Enige BMW is puik met dié enjin

Die BMW X3. (Foto: Verskaf)

Party motors word gemaak deur die onderstel, ander deur die enjin. Ander weer deur die sinergie tussen die twee. Party platforms word geruïneer deur te veel krag, of ʼn growwe enjin.

Ek glo BMW het ʼn ander benadering. Ek dink hulle besluit vooraf wat die grootste en sterkste enjin is wat in ʼn platform gesit sal word en ontwerp die onderstel volgens daardie vereistes – dan voel hy altyd of hy die krag baas kan raak.

Dink aan die BMW 7-reeks. Die grootste enjin daar is ʼn 6,6 V12 met twee turboaanjaers wat 430 kW en 850 Nm bied. Dis gek. Dus moet daai onderstel die gewig en krag kan hanteer. Wanneer ʼn mens dan ʼn 730d koop voel die onderstel of hy ʼn atoombom kan oorleef. Dieselfde is waar van die X3. Nie net is dit ʼn puik onderstel nie, maar hy word nou hier in Rosslyn gebou. Daar is meer as R6 miljard belê om die X3 hier te kan bou. Ons bou al die regterhandstuur X3’s vir die hele wêreld hier in SA.

Wanneer dit by enjins kom verkies ek ses silinders. Dit is vir my romerig, klink goed en bied baie meer krag as ʼn gewone viersilinder. Gewoonlik is die grootste nadeel dan nare brandstofverbruik. Of is dit?

BMW se 30d-enjin is vir my die beste balans tussen verrigting en brandstofverbruik. BMW se onderstelle is effektief en daar is min kragverlies tussen die enjin en wiele. Dit maak ʼn reuseverskil aan die brandstofverbruik.

Onlangs het ek met BMW se X3 xDrive30d ʼn week deurgebring. Vir my is dit ʼn puik voertuig en ʼn fantastiese balans tussen spasie, spoed en stilering. Die enigste probleem met die ontwerp is die twee stutte agter die sierrooster wat silwer is en uitstaan soos ʼn seer toon. Verder is die ontwerp vir my mooi.

Die luukse binneruim van die BMW X3. (Foto: Verskaf)

Die binneruim is uiters luuks en sou jy jou eie X3 nuut koop kan jy besluit watter kleur leer jy wil hê en by watter spesifikasievlak jy dit wil laat pas. Ek het ʼn M Sport-weergawe gehad met karamel leer aan die binnekant. Dit is regtig mooi. Die kajuit is ergonomies uitgelê en die sitplekke uiters gemaklik. Die veiligheidstelsels is heeltemal te veel om te noem, maar ondermeer is daar ʼn magdom lugsakke, ABS, EBD, stabiliteitsbeheer, vastrapbeheer, draairembeheer, dinamiese rembeheer en afdraandbeheer met banddefekkennisgewing.

Die lekkerste deel van dié X3 is sy 30d 3.0 sessilinderturbodieselenjin. Die 30d bied 195 kW en 620 Nm. 620! 0 – 100 km/h duik op in 5,8 sekondes en dié vierwielaangedrewe medium grootte sportnutsvoertuig sal aanhou tot 240 km/h. Indrukwekkend.

Wat méér beïndruk is die feit dat die 30d op die gekombineerde siklus 6 ℓ/ 100 km kan handhaaf en dit is vir my fantasties.

Dan kom ons by my enigste kwaal met die X3. Sy ritgehalte. Dit is vir my uiters frustrerend hoe meeste vervaardigers vandag ʼn voertuig se vering verskriklik hard maak. Dán gebruik die X3 boonop nog “run-flat” bande ook. As die pad mooi is – dan is die X3 heel in sy element, maar as die pad sleg raak is die M Sport weergawe van die X3 met sy 20” wiele effe ongemaklik. Die groot wiele lyk altyd fantasties, maar as mens nie die adaptive suspension neem nie is dit ongemaklik. Wat dit wel bied is puik padhouvermoë op mooi teer.

