Ducati se Multistrada V4 ʼn uitnemende avontuurfiets

(Foto: Brian Cheyne)

Ek het ’n sagte plekkie vir Ducati se Multistrada 950. Omdat ek feitlik altyd alleen ry, is die 950 Multistrada meer as genoeg fiets vir my. Toe ek die geleentheid kry om in Europa te gaan toer, was dit ’n uitgemaakte saak dat ek dit op ’n 950 sou doen.

Met ons tweede Ducati Mystery Ride het ek ook op so een gery. Toe breek Mystery Ride 3 aan, en Ducati vra my om vir een dag ’n passasier saam te ry. In ruil daarvoor gee hulle toe vir my die nuwe Multistrada V4. Toe wonder ek of hierdie fiets my genoegsaam sou beïndruk om my nuwe gunsteling-Ducati te word.

Die Ducati Multistrada V4. Foto: Verskaf

Die Multistrada V4 is in November 2020 bekendgestel, so hy is nou al geruime tyd beskikbaar. Die V4 is egter ’n groot stap vir Ducati. Die enjin is gebaseer op die V4-eenheid wat in die Panigale en Streetfighter is, met een groot verskil. Hierdie enjin staan bekend as die Granturismo en gebruik nie meer Ducati se Desmodronic-stelsel vir die kleppe nie. Die enjin het tradisionele kleppe en dit behoort dienste aansienlik goedkoper te maak. Trouens, diensintervalle is nou 15 000 km of twee jaar met die groot diens nou op 60 000 km. Dit alleen behoort die onderhoudskoste van die V4 drasties te verminder. Die enjin klink ook anders.

Die Ducati Multistrada V4. Foto: Verskaf

Daar is twee modelle in die reeks: die V4 en die V4 S. Visueel lyk die fietse dieselfde en jy sal baie fyn moet kyk om die verskille raak te sien. Die V4 se vering is meganies verstelbaar waar die V4 S oor Ducati se semi-aktiewe Skyhook-vering beskik. Die S het ook groter remskywe voor met Brembo se nuutste Stylema-knypers. Dan is daar die S se 6,5 duim TFT-skerm teenoor die V4 se 5 duim skerm. Die V4 S kom met Ducati se radarstelsel voor en agter. Hierdie stelsel werk saam met die spoedbeheer om die afstand tussen die fiets en ander voertuie te hou. Dit kan ook voertuie opmerk in die fiets se blindekolle.

Die ou Multistrada het gemengde reaksie ontlok wat die ontwerp betref, maar die nuwe V4 lyk baie beter en meer modern. Ducati het ook baie aandag geskenk daaraan om hitte weg te kry van die ryer af. Met vinne en uitlate orals kan ek getuig daarvan dat hulle geslaag het.

Ek kan die syfers van 170 perdekrag en 125 Nm wringkrag aanhaal, maar dit is hóé die Multistrada daardie krag lewer wat my die meeste beïndruk het. Selfs met ’n passasier het die V4 ongelooflik versnel. Die wedren-gene van Ducati slaan sterk deur. Op een van die langer, reguit dele van ons toer het ek die fotograaf saam met my gehad om die ander fietse af te neem. Om die hele groep van agter af in te haal was geen moeite nie. Die fiets was ook uiters stabiel, selfs met die fotograaf wat wriemel om ’n goeie foto te kry. Die elektroniese vangnette van die V4 is baie goed en behoort enige ryer genoeg vertroue te gee om hom hard te ry. Deur Magoebaskloof se draaie het die V4 egter my hart gesteel.

Die V4 is ’n ongelooflike fiets, en as ek iemand gehad het wat heeldag saam met my ry, sal ek nie vir ’n oomblik huiwer om die V4 aan te skaf nie. Die gewone V4 sal doen, nie eers die S nie. Vir my behoeftes is die V4 genoeg. Ducati het egter pas die nuwe 950 bekendgestel wat nou bekend sal staan as die V2. Tot ek daardie fiets onder hande gekry het en kon beoordeel, is die V4 my nuwe gunsteling-Multistrada. Al wen hy net met ’n kortkoppie.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Puik fietse, net jammer die dienste op die ouer modelle is baie duur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.