Ducati XDiavel Nera – Italiaanse flair met brute krag

So ’n paar jaar gelede het ’n vriendin van my en haar ma in Italië gaan vakansie hou. Hul verblyf was ’n klein selfsorgeenheid in die platteland. Die gasvrou het vir hulle die eenheid gewys en my vriendin het opgemerk dat daar nie ’n ketel in die kombuis is nie. Toe sy die gasvrou hieroor uitvra, was sy verdwaas. “Ketel? Wat wil jy met ’n ketel maak?” “Om koffie mee te maak?” waag my vriendin. Die frons op die gasvrou se gesig het ál dieper geword. Sy stap na die kombuis en wys na die silwer Moka-pot op die stoof. My vriendin moes toe baie duidelik verstaan dat jy nie hier kitskoffie maak nie. Jy doen dit ordentlik. Jy sien, in Italië word niks in ’n japtrap gemaak nie. Alles verg passie. Net soos Ducati-motorfietse.

Ducati maak sportfietse, en dit wys in hul sukses in die MotoGP. En tog maak hulle ook bekostigbare intreevlakfietse soos die Scrambler-reeks. Hul Multistrada-reeks is, na my mening, seker die mees volledige veeldoelfiets. Dan is daar die XDiavel, die mal een in die groep. Met sy 1 260 cc-enjin en ’n brutale 160 pk en 127 Nm wringkrag wat net wag vir jou insette, is die XDiavel nie iets wat jy ligtelik kan opneem nie. Om al daardie krag op die pad te kry, is daar ’n yslike 240-profielband en aandrywing word met ’n band, eerder as ’n ketting gedoen. Met sy vloeiende lyne lyk die XDiavel soos kuns, eerder as die brutale monster wat hy is.

Die Ducati XDiavel Nera voer die hele kunswerkgedagte net nog ’n trappie verder. Net soos die KTM Brabus waaroor ek onlangs berig het, is die Nera die produk van twee premiumprodukte wat bymekaarkom. Poltrona Frau maak luukse kantoormeubels en word wêreldwyd erken vir uitnemende vakmanskap. Die groep se samewerking met Ducati het die “Met trots vervaardig in Italië”-stempel duidelik op die eindproduk afgedruk.

Die bekendstelling van die Nera was in Milaan en dit was behoorlik ’n luukse geleentheid wat bygewoon is deur die hoofde van die twee maatskappye: Claudio Domenicali van Ducati en Nicola Coropulis van Poltrona Frau. Die uitstaande kenmerk van die Nera is die unieke saal, gemaak uit sagte leer wat met die hand gelooi is. Dit is beskikbaar in vyf kleure en het die “X” in die materiaal gegraveer. Die swart verfskema is ook uniek aan die Nera. Daar sal net 500 Nera-modelle gemaak word en elke eienaar kry ook ’n unieke sleutelhouer en dokumenthouer wat van dieselfde leer as die saal gemaak is. Arai en Ducati het selfs ’n unieke valhelm geskep, spesiaal vir die Nera-eienaars.

Die Italianers weet net hoe om dinge met flair te doen. Van koffie in die platteland tot kunswerke in Milaan. Daar is deesdae ál meer vervaardigers wat sulke unieke fietse met ’n beperkte reeksgetal bou. Noodwendig is die prys dan ook opwaarts aangepas. Maar, as jy nie jou Nera betyds kan bestel nie, dan is dit darem nie die einde van die wêreld nie. Die standaard-XDiavel is alreeds ’n uitstekende motorfiets, al het hy nie ’n rooi saal wat met die hand gestik is nie.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.