Eerste motor? Jy hoef nie verder te Su(soek)ki

Suzuki Celerio (Foto: Verskaf)

As 24-jarige het ek nie gedink ek sal gou ʼn nuwe motor moet koop nie. Skaars uit universiteit met ’n pos op junior vlak en geen kennis van motors nie, het my getroue universiteitsmotor, wat ek as bevoorregte student by my pa gekry het, die ding gedoen.

Maar soos die lewe dit wil hê, begin jou getroue ryding jou geld kos nes jy uit jou pa se sak is. Die battery moet vervang word nadat ek by verskeie geleenthede gaan staan het en wat van die snaakse fluitgeluid wat die remme maak? Ek draai bloot die radio harder en hoop vir die beste.

Om sake te vererger hoor ek sowat twee maande gelede ’n groot slag terwyl ek by ’n rooi verkeerslig staan. ’n Motoris kon nie gou genoeg remme aanslaan nie en jaag van agter in my vertroueling in. Afgeskryf, bevestig die versekering.

So hier is ek nou. Vier-en-twintig jaar oud en verward aangesien een van die grootste besluite in ʼn mens se volwasse lewe op my wag. Wie onthou nié die eerste motor wat hy of sy gekoop het nie?

Dit is egter nie moeilik om vas te stel dat ek in die mark is vir ’n klein en betroubare ryding nie. Niks meer as ’n maandelike paaiement van R2 500 per maand nie, besluit ek.  Verder moet ek vrou-alleen veilig in my nuwe wiele voel.

’n Kollega stel voor dat ek die Renault Kwid en die Suzuki Celerio toetsbestuur. Albei klein. Albei bekostigbaar. Albei (hopelik) betroubaar.

Renault Kwid (Foto: Verskaf)

Renault Kwid

Met die oulike Kwid teen ʼn paaiement van sowat R1 900 per maand beskikbaar, het ek opgewonde agter dié stuur ingeskuif.

Aanvanklik voel die Kwid beter toegerus as die Celerio te danke aan ʼn radio met ʼn digitale skerm en wat vir Bluetooth en ʼn USB-stokkie voorsiening maak. Die deure sluit vanself en die vensters kan met die druk van ʼn knoppie oop en toe – alles luukshede wat ek nie voorheen gehad het nie.

Die vorm van die motor is ook vir my oulik. Stewig vir ʼn klein karretjie, besluit ek.

Met die aanskakel is die Kwid tot my verbasing egter minder oulik. Hy sukkel om weg te kom en is glad nie sag op die oor nie. Vasbeslote om van die Kwid te hou, oortuig ek myself dat ek aan die gebrom gewoond sal raak. Dit gebeur egter nie en halfpad op pad huis toe besluit ek dat die Kwid glad nie vir my lekker ry nie.

Dit is wel nodig om te sê dat ek nie veel van motors weet nie. Ek weet egter wel dat ek nie ʼn paaiement op ʼn motor wil uitgee wat nié vir my lekker ry nie.

Die petrolverbruik van die Kwid is wel nie sleg nie en ek sit voet in die hoek met my laaste trippie wat ek in hom aflê.

Suzuki Celerio binnekant (Foto: Verskaf)

Suzuki Celerio

Suzuki stuur die volgende week ʼn bloedrooi Celerio en moedeloos skuif ek hierdie keer sonder enige verwagting agter die stuur in.

Die Celerio se spesifikasievlak is effe laer as die Kwid s’n, hoewel sy radio ʼn cd-speler het wat Renault in sy motors uitfaseer het.

Die vensters is elektronies, maar die Celerio se deure sluit nie vanself nie. Dit is egter die enigste fout wat ek met die Celerio kan uitwys. Hoewel daar niks fêncy aan dié motortjie is nie, ry hy dadelik lekker en voel hy stewig op die pad.

Die brandstofverbruik is goed en die Celerio verbaas my soos ek die petrolpedaal al platter trap. Ek is dadelik teleurgesteld toe ek by my bestemming kom! Die eintste kollega wat my help met dié besluit het toe ʼn afspraak in Johannesburg en wil gou “my” Celerio leen. Hy jaag toe na die afspraak en kom terug heeltemal beïndruk deur die brandstofverbruik. Hy sê: “Al gee ʼn  mens hom gas,  gee die Celerio steeds 19,5 km/ℓ!”