Die X3 is maklik om op te som. Die wêreld is sportnuts-mal op die oomblik. Die X3 se gehalte is puik, én hy word plaaslik vervaardig. Die 30d enjin is fantasties én lig op brandstof. My enigste raad is – spesifiseer die kleinste wiele wat vir jou mooi lyk.

Die reeks lyk só:

BMW X3 sDrive 18d outo110 kW/ 350 Nm5,3 ℓ/ 100 km9,7 sek198 km/hR649 000
BMW X3 sDrive 20i outo135 kW/ 290 Nm7,4 ℓ/ 100 km8,2 sek213 km/hR655 000
BMW X3 xDrive 20i outo135 kW/ 290 Nm7,6 ℓ/ 100 km8,3 sek215 km/hR700 700
BMW X3 xDrive 20d outo140 kW/ 400 Nm5,4 ℓ/ 100 km8 sek213 km/hR707 700
BMW X3 xDrive 30i outo185 kW/ 350 Nm7,6 ℓ/ 100 km6,3 sek240 km/hR769 800
BMW X3 xDrive 30d outo195 kW/ 620 Nm6 ℓ/ 100 km5,8 sek240 km/hR895 900
BMW X3 M40i Sport Outo265 kW/ 500 Nm8,2 ℓ/ 100 km4,8 sek250 km/hR1 027 500

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Audi Q5 40TDI quattro sport140 kW/ 400 Nm4,9 ℓ/ 100 km7,9 sek218 km/h1 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R754 500
Volvo XC60 D5 AWD R-Design173 kW/ 480 Nm6,5 ℓ/ 100 km7,2 sek220 km/h5 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R805 900
Alfa Romeo Stelvio 2.0T Super Q4206 kW/ 400 Nm7 ℓ/ 100 km5,7 sek230 km/h3 jaar/ 100 000 km waarborg

3 jaar/ 100 000 omvattende instandhoudingsplan

R834 900
Mercedes-Benz GLC350d 4Matic AMG Line190 kW/ 620 Nm6,2 ℓ/ 100 km6,2 sek238 km/h2 jaar/ onbeperkte km waarborg

6 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R962 994
Jaguar F-Pace 30d AWD Pure221 kW/ 700 Nm6 ℓ/ 100 km6,2 sek241 km/h3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R998 034

Tussen dié mededingers is die Audi Q5 se enjin nie op die ander se standaard nie. Die Alfa Romeo Stelvio is die enigste petrolvoertuig tussen hulle. Die X3 en GLC reekse het ʼn magdom enjins en weergawes. Die Volvo is ʼn pragtige pakket maar sy enjin stel teleur en sy brandstofverbruik kan nie by die BMW kers vashou nie. Ek hou die meeste van die X3 en GLC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Koos ·

Geniet die 6 silinder enjin, ek dink dis die laaste van sy soort. Die nuwe 330i het hoeka ‘n 4 silinder 2 liter kragbron.

Niel van Zyl ·

Het self destyds ñ 2007 X5 3.0d gehad en dit is beslis een van die lekkerste voertuie wat ek besit het, mr geen mens kan die onderhoud op daai voertuie bekostig nie en die wat wel kan ruil tien teen een hulle sin na 3 jaar in v ñ nuwe een.

Thea ·

BMW is my kar, ek het al seker 10 modelle gery, wag tans vir my nuwe X3 30D kan nie wag nie
een n BMW bestuur altyd ry n mens BMW
2KARRE OP DIE PAD N OU BMW EN N NUWE BMW
BMW se diens van die BESTE

Kaptein ·

Laat ons sien:
1. Kies M Sport opsie
2. Kies 20″ bande (laeprofiel?) _en_ dis run flats
=> Kla oor stywe vering.
OK ….

Kaptein ·

Die kar word plaaslik vervaardig.
Die vervaardigers het amper vir seker hulle invoer aankope verskans, en vasgemaak teen ‘n laer wisselkoers as wat tans in effek is.
Maar, ons betaal kar pryse wat ‘n R14/R15 wisselkoers reflekteer – met reuse waardevermindering oor 5 jaar.
Hoekom is plaaslike vervaardiging enigsins ‘n voordeel ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.