Die Volvo XC40 het vir my ʼn rowwe tyd gehad om sy plek in die mark uit te kerf. Ek is steeds nie daarvan oortuig dat dit wel al gebeur het nie. Daar was ʼn paar probleme. Party mense het hiperluukse afronding verwag, ander het gevoel die XC40 is eenvoudig net té duur; ek is nie oortuig deur Volvo se huidige enjins nie.
Die Volvo XC40 is ʼn pragtige buksie… veral in dié R-Design-spesifikasie. Die tweekleur-verfskema is regtig netjies. Die pragtige 20”-wiele rond die pakket bitter mooi af. Die binneruim is gewone Volvo – net in die fotostaatmasjien gesit op 80%. As ʼn mens eers Volvo se stelsels gewoond is, dan is alles ergonomies en werk goed.
Aan die spesifikasie kant is die XC40 D4 R-Design werklik vol gepak. Daar is CarPlay en Android Auto, radarbeheerde spoedkontrole met al sy veiligheidstelsels soos Volvo se City Safety. Die sitplekke is elektries verstelbaar en die instrumente digitaal met ʼn groot kaart in die middel vir die navigasie. Die binneruim voel fantasties aanmekaargesit en die materiale luuks dog duursaam.
Dis by die enjin waar dinge vir my skeefloop. Die D4 is tot dusver beslis die beste enjin wat ek al in die Volvo teëgekom het. Die T3-driesilinderpetrol is ʼn handrat en was ʼn bietjie lig in die broek. Die T5 is fantasties, maar bitter swaar op brandstof. Die D4 bied 140 kW en 400 Nm, lekker sterk. Dit word gepaar met Volvo se 8-spoed-wringkragomsitter‑outo en sit krag aan al vier wiele. Dis alles fyn, maar ek het ʼn appeltjie om met Volvo te skil.
Hulle het omtrent tien jaar terug begin met hul Drive E-enjins. Almal is 2.0-viersilinderturbo, petrol of diesel. Dit was veronderstel om hiperekonomiese enjins te wees. Volvo se huidige reeks enjins is alles behalwe ekonomies. Met ʼn 250 km-trippie in die D4 op snelweë om Gauteng was die beste wat hy kon bied 8,4 ℓ /100 km teen tussen 100 en 140 km/h. In vergelyking met wat BMW kan bied, is dit uiters power. Ek kon al 10 ℓ/100 km handhaaf in ʼn X5 M50d BMW terwyl ek my karavaan sleep!
Dit sal dalk regtrek soos Volvo hul hibridiese dryfstelsels bekendstel, maar vir nou is hulle beslis nie die mees ekonomiese in die segment nie.
Op die pad voel die Volvo puik. Die ritgehalte is lekker gemaklik, al loop die XC40 op enorme 20”-wiele is daar steeds 45-profiel bande om dinge gemaklik te hou. Die XC40 se padhouvermoë is puik, en ʼn mens hoef geensins te twyfel oor die Volvo se veiligheidsgeloofsbriewe nie.
Ek was aanvanklik heeltemal afgesit oor die XC40 se prys, maar toe gaan vergelyk ek hom mooi met sy direkte mededingers en sien toe dat hy heeltemal markverwant geprys is. Dit is bitter baie geld vir ʼn klein sportnuts, maar vir dié wat dit wil hê en kan bekostig – wie is ek om te stry?
Die reeks lyk só:
XC40 T3 Momentum handrat | 115 kW/265 Nm | 6,3ℓ/100km | R554 700 |
XC40 T3 Momentum outo | 115 kW/265 Nm | 6,7ℓ/100km | R583 200 |
XC40 T3 Inscription handrat | 115 kW/265 Nm | 6,3ℓ/100km | R593 700 |
XC40 T3 R-Design handrat | 115 kW/265 Nm | 6,3ℓ/100km | R603 200 |
XC40 T3 Inscription outo | 115 kW/265 Nm | 6,7ℓ/100km | R622 200 |
XC40 T3 R-Design outo | 115 kW/265 Nm | 6,7ℓ/100km | R631 700 |
XC40 D4 AWD Momentum | 140 kW/400 Nm | 5,0ℓ/100km | R678 600 |
XC40 T5 AWD Momentum | 185 kW/350 Nm | 7,7ℓ/100km | R690 300 |
XC40 D4 AWD Inscription | 140 kW/400 Nm | 5,0ℓ/100km | R717 600 |
XC40 D4 AWD R-Design | 140 kW/400 Nm | 5,0ℓ/100km | R727 100 |
XC40 T5 Geartronic AWD Inscription | 185 kW/350 Nm | 7,7ℓ/100km | R729 300 |
XC40 T5 Geartronic AWD R-Design | 185 kW/350 Nm | 7,7ℓ/100km | R738 800 |
Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan.
Die kompetisie lyk só:
Jeep Compass 2.4 4×4 Trailhawk | 129 kW/229 Nm | 9,5 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km-waarborg en ‑diensplan | R604 705 |
Volkswagen Tiguan 2.0TDI 4Motion R-Line | 130 kW/380 Nm | 6,4 ℓ/100 km | 3 jaar/120 000 km-waarborg 5 jaar/90 000 km-diensplan | R636 000 |
Mercedes-Benz GLA 200d Edition 1 | 110 kW/320 Nm | 5,1 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R656 560 |
Audi Q3 35TFSI S line | 110 kW/250 Nm | 5,9 ℓ/100 km | 1 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R663 500 |
BMW X2 xDrive20d M Sport | 140 kW/400 Nm | 5,0 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R785 268 |
Lexus UX 200 F-Sport | 126 kW/205 Nm | 6,2 ℓ/100 km | 7 jaar/105 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan | R785 400 |
Jaguar E-Pace D180 AWD R-Dynamic HSE | 132 kW/430 Nm | 5,6 ℓ/100 km | 5 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan | R909 476 |
Porsche Macan | 185 kW/370 Nm | 8,9 ℓ/100 km | 2 jaar/onbeperkte km-waarborg 3 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R932 000 |
Tussen dié mededingers sien ek uit om my hande op die Jeep te kry, en dit bly ʼn winskoop teen die prys. Die Audi hoort eintlik nie daar nie, want hy is petrol en het nie vierwielaandrywing nie, maar dien wel as ʼn prysvergelyking. Die BMW is ʼn puik opsie, sowel as die Lexus. Die Jag en die Porsche is vir die manne met die diepste sakke. Die Volvo is ʼn pragtige pakket, maar ek kan hom die brandstofverbruik nie vergewe nie, en sal dus die Tiguan koop en die ekstra R100 000 wat ek bespaar gebruik vir al die speelgoed.
Nogsteeds belaglik duur. Nie die prys werd nie. Al het hy wat se wonderlikhede, dit regverdig nognie die prys nie.
So behalwe die enjin en belaglike prys – aangename kar.
Ek sien die prys is belaglik – toe gaan kyk ek na ander belaglike pryse, en vergelyk die XC40 met VEEL BETER voertuie teen dieselfde prys, toe voel ek beter.
Die brandstof verbruik waarna verwys word is hoog, maar dit hang ook baie af van jou regtervoet se gewig. Ek ry self met ‘n 2.0 Diesel S40 en my gemiddelde verbruik is 5.5 l op die oop pad en 6.5 in stads verkeer. Dit hang net af van hoe vinnig jy by die volgende robot of stop teken wil wees en dan weer op die remme te klim.