplekke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Moedeloos ·

Hmmm as my Van nou iets met Cupta te doene gehad het, het ek so bussie vir my aangeskaf☺

Liesel ·

Mens ry dan in ‘n huis rond, jy koop hom seker in plaas van ‘n huis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.