Ducati DesertX – enige plek, enige pad, enige terrein

(Foto: Brian Cheyne)

Meeste van my motorfietsritte begin met iets soos: “Ek wonder waar de joos is Tonteldoos?” Ander begin met ’n eenvoudige “Brian, gaan ons Saterdag ’n entjie ry?” Ek geniet dit om nuwe plekke te ontdek, maar soms is ʼn rigting goed genoeg en die bestemming minder belangrik. Vir my impulsiewe rigtingsoekdae gryp ek altyd die Ducati DesertX se sleutel.

Ek het onlangs juis so ʼn solorit met die DesertX na Tonteldoos onderneem. Die nedersetting is, padlangs, so 23 km noordwes van Dullstoom en is ook bereikbaar van Stofberg se kant. Hierdie roete is egter meer tegnies, maar siende dat ons lanklaas reën gehad het, was dit nie so erg soos ek verwag het nie. Die klipperige opdraandes en diep slote was nie veel van ʼn uitdaging op iets soos die DesertX nie.

(Foto: Brian Cheyne)

Tonteldoos self is ʼn klein nedersetting, en terwyl ek alleen koffie gedrink het, het ek gewonder hoe dit moet wees om hier te bly. So ver van al die alledaagse geriewe. Van Tonteldoos af is ek deur na Dullstroom, en hierdie stuk pad, hoewel sinkplaat by tye, was glad nie sleg nie.

(Foto: Brian Cheyne)

Aangespoor deur my rit het my vriend Dave Cilliers gevra of ons iets soortgelyk kan doen, en hy was vasbeslote om my nog nuwe paaie te wys. Hy ry self ʼn DesertX, en die beplanning het in alle erns begin. Die buitelyne was om vroeg weg te spring, iets koel te drink op Kaaschehoop, en dan rustig te verken op pad  huis toe. Ons enigste kriteria was dat ons die peperduur Machadadorp-tolhek sou misry.

Ek verkies dit om vroeg in die pad te val, net om die eerste, vervelige, deel van die N4 agter die rug te kry voor die son die aarde te warm bak. Die Ducati beskik oor spoedbeheer wat verseker het dat ons veilig by die twee spoedlokvalle wat ons teëgekom het, verby is. By Milly’s het ons ’n vinnige ontbyt genuttig, en albei van ons was dit eens dat die DesertX glad nie sleg doen op teer nie.

(Foto: Brian Cheyne)

Ons het deur Machadadorp gery, en ’n rustige grondpad gevat wat ons by Waterval-Boven sou uitspoeg. Die Ducati, in Enduro-modus, is heel besadig, maar het tog steeds genoeg woema om ’n groot stofwolk te maak. Ek het vir Dave gevolg, want hy ken hierdie area redelik goed. Ons het langs ’n dammetjie gestop en net weer die twee wit fietse bewonder. Hier lê die bekoring om sonder plan te ry en die fiets heeltemal te vertrou ongeag waarheen jy wil gaan.

(Foto: Brian Cheyne)

Net voor Waterval-Boven was die pad skielik ’n see van mense. ’n Groep dansende skoolkinders het voor ’n lykswa geloop met voertuie wat die hele pad versper. Ons het toe maar afgetrek van die pad en die twee fietse afgeskakel. En hier het ’n taxibestuurder my heeltemal verbaas. Hy het tot langs ons gery, en in die mooiste Afrikaans vir my gesê: “Dankie dat julle respek toon.” Die begrafnis was vir ’n skoolkind. Ons het weer eens ons eie verganklikheid besef en in stilte verder gery tot ons weer by die N4 aangesluit het. Met die twee fietse nou weer terug in Sport-modus, kon ons die lieflike draaie voor die Waterval-Boven-tonnel terdeë geniet. Ons het ook gestop by die ou NZASM-tonnel en ek het vir Dave die Elandswaterval gewys, iets wat hy nie eers geweet het bestaan nie. ’n Entjie verder het ons weer gestop op die vyfboog brug, nog iets wat nuut was vir Dave.

By Ngodwana draai die pad op na Kaapschehoop. Dit is ʼn lieflike stuk pad met lang draaie, en ek moes spook om by Dave te bly. Die DesertX hoef nie terug te staan vir padfietse op hierdie stuk pad nie. Dit het egter gemaak dat ons brandstofverbruik meer was as wat ons beplan het, so die pad terug van Kaapschehoop was heelwat rustiger.

(Foto: Brian Cheyne)

Ons het besluit om Schoemanskloof langs terug te ry, net vir afwisseling. Net voor Machadodorp het ons ons op ’n ander grondpad begewe in die rigting van Belfast. Hoewel die eerste deel ’n tweespoorpaadjie was, het die pad, hoe nader ons aan Belfast gekom het, heelwat verbeter. Hier kon ons die krane oopdraai en ons net verlustig in die fantastiese vering van die DesertX. Hierdie is die tipe pad wat ek sewe dae ’n week kan ry, en twee keer op Sondae. Ek was teleurgesteld toe hierdie wonderlike pad skielik doodloop in die N4 net voor die Dalmathua-monument.

(Foto: Brian Cheyne)

As jy in hierdie bedryf werk, dan vra mense jou gereeld vir jou opinie oor fietse. Maar as jy saam met iemand ry wat jou passie verstaan, maak niks saak nie. Ons het net gery, en nie vir een oomblik getwyfel oor die vermoë van die Ducati DesertX nie. Dit is net weer eens ʼn bewys dat jy maar jou vinger enige plek op die kaart kan neersit, en die kanse is goed dat die DesertX jou soontoe sal kan vat.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jedi Knight ·

Ek het nog nooit die grondpaaie in daai deel van die land gery nie. Jou foto’s maak dat ek beslis daar sal gaan ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.