Eko-modus – werk dit regtig?

Die Renault Kiger is ‘n goeie keuse om te bepaal of jy werklik brandstof in eko-modus kan bespaar. (Foto: Youtube, Renault.co.za)

Die petrolprys wat tydens die feestyd tot meer as R20 per liter gestyg het, het baie Suid-Afrikaners genoop om alternatiewe te oorweeg.

Maroela Media het derhalwe besluit om te bepaal of ʼn mens werklik ʼn paar rand se brandstof kan bespaar as jy die langpad in eko-modus aandurf.

Ná ʼn heerlike uitrus het ek met die nuwe topmodel Renault Kiger Intens die N12 van Orania oor Kimberley die pad terug Pretoria toe aangedurf. In totaal is dit 703 km.

Die stewige buksie is met ʼn eenliterturbo-enjin en ʼn outomatiese X-tronic CVT-ratkas toegerus. Dié enjin bied 74 kW en 160 Nm.

Volgens Renault se spesifikasies verbruik die Kiger tussen 4,5 ℓ (22,2km/ℓ) en 4,6 ℓ (21,7 km/ℓ) oor 100 km op die oop pad en 5,8 ℓ en 6,8 ℓ in die stad. Hulle dui wel nie aan of dit in eko- of in normaal-modus is nie.

Ek het besluit om redelik te wees en wou ten minste die emosionele 20 km/ℓ bereik.

Dit beteken dat ek teen R20,65 per liter ULP 95 dan R1,03/km sou betaal. Die rit van 703 km sou my dus R725,84 kos.

Ek het op 4 Januarie om 12:00 weggetrek en my GPS het gesê ek behoort teen 19:45 die aand tuis te wees. Vir brandstof ingooi en bene rek het ek nog 15 minute bygesit.

ʼn Snikhete Karoo-son en ʼn sterk noordewind het my begroet toe ek op die teerpad klim, wat sake sommer dadelik begin bemoeilik het, want vir die duur van die rit sou ek teen dié wind, in ʼn algemene noordelike rigting ry.

Tot op Hopetown ry ʼn mens noordweswaarts en ek moes mooi met die revolusies werk om 15 km/ℓ te kry.

Die slim mense sê dat hoë temperature wel brandstofverbruik verlaag en ek het innig gehoop dat dit vir die sterk wind sou kompenseer.

Die Kiger het ‘n groot knop aan die voorkant van die middelste konsole waarmee jy vinnig tussen, normaal-, eko-, en sportmodus kan verstel. (Foto: Renault.co.za)

Helaas was dit nie die geval nie.

Ná Hopetown het die pad noordoos geswenk, maar soos verwag kon ek nie werklik ʼn verskil agtergekom nie. Dit was steeds ʼn gestoei om tussen 15 km/ℓ en 16 km/ℓ te bly. Dit was ook min of meer wat die brandstofverbruik in normaal-modus was, soos ek uitgevind het met die rit na my vakansiebestemming.

Verby Christiana en Bloemhof kon ek oor die Oranjerivier in die verte in die Vrystaat sien hoe swaar donderwolke saampak. Dit het tot ʼn wydverspreide wolkbreuk gelei en Maroela Media het vroeër berig dat dit tot een van die ergste oorstromings in ʼn lang tyd in die Wes-Vrystaat gelei het, wat  algehele verwoesting in mielieboere se lande gesaai het.

Noodwendig was dit die rede vir die sterk noordewind wat my dag ook heeltemal omgekrap het.

Die eko-modus werk deur die versneller se reaksie te vertraag. Indien jy dus vinnig wil versnel, wat noodwendig baie brandstof verbruik – versnel die voertuig minder aggressief teenoor die normale ry-modus. Verder vertoon daar ʼn blokkie tussen 1 500 en 2  500 revolusies per minuut op die elektroniese spoedmeter. Die idee is om die revolusies deurlopend in dié band te hou.

Om eerlik te wees, dit is baie frustrerend, veral as jy teen steiltes uit ry. Dan sak die voertuig maklik terug na 95 km/h en as die spoedgrens 120 km/uur is, word jou geduld ernstig beproef.

