Eerste elektriese bus in SA vervaardig

Foto: Verskaf

Suid-Afrika het pas sy eerste elektriese bus vervaardig, en die resultaat is indrukwekkend.

Die EV Green is ʼn elektriese bus wat ongeveer 400 km kan ry voor hy weer herlaai moet word.

“Ons busontwerp is met groot opgewondenheid en entoesiasme ontvang deur busdiensverskaffers en -vervaardigers,” sê Frans Schutte van Electric Vehicle Green (EV Green) ná die bekendstelling in Vereeniging.

Dié maatskappy het ʼn ou bus gekoop en laat “oordoen” – die enjin en ratkas uitgehaal en ʼn elektriese motor en battery ingesit.

“In hierdie stadium het ons ʼn loodkristal-battery in die bus wat so 6 – 8 uur gelaai moet word. Ons laai dit oornag en dan ry die bus so 400 km. Jy verander nie die basis van die voertuig nie, jy ruil net die enjin om,” sê Frans.

Die EV Green-bus het ʼn outomatiese ratkas, geen uitlaatgasse nie en sy enjin is doodstil. ʼn Laaistelsel is in die bus ingebou wat die laaiproses vergemaklik. Al wat jy benodig, is ʼn driefase-kragpunt. Met geen dieseluitgawes nie, is die besparing op dié busweergawe, veral vir groot busdiensverskaffers, baie groot.

Frans meen die grootste hoeveelheid koolstofuitlating is afkomstig van motors en dat die elektriese voertuig die wêreld sal verander – nie net figuurlik nie maar ook letterlik.

“Dit gaan oor aardverwarming – as daar geen uitlaatgasse is nie, is die druk op die aarde soveel minder.”

Cobus Pentz, ontwerper van die elektriese dryftrein, het ʼn topspoed van 100 km/h bevestig sowel as die moontlikheid van ʼn roete van 200 tot 400 km tussen laaitye.

Nog ʼn bus sal omgeskakel word vir die Golden Arrow-busdiens in Kaapstad en vir ses maande as toetsbus dien. Dié bus sal geen ratkas hê nie en ʼn topspoed van ongeveer 70 km per uur lewer.

Ipelegeng Vereeniging het verdere voorleggings aan hulle direkteure aangevra met die oog daarop om die bus op hulle roetes te toets.

“Mense dink dit is onmoontlik, maar ons bus is getoets en hy werk. Ons gaan dit in bruikleen vir ʼn maand aan ʼn busdiensverskaffer in Vereeniging skenk. Hulle gaan ʼn roete bedryf om skoolkinders op te laai en weer af te laai.”

ʼn Tweede bekendstelling van die bus sal op 14 Junie in Vereeniging gehou word. Stuur ʼn e-pos na [email protected] vir meer besonderhede.

[vimeo 187968042 w=640 h=356]

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ja toe ·

O as die klipgooiers hom eers beetgekry het brand hy ook een van die dae .. Hoop die busbestuurder gaan ‘n lisensie he .. Ek glo niks meer in SA Nie . almal lieg en almal stook op .. so keelvol, as ek vandag kon waai, sou ek … EK BRAND om te weet watter skoolkinders dit is vir wie die bus geskenk gaan word .. kannie wag vir die afkondiging nie.!

wielie ·

Die PTA busdiens is so vrot ……..mens kan nie op hulle staat maak. So al bou hulle busse van 9 karat goud ……….. Staak sal hulle staak ……….. of nie opdaag op tyd ……… of sommer ons weer in die stad laat aan ons eie genade, of glad nie eers opdaag! So what is new? Hulle kan maar die battery aangedrewe bus na Australie toe neem – daar sal hulle dit ekonomies gebruik! Dit sal seker nie bemors en bekrap word nie Nie met klippe bestook word of gebrand word nie :) Proudly South African Bus service ne ? Nou wil hulle geld mors om nuwe busse te bou terwyl mense honger en koud slaap! Rerig ?

Koos1 ·

Wat van sonpanele op die dak? In sonnige SA en groot dakoppervlak kan dit seker help met die herlaaing van ‘n battery.

PIETER ·

Koos, ek hou van die manier wat jy dink! Die skoolbus moet dan net vir die dag in die son staan i.p. v. onder die boom, so hy mag dalk warm wees binne, maar hy kan dan weer sy roete terugry, en môre-oggend weer skool toe… Ek wonder net wat kos dit om ‘n ou bus só om te skakel…

Rainbow nation ·

Hahaha love my mede Suid Afrikaners se kommentaar… ten minste is julle almal eerlik . ander sal dit negatief noem, ons noem dit REALISTIES!!!

Vaalseun ·

Ja toe, en wa toe wil jy trek? Na rassistiese Australië, aardbewerige Nieu-Zeeland, of enige ander land met groot probleme waarvan jy nie weet nie? Ek het in 13 lande buite Suid-Afrika dwarsoor die wêreld gewerk, en hierdie is nog steeds die beste land. Al moet EV Green nog steeds daai battery kompartemente diefdig maak, want hulle soek daai batterye se lood en koperkabels.

Afrikaanse Knaap ·

Ons kan alles in SA maak. Alles. Daar is geen rede dat ons met so hoë werkloosheid syfer enige iets moet invoer nie.
Wel gedaan manne en vroue, julle gee my hoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.