Die Celerio het twee lugsakke teenoor die Kwid se een. Beide het ABS. As ʼn mens die Suzuki se standaarddiensplan van 2 jaar/30 000 km in ag neem, is hy beslis beter waarde vir geld as die Kwid. Met albei opsies in byna dieselfde prysklas besluit dié nuwe volwassene sonder twyfel op die Suzuki Celerio.

Nou vir ʼn lening by die bank kry! Ek raak sommer weer angstig.

Dié twee vergelyk só:

Renault Kwid 1.0 Dynamique50 kW/91 Nm4,7 ℓ/100 km5 jaar/ 150 000 km‑waarborg

Geen diensplan

R147 900
Suzuki Celerio 1.0 GL50 kW/90 Nm4,7 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km‑waarborg

2 jaar/30 000 km‑diensplan

R158 400

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ant ·

Ek het ook die Kwid ge toets bestuur, mooi grys en oranje. Binne baie mooi gelyk, maar ja nee…die gegrom van die motor en die lae krag was n telleurstelling. Bietjie blikkerig gevoel vir my. Maar is n oulike kar ek moet bieg.

Johan Pretorius ·

Ek besit n Ford Ranger 4×4 wat ek gebruik vir grondpaaie en 4×4 roetes. Ek besit ook n Suzuki Grand Vitara 2,4 wat n ongelooflike lekker voertuig is. Hy is kragtig en ook n 4 x4 met lae strek. My vrou ry die Suzuki Baleno GLX wat ook n uitsonderlike voertuig is, Baie kragtig vir n 1400 engine met ongelooflike goeie petrol verbruik.

Renier ·

Vir daardie geld koop ek eerder iets soos ‘n 2018 Toyota Etios 1.5 met minder as 40 000km op die klok. Dan vat jy ‘n extended Service Plan en Maintenance plan tot to 90 000km. Daars die petrol suinige 1.5 liter enjin en met al die ekstras soos aircon, elektriese vensters, bluetooth radio, 2 airbags, ABS met (volgens my) die belangrikste – EBD (Electronic Break Distribution). En met Toyota se herverkoopswaarde gaan jy nie eendag as jy hom wil verkoop peanuts kry nie (wink wink Kwid) Hoe kan jy beter doen vir ‘n eerste motor.

JG ·

Die Etios is lelik, en hy is n diefstal risiko. Dan die EBD wat so “uiters belangrik” is – feitlik alle karre het dit deesdae, en dit is n vereiste vir ABS remme (die eintlike belangrike aspek)

En o ja, mens spel dit Electronic Brake Force Distribution – nie Break nie…

Celerio ·

Het self ‘n Celerio aangeskaf vir werk toe en terug. Ek ry 80km ‘n dag tussen Pretoria en Centurion. Beste wat ek kon kry was 21,4km/l op ‘n tenk maar met my gewone bestuur styl en verkeer kry ek tussen 19 en 20km/l. En dis as ek dit uitwerk, nie wat die rekenaar se nie. Die rekenaars is gewoonlik bietjie optimisties.

Zettie ·

Dis jammer dat die skryfster net die paaiement van die Kwid meld en nie die Suzuki nie………ek moet ook kyk na ‘n ander tjorrie……….

Morrie ·

Jy sal nooit spyt wees oor die Suzie nie. Hulle is uiters betroubaar. Suzuki is een van daai vervaardigers wat in SA “underated” is. Moet sê, dit lyk vir my of dit wel verbeter jaar na jaar. Ek het so 14 maande terug vir my n VW Polo gekoop. Ek is soooooo gelukkig met die kar, ry vir my amper net so lekker soos my 2006 Merc wat ek gery het. Ek het wel belang gestel in die Suzie Swift, maar ek kon net nie verby daai “Auto” ratkas kom nie. Dis glad nie n lekker Auto nie, dus het ek op VW se DSG Polo besluit. Heelwat meer uit die sak geruk, maar beslis die moeite werd.

Leon ·

Het twee weke gelede ‘n Renault Kwid vir 360 km in die Oos Kaap bestuur. Totaal teleurstellend. Hopeloos geen krag nie. Padhou vermoë pateties. Waneer jy ‘n wind van die kant kry moet jy veg vir jou lewe om op die pad te bly. Waneer jy vragmotors kry en jy die dubbelbane kry om verby te gaan, bly jy agter en die vragmotor ry vir jou weg teen die opdraande uit. Gladnie waarde vir geld nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.