Die Kiger is toegerus met ʼn CVT-palwisselratkas. Dit beteken dat die ratkas nie spesifiek ratte het nie – eerder ʼn band wat op ʼn tipe kegel ry en pal wissel. As ʼn mens meer wringkrag nodig het om ʼn bult te klim – klim die toere uit die eko-modus se teikenband.

Teen skemer was ek suid van Johannesburg en die wind het genadiglik gaan lê. Die enjin het dit ook agtergekom en die brandstofverbruik het noemenswaardig geval. Stadig maar seker het dit na 16, 17 en 18 km/ℓ liter geklim.

Ek moes wel steeds die revolusies in die aangeduide band hou en die spoed het tussen 95 en 105 km/h gebly.

Uiteindelik het dit gelyk of my “eksperiment” gaan werk. Suid van Pretoria het ek deur 19 km/ℓ gebreek en toe ek by my afrit die N1 verlaat, het die voertuig op 19,9 km/ℓ gestaan. Teen daardie tempo sou ek ʼn paar kilometer verder beslis my teiken van 20 km/ℓ gehaal het.

In eko-modus het die Kiger by 19,9 km/ℓ gedraai, terwyl ‘n spoed van rondom 95 km/h gehandhaaf is. (Foto: Du Preez de Villiers)

Toe ek by die huis stilhou het ek wel gesien dat ek 45 minute op die GPS verloor het, wat my glad nie opgewonde gemaak het nie.

My sommetjies lyk soos volg:

Teen ʼn gemiddeld van 16 km/ℓ het die eerste 630km my R1,29/km gekos en die res van die rit, nadat die wind gaan lê het, teen 19,9km/ℓ, het my R1,04/km gekos.

Die finale brandstofkoste van die rit was dus R888,62. Dit is ʼn verskil van R162,78 teenoor die aanvanklike berekening.

Vir ʼn gesin van vier beteken dit dat ʼn voorwind, oftewel net normaalweg ry sonder om stip aan die eko-modus aandag te skenk, kan veroorsaak dat hulle tydens die vakansie met een minder, baie karige McDonalds-ete moet klaarkom.

Om saam te vat, om baat te vind by die eko-modus moet jy baie versigtig ry en ernstig op jou toere konsentreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lourens CFG ·

Nee wat, só wil ek nie sukkel om goeie brandstof verbruik te kry nie, en ook nie teen die prys van die Kiger nie.
As ek netjies en gemaklike spied ry, moet hy goeie verbruik gee en klaar.
Dit het ek gekry met ‘n 1500 Mazda 323, en later met my 2L Cressida (nou wel nie 20km/L nie, alhoewel die Mazda baie naby was).

Barend ·

As jy so baie moet betaal vir ‘n motor om minder as R200 te spaar sal ek voorlopig maar my afbetaalde 2 liter hou.

ᛄᚪᚾ ·

‘n Puntlose, dog, pret eksperiment om te doen. Miskien moes jy om ‘n beter gemiddeld te verteenwoordig dieselfde roete terug gery het, soos wat spoed rekords opgetekn word. Hierdie toets is in die “opdraande” rigting gedoen Pretoria toe, miskien is dit makliker om daardie syfer van 20km/liter te behaal met die “afdaande” roete ingereken?
Wat opvallend is, is hoe dramaties atmosdferiese en weerstoetande brandstofverbruik be-invloed.

Wielspore ·

Ons het gedurende Desember met ons TCross tussen Nelspruit en PE gery, die gemiddelde brandstof verbruik soontoe volgens die voertuig se lesing was 5.2 l/100km. Volgens werklike syfers uitgewerk op km en liters ingegooi het ons 16km per liter gekry (Voertuig se lesing 19.2 km per liter). Die pad terug van PE tot in Bloem was sterk wind en volgens die voertuig se lesing was die verbruik nou 6.8 l/100km.
Na my mening is hierdie Eko modelle net ‘n bemarking foefie, uit ervaring word die beste brandstof verbruik verkry deur regtervoet beheer. As jy die petrol pedaal hard trap dan is die voertuig swaar op petrol, as jy hom liggies trap is jou voertuig lig op petrol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.