Dís nie hoe ons Chery ken…

Chery was voorheen in Suid-Afrika beskikbaar en is nou weer terug.

Die voertuie was werklik nie fantasties nie en daar was destyds drie modelle – ʼn QQ3, J2 en Tiggo. Die handelsmerk het verskeie tegniese uitdagings gehad, maar die publiek het steeds gehou van die uiters goeie waarde wat hul gebied het, en die tjorries gekoop.

My eerste toetsvoertuig van 2022 is Chery se nuwe Tiggo 4 Pro. Ons het die voertuig vinnig onder hande gehad by Gerotek, wes van Pretoria. Ek was werklik beïndruk, maar wou weet presies wat hy kos en vir ’n ruk met hom saamleef.

Die ontwerp is werklik netjies. Dit is ʼn B-segment‑sportnutsvoertuig met lekker proporsies en ʼn sportiewe voorkoms. Dit is egter aan die binneruim waar die Chery jou stomslaan. Dit lyk eerder soos ʼn luukse motor wat dekades se ondervinding agter die rug het.

Die Chery Tiggo 4 Pro se spesifikasievlak is fantasties! Daar is elke denkbare luuksheid. Apple CarPlay en Android Auto, spoedkontrole, leerbekleedsel, stembeheer, outomatiese ligte en ruitveërs – alles! Ek sal hier byvoeg dat die sitplekke met kunsleer oorgetrek is, en as die Suid-Afrikaanse son warm bak, dan sweet mens maklik.

Onder die kap skuil Chery se 1.5‑ turboaangejaagde viersilinderpetrolenjin. Die enjin bied ʼn indrukwekkende 108 kW en 210 Nm. Dis lekker sterk, maar die enjin kan effens grof voel as jy hard versnel. Die palwisseltransmissie (CVT) maak goeie werk van die wringkrag wat die enjin bied en as jy billik met die versneller werk, soek hy nie té erg rond nie. Waar die enjin wel vir my afronding kort, is in die brandstofverbruikafdeling. Ek het tydens my tyd met die Chery 9,3 l/100 km gehandhaaf. Dit is onaanvaarbaar vir ʼn klein voertuig. Ek het in Desember naby daai syfer gekom met ʼn enorme Land Cruiser.

Op die pad is die vering heel goed. Dalk effens styf, maar nie sleg nie. Die padhouvermoë is aanvaarbaar vir dié klas voertuig, maar die stuur kort ʼn bietjie kalibrasie. Dit is moeilik om die voertuig rustig in ʼn reguit lyn te hou. Hy wandel maklik, en op 0 grade het die stuur nie een of twee grade speling nie – elke inset is ʼn bietjie sensitief. Die stuur is ook te lig as jy rondry; dis amper asof hulle hom die lekkerste vir parkeer gestel het en hom daar gelos het. As hulle hom eerder kalibreer vir 120 km/h toer op die snelweg, sal hy rustiger raak – met ʼn swaarder stuurgevoel.

Die Tiggo spog met ses lugsakke, sluitweerremme, vastrapbeheer en remhulp – alles wat jy van ʼn moderne voertuig verwag. ʼn Pluimpie vir Chery is hul stembeheerstelsel. Dit is beter as wat ek al op enige ander voertuig teëgekom het. ʼn Mens kan sê: “Open my window a bit.” Dan gaan die bestuurder se ruit effens oop. “Open all the windows… Open the sunroof… Tune the radio to 90.5 MHz… Set the temperature to 21 degrees…” en só gaan dit aan. Ek het nie een keer gekry dat die kar my nie verstaan het nie – werklik fantasties.

Dit bring my by die Chery se opsomming. Dit is ʼn indrukwekkende verbetering op die Cherys wat ons in SA ken. Die voertuig bied sterk waarde, maar die segment is taai. Daar is ou name in die B-sportnutssegment, wat nie duurder geprys is nie. Ons weet nog nie hoe betroubaar die nuwe Chery gaan wees nie, en ons sal ook nog nie weet hoe waardevermindering gaan lyk nie; gaan toetsbestuur dus ʼn Tiggo 4 Pro, maar wees versigtig. Tyd sal leer.

Die reeks lyk só:

Chery Tiggo 4 Pro 1.5 Urban83 kW/138 NmR269 900
Chery Tiggo 4 Pro 1.5 Comfort83 kW/138 NmR299 900
Chery Tiggo 4 Pro 1.5T Elite108 kW/210 NmR319 900
Chery Tiggo 4 Pro 1.5T Elite outo108 kW/210 NmR349 900
Chery Tiggo 4 Pro 1.5T Elite SE108 kW/210 NmR359 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar‑ voertuigwaarborg en 10 jaar‑enjinwaarborg vir die eerste eienaar en ʼn 5 jaar/60 000 km‑diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Vitara Brezza 1.5 GLX outo77 kW/138 Nm6,2 l/100 km5 jaar/200 000 km- waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R313 900
Kia Sonet 1.5 EX outo85 kW/144 Nm7,2 l/100 km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R326 995
Toyota Urban Cruiser 1.5 XR outo77 kW/138 Nm6,2 l/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R333 300
Hyundai Venue 1.0T Motion outo88 kW/175 Nm6,9 l/100 km5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R357 900
Renault Duster 1.5 dCi Zen outo80 kW/250 Nm4,8 l/100 km5 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R381 900
Citroën C3 Aircross 1.2T Feel81 kW/205 Nm6,5 l/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R399 900
Volkswagen T-Cross 1.0TSI 85 kW Comfortline85 kW/200 Nm5,3 l/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R407 300
Ford EcoSport 1.0T Titanium outo92 kW/170 Nm6,3 l/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

Diensplan opsioneel

R407 700
Peugeot 2008 1.2T Active outo96 kW/230 Nm6,5 l/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R415 900

Hier is ʼn magdom mededingers, en nie een wat ek lys, is ʼn slegte voertuig nie. Die Suzuki is ʼn winskoop met onbetwisbare betroubaarheid. Die Duster is fantasties lig op brandstof – en die Citroën ʼn oulike ontwerp. Die Peugeot is bitter mooi – én luuks.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.