Draaipunt vir elektriese voertuie?

Daar is twee uitdagings rakende elektriese voertuie in Suid-Afrika, naamlik infrastruktuur en hul prys.

Verskeie eerstewêreldlande subsidieer elektriese voertuie (EV) deur die belasting daarop te verminder. Party lande plaas glad nie belasting op elektriese voertuie nie en ander bied selfs aansporings vir motorvervaardigers om die skuif na elektries te maak. Weens ons plaaslike wetgewing betaal ons meer belasting op ʼn EV as ʼn gewone motor met ʼn binnebrandenjin.

Al die plaaslike motorvervaardigers en rolspelers in die bedryf werk hard saam met die regering om wetgewing reg te trek sodat elektriese motors in die toekoms meer aantreklik vir die eindverbruiker raak.

Volvo het pas ʼn haas uit die hoed getrek met die bekendstelling van sy jongste elektriese voertuig, die EX30. Hy is R400 000 goedkoper as sy mededingers uit Mercedes-Benz (die EQA) en BMW (die iX1) se stal en een van die goedkoopste ten volle elektriese voertuie nog in Suid-Afrika. Hy spog ook met ʼn reikafstand van 480 km. Volvo beoog om teen 2030 slegs elektriese voertuie te verkoop.

Die EX30 is ten volle elektries en is Volvo se kompakste én vinnigste, indien mens die reeksleier koop, nog. Daar is twee “enjin”-opsies beskikbaar. ʼn Model met een motor, en ʼn model met twee. Daar is twee batterye beskikbaar. Daar is drie spesifikasievlakke beskikbaar – Core, Plus en Ultra. Die dubbelmotor-weergawe, met die sterker battery, bied 315 kW en sal 0 tot 100 km/h in ʼn blitsige 3,6 sekondes haal.

Die intreemodel reeds beskikbaar vir bestelling teen R775 900.

Ons sal waarskynlik vroeg volgende jaar ʼn beurt agter die stuur van ʼn EX30 kry en sal dan meer kan verklap oor hoe hy ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.