Elegante E-klas

Indien ʼn mens dink aan ouer Mercedes-Benz-voertuie, is elegant ʼn woord wat vinnig opkom. Dit is egter nie altyd die geval met onlangse Merc’s nie. Die nuwer Mercedes-voertuie is eerder sportief – bitter mooi, maar nie altyd elegant nie. Dit is seker AMG se invloed op die handelsmerk die afgelope paar dekades.

Mercedes se slegte ritgehalte in meeste van sy voertuie het egter al ʼn doring in my vlees geword. Die goed ry eenvoudig té hard vir ʼn luukse Merc. Toe ry ons die E220d-sedan. Dít is hoe ʼn Mercedes-Benz mos moet voel. Ek’t nie té veel na die E200 uitgesien nie want dit is mos die kleinste enjin en mens soek mos krag in ʼn koepee – of hoe?

Kom ons begin by die ontwerp. Die E-klas koepee is bitter mooi. Ek persoonlik wil nie ʼn koepee besit nie want dis net té veel van ʼn storie om die kinders in en uit te laai, maar as ʼn mens hom só kyk is dit werklik mooi. Die binneruim is presies wat mens verwag van ʼn moderne Mercedes-Benz. Alles is mooi uitgelê en die materiale is luuks.

Mercedes-Benz se skerms is op die oomblik vir my die beste wat daar is. Dit het ʼn hoë resolusie, en ʼn mens kan die uitleg verpersoonlik soos jy dit wil hê… lekker. Daar is klimaatbeheer, elektries-verstelbare sitplekke, Apple CarPlay en Android Auto – al die truuks wat mens in ʼn luukse motor verwag.

Onder die kap is waar die verrassing skuil. Dit is Mercedes-Benz se 2,0 viersilinderturbopetrolenjin wat 145 kW en 320 Nm bied. ʼn Paar dekades terug was dit baie vir selfs ʼn sportmotor. Dié enjin gepaard met Mercedes-Benz se 9G-tronic 9-spoed wringkragomsitter outomatiese ratkas is uiters bekwaam. Die E200 is lieflik stil wanneer jy dit só verkies en hy kan as hy moet sy sokkies heel hoog optrek. 0 – 100 km/h neem ʼn ratse 7,6 sekondes, en die E200 sal 237 km/h voluit hardloop. Dis nie te versmaai nie.

Toe begin dit vir my sin maak. Die E200 is soos die beertjie se pap, net reg. Daar is ʼn magdom kliënte wat glad nie ʼn brullende V8 soek nie. Op die pad voel die E200 koepee elegant. Daar is  ʼn magdom veiligheidstelsels soos aanpasbare spoedkontrole met baanbeheer, blindekolwaarskuwing, kruisverkeerwaarskuwing en noodremhulp met die gewone sluitweerremme en dies meer. Die ritgehalte is steeds effens hard, maar beter as op meeste ander AMG-modelle.

Dit is maklik om die E200 koepee op te som. Ek sou aanvanklik nie twee keer gekyk het nie, maar vir net-net oor R1 miljoen is dit ʼn winskoop. Gaan toetsbestuur beslis een want dit is ʼn lekker motor as jy dit kan bekostig.

Die reeks lyk só:

Mercedes-Benz E200 koepee AMG Line145 kW/ 320 Nm7,2 ℓ/ 100 kmR1 044 040
Mercedes-Benz E300 koepee AMG Line190 kW/ 370 Nm7,3 ℓ/ 100 kmR1 138 280
Mercedes-AMG E53 koepee 4Matic+320 kW/ 520 Nm8,8 ℓ/ 100 kmR1 630 600

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Audi A5 40TFSI S line140 kW/ 320 Nm6,4 ℓ/ 100 km1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R826 000
BMW 420i M Sport135 kW/ 300 Nm6,4 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R846 338
Lexus RC350 F-Sport232 kW/ 380 Nm9,1 ℓ/ 100 km7 jaar/ 105 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 094 000

Dié Audi en BMW is eintlik C-klas mededingers. Audi, BMW, Jaguar en Volvo het nie tans ʼn direkte E-klas koepee mededinger nie. Die Lexus is ook ʼn V6 en kan teen die prys nie geïgnoreer word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.