Ducati Mystery Ride 4: ’n Passie vir paaie en passe

(Foto: Brian Cheyne)

Elke ses maande of so, bied Ducati sy Mystery Ride aan. Jy betaal jou geldjie en dan volg jy vir Jos Matthysen, hoof van Ducati SA, oor die land. Die vierde Mystery Ride was egter baie anders as die voriges, en hiervoor haal ek my hoed af vir Jos wat elke keer iets nuuts byvoeg. Daar was selfs iemand van Ducati se fabriek in Italië, Gherardo, wat vir die eerste twee dae kom saamry het. Hy wou sien hoe doen Suid-Afrikaners dit!

Anders as die vorige drie het Mystery Ride 4 in George afgeskop. Soos gewoonlik het ons slegs elke dag se afstande tot ons beskikking gehad, nie die eindbestemmings nie. Stel jou voor jy begin in George, en jy ry 600 km ver, hoeveel opsies is daar. Boonop was daar hierdie jaar ’n rekordgetal motorfietse. Die eerste stap vir die Gautengers was egter eers om in George te kom.

Party ryers het hulle fietse afgestuur George toe, en ander het uit Kaapstad en die Oos-Kaap gekom. Ons het besluit om van Pretoria af te ry. Ek was op ’n splinternuwe Supersport 950 en omdat ek die fiets moes inloop, het dit mooi uitgewerk dat ek die eerste diens in George sou kon doen. Nadat Jos vir ons ’n gebed gedoen het, het ’n redelike groot groep ryers uit Pretoria vertrek na ons eerste oornagpunt op Gariep. By Bloemfontein en Smithfield het nog ryers by ons aangesluit. Die volgende oggend is ons deur ysige koue weer en digte mis begroet, maar ons het deurgedruk tot by die Oubaai Hotel in George.

(Foto: Brian Cheyne)

Die aand se geselligheid het begin met ’n fondsinsameling vir die JJ Watson Huis vir Bejaardes in George. Die doel was nie net om geld in ’n rekening te stort nie, maar om ’n lys uitstaande projekte stelselmatig aan te pak en uit te voer. Tydens die aand is heelwat ryers “beboet” vir oortredings soos om op te daag met KTM-skoene by ʼn Ducati-geleentheid! Daar was selfs ’n professionele afslaer om verskeie items op te veil. Vir elke rand wat ingesamel is, het Ducati SA ook een rand bygedra. In totaal is meer as R305 000 so vir die tehuis ingesamel. Daarna is ’n motorfiets uitgeloof aan een gelukkige Mystery Ride-deelnemer. Alhoewel heelwat nuwe ryers hierdie tog sou meemaak, was daar reeds ’n vriendskapsband gesmee omdat ons almal een ding in gemeen het: ons ry Ducati’s.

Elke ryer het ook weer ’n geskenkpakkie ontvang waarvan die waarde baie naby aan die inskrywingsgeld was. Carrera is ’n maatskappy wat sonbrille en brilrame maak, en hulle is een van Ducati se MotoGP-renspan se borge. Die Suid-Afrikaanse Carrera-span was ook saam en het gesorg dat almal se brille en valhelms elke dag mooi skoon was. Elke geskenkpakkie het ook ’n Carrera-sonbril ingesluit.

(Foto: Brian Cheyne)

Op ’n koel Donderdagoggend het 53 Ducati’s uit George vertrek. Van die ouer vriende en familie wat nie motorfiets ry nie, maar tog die Mystery Ride wou meemaak, is in ’n luukse bussie vervoer wat heel komies as die Ducati Ouetehuis bekend gestaan het. Onder hulle was George Couperthwaite (79) wat saam sou ry as die vraghouer met sy splinternuwe Panigale V4 nie in Durban se hawe vasgehaak het nie. Ons het die een bergpas na die ander deurkruis en by Goudini Spa geëindig. Die volgende oggend het ons nog meer passe verken en in Hermanus oorgeslaap. Blykbaar het Jos inspirasie gekry uit ’n boek met die bergpasse van Suid-Afrika. Ek en my Supersport het dit terdeë geniet. Dit is nou een fiets wat my vrees vir draaie sal kan wegvat.

Dag drie het die tema van bergpasse voortgesit, en ons het passe gery wat ek nie eers geweet het bestaan nie. Franschhoekpas was egter baie nat en almal het dit maar rustig gevat. Ons eindbestemming was Plettenbergbaai. Ons moes maar almal vroeg inkruip, want op dag vier moes ons 940 km aflê. Ons het binneland toe gery, maar ons moes eers nog ʼn pas of twee oorsteek voor ons die vlaktes van die Vrystaat ingery het. Ons bestemming was Ladybrand. Die aand was daar weer ’n geselligheid waar ons stories kon uitruil. Daar was ook pryse uitgedeel aan die persoon wat elke aand se bestemming die naaste reg kon raai. Een wonderlike gebaar was dat een van die ryers sy motorfiets vir een van die lede van die ondersteuningspan gegee het wat nie ’n fiets besit nie.

Ek kan nog honderde woorde skryf oor ons wonderlike ervarings, maar dit sal net woorde wees. Hoe beskryf jy ’n gevoel van familie, vriendskap en ’n passie vir Ducati? Die Ducati Mystery Ride is ’n belewenis soos geen ander nie.

(Foto: Brian Cheyne)

Ek het die wenner van die fiets wat op dag een uitgeloof is, Gerrit van Dyk, gevra hoekom hy so ʼn rit meemaak. Wat maak dit so spesiaal? Volgens hom is die rit eerstens oor die mense. Dit was slegs sy tweede Mystery Ride, en tog voel hy al soos familie. Dan is daar natuurlik die natuurskoon en die saamry met mense wat dieselfde passie deel. Hy voeg by dat dit die tipe ritte is waaroor jy vir jare nog kan gesels.

Vir my was hierdie een ekstra spesiaal. Ons het uitgereik na mense wat hulp nodig het en hulle op ’n sigbare manier gehelp. Dit is die hart van die mens wat in beheer staan van Ducati hier in Suid-Afrika. Jos is beslis al besig om die volgende Mystery Ride te beplan, hopelik vir Oktober. So, as dit jou tipe rit is, en jy nog nie ’n Ducati besit nie, maak ’n plan. Die Ducati-vloer staan vol!

Hou gerus Ducati se Facebook-blad dop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.