Elektriese motorfietse – die toekoms is hier

(Foto: Brian Cheyne)

So ’n wyle terug het een van my medejoernaliste my genooi om ’n kort draai saam te gaan ry op twee elektriese motorfietse. Die fietse was Energica se EVA- en EGO-modelle. Niks kon my voorberei op die eerste keer dat ek die versneller oopgedraai het nie. Die versnelling was verbysterend en die fietse het oral aandag getrek. Ek het toe dadelik werk gemaak daarvan om die twee fietse vir ’n naweek te bespreek.

Diegene wat die MotoGP volg, sal weet dat benewens die MotoGP, Moto2- en Moto3-klasse, daar ook ’n MotoE-klas is. Dit is vir elektriese sportfietse. Die maatskappy wat al hierdie fietse verskaf, is Energica. So, hulle weet ’n ding of twee hoe om ’n elektriese fiets blitsig te maak. Plaaslik word die fietse ingevoer deur Electronia, en hulle het vir my hul twee homologasiemodelle afgelewer by my huis. Elke fiets het sy eie rugsakkie met die herlaaikabels in, en ek moes eers leer hoe om ’n elektriese fiets “vol te maak”.

Die fietse is pragtige Italiaanse ontwerpe. Die EGO is soos ’n sportfiets gestileer en die EVA soos ’n kaalfiets. Die EVA het ’n meer ontspanne ryposisie met regop handvatsels. Meganies is die fietse egter identies. Die EGO se sagteware is effens aangepas om meer wringkrag te lewer, maar die fietse se verrigting is baie dieselfde.

(Foto: Brian Cheyne)

Die grootste komponent van enige elektriese fiets is natuurlik die battery en in die Energica is dit ’n enorme eenheid. Net agter die battery sit die elektriese motor en die ratkas. Hierdie items sit binne ’n pragtige rooi raam en lyk verder net soos ’n gewone motorfiets. Daar is egter drie dinge wat nou nie meer nodig is nie: die koppelaar, rathefboom en ’n uitlaatpyp. Alles help om die ontwerp elegant te hou, ondanks daardie enorme battery.

As jy die fiets van sy staander afhaal, is die gewig merkbaar. Die Energicas weeg in die omgewing van 280 kg, wat baie swaar is vir hierdie klas fiets. Die instrumentepaneel is uiters omvattend en daar is vier uitlegte om uit te kies. Die kontroles is net soos jy dit op ’n tradisionele motorfiets verwag en daar is selfs verhitte grepe en spoedbeheer as standaardtoerusting.

(Foto: Brian Cheyne)

Die aansitprosedure is amper teleurstellend. Trek die voorrem en druk die aansitter vir twee sekondes. ’n Groen liggie met die woord GO daarop kom aan. Geen geraas, geen uitlaatpypklank. Net stilte. Al wat oor is om te doen, is om die versneller te draai en te begin ry. Die aanvanklike gevoel is vreemd maar uiters glad. Die enkele rat begin sing namate die spoed begin klim en die spoed begin klim namate die vertroue opbou. As jy die versneller toemaak, dan word die motor gebruik om krag in die batterye terug te sit. Al hierdie slim tegnologie word gebruik om die maksimum reikafstand uit die fiets te kry.

(Foto: Brian Cheyne)

Reikafstand is seker die vraag wat ek die meeste gevra is. Hierdie spesifieke modelle het maar ’n 12 kWh-battery ingehad, maar die nuwe produksiemodelle kom met ’n 21 kWh-battery. Sover dit die reikafstand betref, is daar soveel faktore wat dit beïnvloed dat dit uiters moeilik is om te beantwoord. As jy in die stad ry, kom jy verder as op die oop pad weens die herlaaivermoë van die batterye. Volgens Energica behoort die nuwe modelle jou so 180 km op ’n vol lading te gee. Dan moet hy vir twee tot drie uur weer gelaai word. So tans, in Suid-Afrika, maak die fiets nie veel sin nie.

Dit is egter onmoontlik om hierdie fiets besadig te ry. Die wringkrag van die elektriese motor is monumentaal. Boonop is dit beskikbaar van wegtrek af. Die elektronika is ook van sodanige aard dat die voorwiel op die grond bly en die agterwiel nie tol nie. Al die krag word net oorgedra na die pad.

(Foto: Brian Cheyne)

Ek weet nou hoe voel ’n albaster wat met ’n kettie geskiet word. Ek het nie genoeg byvoeglike naamwoorde om dit te beskryf nie. Baie van my kollegas en vriende het ’n draai kom maak en nie een van hulle het van die fiets afgeklim sonder ’n glimlag of ’n vloekwoord nie. Soms albei.

Dit is die toekoms, of ons nou wil skop daarteen of nie, en die tegnologie verbeter elke dag. Energica self sê dat ’n 15 minute herlaaityd nie ver weg is nie. Hopelik sal die pryse ook daal soos die tegnologie verbeter, want hierdie fiets is nie ver van ’n halfmiljoen rand af nie. Selfs meer soos die rand val. Ten spyte daarvan, is ek werklik opgewonde oor hierdie fietse en waar ons op pad heen is!

Besoek hul webwerf vir meer inligting.

(Foto: Brian Cheyne)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Brian ·

Ek was bewus daarvan, ja. Stof, nog ‘n ander probleem wat ons het is lisensies. Omdat die elektiriese fietse nie ‘n cc kapasiteit het nie, watter soort lisensie gaan jy nodig hê? Ek was in gesprek met die hoof van AMID ( Association for Motorcycle Importers and Distributers ) en al hierdie oudtydse wette sal moet aangepas word. Dankie in elkgeval vir jou opmerking.

Jack ·

Daardie sirene geluid sal ook teen die gebruik van hierdie tipe fietse gehou kan word. Ander padgebruikers sal verward rondloer waar is die ambulans of brandweerwa wat klink of dit aan die kom is. Energica sal dit moet verander.

Duck ·

Het julle al gekyk wat kos batterye?
Na elke paar “charges” verloor die battery sy volle krag en verminder gedeeltelik tot dit nie meer charge hou nie, gelukkig kan ‘n ou darm ‘n jaar of twee ry voordat jy die battery moet vervang of die m’fiets verkoop……vir ‘n petrol aangedrewe m’fiets

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.