Dís mos nou ʼn Cruiser

(Foto: Verskaf)

Toyota se Land Cruiser Prado is nou al ʼn geruime tyd op my radar. Dit is ʼn lieflike gesinsbuks met sitplek vir sewe, rateltaai veldryvermoë en ongeëwenaarde herverkoopwaarde. Die Prado het wel in van sy klante se oë een probleem gehad – sy 3.0 D-4D-kragbron met 120 kW en 400 Nm was effens lig in die broek.

Ek het tyd met die Prado deurgebring, en ek was nie oortuig daarvan dat krag heeltemal voldoende was nie. Hy’t lekker karavaan gesleep, lieflik duine gery en kon op amper enige diesel loop, maar – en dis ʼn groot maar – die nuwe 2.8-enjin en 6-spoed- outomatiese ratkas is ʼn revolusionêre verbetering.

Die ontwerp is grootliks onveranderd. Die Prado behou steeds sy konserwatiewe, dog aantreklike, voorkoms. Die binneruim is wel Japannees, maar propvol luukse truuks, en alles is ergonomies uitgelê. Daar is verhitte en verkoelde sitplekke, CarPlay en Android Auto, Toyota Safety Sense met sy botsingswaarskuwing en noodremhulp, ʼn magdom lugsakke, leerbekleedsel en ʼn sondak. Die lys is eindeloos.

Meer dan oor daai juweel van ʼn kragbron: ʼn Viersilinderturbodiesel is geneig om grof voor te kom. Die motor klink maklik trekker-agtig en bied eerder voldoende krag as oorgenoeg. Toyota het egter vir hul nuutste reeks opknappings aan die Hilux, Fortuner en Prado al die hase uit die hoed geruk. Die nuwe 2.8 het ʼn balanseringstaaf wat amper al die vibrasie uitskakel, dit het ʼn nuwe silinderkop en turbo- en aangepaste pistons. Die nuwe 2.8 GD-6 voel eenvoudig sterker as die 150 kW en 500 Nm wat Toyota sê hy bied. Dit, gepaard met die nuwe 6-spoed-outo, maak die Prado baie ligter op diesel as sy voorganger.

Op die pad voel ʼn mens ook gou tuis. Die stiller kajuit toer lieflik, en die Prado het ook meer 4×4-truuks in sy mou as waarvan die meeste eienaars weet. Aan die veiligheidskant is daar lugsakke, baanbeheer, blindekolwaarskuwing, noodremhulp – de lot.

Dit is bitter maklik om die Prado op te som. Dit is luuks, ry soos ʼn droom en het fantastiese waardevermindering en dit is minder van ʼn diefstal- en kapingsrisiko as ʼn Fortuner. Ek kan aan geen rede dink hoekom ʼn mens nie na ʼn Prado moet kyk indien jy in die mark is vir dié tipe voertuig nie.

Die reeks lyk só:

Toyota Land Cruiser Prado 2.8GD TX150 kW/500 Nm7,9 ℓ/100 kmR958 700
Toyota Land Cruiser Prado 4.0 VX202 kW/381 Nm11,3 ℓ/100 kmR1 049 600
Toyota Land Cruiser Prado 2.8GD VX150 kW/500 Nm7,9 ℓ/100 kmR1 081 800
Toyota Land Cruiser Prado 4.0 VX-L202 kW/381 Nm11,3 ℓ/100 kmR1 094 100
Toyota Land Cruiser Prado 2.8GD VX-L150 kW/500 Nm7,9 ℓ/100 kmR1 127 900

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 9-dienste-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford Everest 2.0Bi-Turbo 4WD Limited157 kW/500 Nm7,6 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

6 jaar/90 000 km-diensplan

R819 400
Land Rover Defender 110 D240177 kW/500 Nm7,7 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 107 142

Die Everest is nie ʼn ware direkte mededinger vir die Prado nie, maar hy boks bo sy gewigsklas teen die Fortuner. Die Prado en die Defender is werklike mededingers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

absoluutgatvol ·

Vir die eerste keer ooit ‘n waardige diesel kragbron in die Prado.
Die begroting is net wyd.

quartus ·

Die verskriklike prys sal baie mense verhinder om die voertuig te koop

Danie ·

“…en het fantastiese waardevermindering…”
O julle is snaaks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.