Dít is dalk die beste enjin ter wêreld

Mercedes-AMG GT. (Fotos: Verskaf)

Net mooi 53 jaar gelede het AMG tot stand gekom. Hulle het aanvanklik renmotorenjins gebou. Ná hul ryk geskiedenis en sukses op renbane het AMG ʼn E-klas geneem en daarmee gevroetel. Só is die Mercedes-Benz E50 AMG óf “Hammer” bekendgestel … en 27 jaar later is als geskiedenis.

Die eerste AMG’s waarmee ek te doen gekry het, was die SLK 32, C32, SL55 en SL65 AMG’s. Dit was mal rygoed wat meestal die gewone kar was met ʼn verskriklike enjin en effe opgeknapte remme. Finesse was nié altyd hul sterkpunt nie.

Die C55 was ʼn lieflike kar. Toe kom die eerste 63. Sjoe. Die C63 AMG was ʼn reeksmoordenaar. Motormanne het met bang oë na hom gekyk as hulle hom gesien het … en jy’t altyd geweet hy kom, want jy kon hom van kilometers ver hoor. Dit bly nog een van die beste klankbane in die wêreld wat gewone padkarre betref. Já, daar is beslis renmotors wat beter klink, maar ʼn kar met ʼn lisensieskyf – min.

Mercedes-AMG GT. (Fotos: Verskaf)

ʼn Paar jaar gelede móés Merc sy 6.2-V8 kleiner maak en ʼn stel turbo’s aan hom vasbind. Almal was angsbevange dat daardie pragtige geluid in die niet in sou verdwyn. Gelukkig is dit nie waar nie. Já, die nuwe 4.0-V8 BiTurbo raas nie soos die 63 nie – maar hy maak daarvoor op in ander aspekte.

Ek het nou al met vier 63-Merc’s gery. Die C63S, GLC63S, G63 en nou die GT 63S-vierdeur. In elkeen van die voertuie was die enjin asemrowend.

Wat die Mercedes-AMG GT63S-vierdeur betref:

Die ontwerp is eenvoudig die CLS met Merc se Panamericana-sierrooster en ʼn vlerk agter op die kattebakdeksel. Die CLS 53-AMG waarmee ek verlede jaar gery het, was indrukwekkend – maar die GT verskil wel baie – al lyk hy amper presies dieselfde.

Mercedes-AMG GT. (Fotos: Verskaf)

Die toetseenheid wat opgedaag het, was met Merc se pragtige mat-swart geverf. Die swart verf en die reusagtige 21”-wiele is fantasties. Die binneruim is vir my minder indrukwekkend. Van die funksionaliteit in die meer elegante CLS is vir my beter as dié in die GT, soos die bekerhouers. Die sportsitplekke in die GT is fantasties. Regtig diep en hou mens styf om die lyf. Die sitplekke is op elke denkbare manier stelbaar – so ʼn mens kan nie anders as om gemaklik te raak, maar steeds in beheer van die monster te wees nie.

Die enjin en ratkas is verstommend. Die kruis-krukas-V8 is asemrowend. Die versnellerreaksie is vlymskerp en die ratkas nie ver agter nie. In Comfort-rymodus is die GT so mak soos ʼn lammetjie. Kies Sport, Sport Plus of Race, dan verander die GT se karakter dramaties. Die uitlaatpype skiet en klap en brul met elke inset van die versneller. Dis fantasties. Sodra mens regtig soos ʼn nar begin jaag, dan gee die ratwisselingspane agter die stuurwiel nóg ʼn dimensie om te geniet.

Die ritgehalte en padhouvermoë is vir my presies soos dit in so ʼn kar hoort. Ja, dit is hard – en in die kwaaier modusse is dit kliphard – maar dis ʼn vierdeur-supermotor wat 2.2 ton moet baasraak. Die ingenieurs het hulle puik van hul taak gekwyt, want die GT voel soos ʼn ratse sportmotor – nie ʼn groot vierdeur-sedan-supermotor nie. Die stabiliteitsbeheer streel mens se ego en laat jou dink jy is Lewis Hamilton … en die enjin laat jou glimlag soos Daniel Ricciardo, elke keer.

Daar is ʼn paar rolspelers in dié segment. Elkeen is blitsig en uniek op sy eie manier. In pylvakrenne gaan daar bitter min tussen hulle wees – maar bitter min mense met dié geld gaan drags toe. Dit gaan oor hoe dit mens laat voel – en die AMG GT laat my soos ʼn miljoen euro voel. Dis R16 miljoen. Baie meer as wat die kar kos – ʼn winskoop!

Mercedes-AMG GT53 4Matic+ vierdeur- koepee320 kW/520 Nm0–100 km/h 4.5 sek

Topspoed 285 km/h

9.4 ℓ/100 kmR1 990 260
Mercedes-AMG GT63 S 4Matic+ vierdeur- koepee470 Nm/900 Nm0–100 km/h 3.2 sek

Topspoed 315 km/h

11.3 ℓ/100 kmR2 966 331

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km-waarborg en 5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

BMW M8 Competition Gran Coupé460 kW/ 750 Nm0–100 km/h 3.2 sek

Topspoed

310 km/h

10.7 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R2 990 686
Porsche Panamera Turbo404 kW/ 770 Nm0–100 km/h 3.6 sek

Topspoed 306 km/h

9.3 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R2 811 000

Al drie mededingers is fantastiese karre. Die klankbaan in die AMG is onweerlegbaar. Die BMW is vir my die mooiste van almal. Die hantering in die Porsche is waarskynlik die beste. Ek kan nie kies nie – probeer jy maar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael ·

My opinie is dat Mercedes veilige betroubare karre bou maar genugtig wie ontwerp die exterior want dit is lelik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.