Ducati gaan elektries met die V21L

Ducati se eerste elektriese motorfiets heet V21L. Hierdie motorfiets sal vanaf 2023 aan die FIM MotoE-wêreldbeker deelneem. Ducati sal al 18 motorfietse voorsien wat deelneem.

Die vorige verskaffer, Energica, het reeds die ondervinding wat hulle op die renbaan opgedoen het, omgeskakel in ’n produk wat Jan Alleman kan koop. Ek hoop dat Ducati ook hierdie pad sal volg want die verrigting van elektriese fietse is asemrowend!

Toe Ducati se hoof‑ uitvoerende beampte, Claudio Domenicali, die eerste keer met die Ducati Moto E‑fiets op ’n baan gery het, het hy besef hy beleef ’n historiese oomblik. “Die wêreld gaan deur ’n ingewikkelde tydperk en omgewingsvolhoubaarheid is ’n element wat alle individue en alle maatskappye as ’n prioriteit moet oorweeg as ons die delikate balans van die planeet wil bewaar.

“As Ducati het ons hierdie behoefte begryp en ons het ’n uitdaging gesoek wat ons in staat sou stel om by te dra tot die gemeenskaplike doelwit om CO₂‑vrystellings te verminder en terselfdertyd vertroue te behou met ons DNS wat aan wedrenne gekoppel is. Ons is vasberade om die mees kompeterende elektriese renfiets te ontwikkel wat moontlik is met die huidige tegnologie. Hierdie projek sal dit moontlik maak om ons toekoms te bou. Die resultaat het my verras. Toe ek op die fiets gaan sit, het ek besef watter ongelooflike werk die span gedoen het. My hart klop warm van trots oor wat ons kon bereik.”

Alhoewel die fiets steeds in die ontwikkelingsfase is, is die span tevrede met wat hulle tot dusver bereik het. Die totale gewig van die fiets is 225 kg, met kraglewering van 150 pk. Die wringkragsyfer is ’n skaflike 140 Nm en die fiets kan 275 km/h haal op ’n baan soos Mugello met ’n lang pylvak. Van die 225 kg, is 110 kg die 18 KWh-battery.

Ducati se span het baie tyd aan die verbetering van die verkoeling van die elektroniese komponente bestee. Beter verkoeling sorg vir korter herlaaitye, want die batterypak moet afkoel tot ’n sekere temperatuur voor die herlaaiproses kan begin.

Ducati kon hul uitgebreide wedrenkennis na die V12L bring. Met koolvesel- en aluminiumonderdele kon hulle die gewig laag hou terwyl hul steeds dieselfde afmetings van hulle renfietse kon behou. Omdat daar geen koppelaar is nie, kon hulle die agterrem op die handvatsel monteer en ryers kan kies of hulle hierdie manier verkies en of hulle steeds ’n voetpedaal wil gebruik.

Die feit dat Ducati aan die Volkswagen-groep behoort, sal help om die elektriese revolusie net vinniger ’n werklikheid te maak. Die jaar 2023 sal dus die begin van groot dinge vir Ducati wees. Die volgende stap sal wees om hierdie kennis oor te dra na ’n kommersiële Ducati-fiets wat steeds sportief, lig en opwindend is. Ek kan nie wag om te sien wat die Bologna-fabriek gaan opdis nie!

Vir meer inligting klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anthony ·

Ek het al een keer op n ingevoerde tiepe ” off road” elektriese motorfiets gery. Sy stelling was op sy laagste gewees. Die krag lewering was ongelooflik & absoluut onmiddelik. Op sy hoogste verstelling was dit onmoontelik om weg te trek. Mens kon glad nie die voorwiel op die grond hou nie. Die fiets het ge” flip ” sodra jy die oortjie net n bietjie draai. Ek ry n 1000cc superbike so ek is nie onbekend met krag nie, maar daai was iets anders. So ek kan my net probeer voorstel hoe die Ducati moet voel

Schalk ·

Bly daar is ‘n mark vir dit maar vir menige ryer sal dit nie die sensasie van ‘n petrol fiets kan evenaar nie. Plus so stil fiets gaan nie my adrenalien versnel en ore prikkel nie. Bly ek is ou skool

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.