Die eerste week in November is altyd ʼn groot week vir motorfietsentoesiaste. Dit is wanneer EICMA, een van die grootste motorfietsskoue, in Milaan aangebied word. In 2020 moes EICMA noodgedwonge virtueel aangebied word, en sommige vervaardigers het dit goedgedink om steeds hul belangrikste modelle reeds voor EICMA virtueel aan te kondig. So het Triumph, BMW en Ducati lank voor die aanvang van EICMA reeds hulle nuwe modelle vir 2024 bekend gestel en BMW het nie eers daarna by EICMA uitgestal nie. Tog het EICMA vir ʼn paar opwindende nuwe modelle gesorg.
Suzuki
Suzuki het twee nuwe modelle bekendgestel, naamlik die GSX-8R en die GSX-S1000GX. Die GSX-8R is gebaseer op die splinternuwe 800 cc-platform wat gebruik word vir die nuwe GSX-8S en V-Strom 800 DE. Die GX is gebaseer op die GSX-S1000GT, maar die ryposisie is meer regop en die fiets is toegerus met elektroniese vering. Die GSX-8R is Suzuki se antwoord vir fietse soos Yamaha se R7. Hopelik sien ons hierdie modelle binnekort in Suid-Afrika.
- Die Suzuki GSX-8R
- Die Suzuki GSX-S1000GX
Yamaha
Yamaha het ʼn baie besonderse weergawe van hulle XSR900-fiets bekend gestel. Hy heet die XSR900 GP, en as jy in die era van Wayne Rainey en Kevin Schwantz groot geword het, sal die lyne van hierdie fiets baie bekend lyk.

Kawasaki
Elektriese motorfietse is wonderlik, maar om ʼn groot genoeg battery te maak pas in ʼn beperkte spasie bly maar problematies. Kawasaki het egter met ʼn ander oplossing vorendag gekom. Hulle het die Kawasaki Ninja 7 Hybrid met ʼn hibriede-stelsel bekendgestel. Dit koppel die enjin van die kleiner Z400 met ʼn elektriese motor. Dit beteken dat jy die fiets met brandstof óf elektrisiteit kan ry. As jy egter die twee kombineer, is die versnellingsyfer baie naby aan dié van superfietse. Hulle het ook nuwe kleurskemas vir hulle Ninja-modelle onthul om die 40ste bestaansjaar van die Ninja-naam te vier.
- Kawasaki – 40 jaar van Ninja
- Die Kawasaki Ninja 7 Hybrid
KTM
KTM sit hulle lawwe streek voort met nog ʼn kragtiger weergawe van die middelgewig Duke. Die nuwe 990 Duke het sy buiging by EICMA gemaak, en ek wonder hoe lank dit gaan neem voor hierdie enjin in die Adventure gaan verskyn. Die nuwe enjin is ʼn 947 cc-eenheid en lewer 123 pk. Dit is steeds monteer in ʼn tralieraam, en is gemaak om die klasleier in hierdie kategorie te wees.
Honda
Honda het ʼn reeks nuwe modelle gewys, maar dit is moeilik om te spekuleer watter modelle wel plaaslik beskikbaar gaan wees. Die nuwe Honda CB1000 Hornet het sy buiging gemaak en die nuwe Africa Twin is ook nou amptelik aan die wêreld gewys. Die nuwe Africa Twin Adventure Sport kry nou ʼn 19”-voorwiel in plaas van ʼn 21” wat beteken dat hierdie fiets meer vir die teerpad gebou is.
- Die Honda Africa Twin
- Die Honda Hornet 1000
MV Augusta
MV Augusta het die week voor EICMA ʼn aanlyn bekendstelling van die nuwe MV Augusta LPX Orioli gehou waar ons kon praat met die span wat verantwoordelik was vir hierdie skepping. Met die gewildheid van avontuurfietse het MV Augusta ʼn skoon stuk papier nader getrek en die LPX geskep. Hulle het selfs ʼn splinternuwe 931 cc-enjin ontwikkel spesifiek vir hierdie projek. As jy hou van ʼn tikkie individualisme, sal hierdie fiets reg in jou kraal wees.
Zontes
Hierdie Chinese vervaardiger is besig om die groot name aan te vat met die bekendstelling van ʼn nuwe 700 cc, drie-silinder platform. Hulle het twee modelle bekend gestel, ʼn superfiets en ʼn avontuurfiets. Hulle het ook nie geskroom om net die beste komponente te gebruik nie. Dit sal interessant wees om te sien hoe hierdie fiets op die internasionale mark doen. Afhangend van die prys is daar ʼn groot kans dat ons hierdie fietse plaaslik sal sien.
- Die Zontes ZT703-F
- Die Zontes ZT703RR
Ducati het soveel nuwe produkte bekendgestel dat ek ʼn aparte verslag daaroor sal saamstel. Een van hulle nuwe modelle het juis die titel van “Mooiste fiets op EICMA” verower. 2024 beloof om opwindend te wees!