Soos rooiwyn word sekere dinge beter met tyd. Lexus is een van daai handelsmerke. Die Japannese is ʼn verskriklik konserwatiewe nasie. Alles op sy tyd, solank dit perfek is – en niks minder sal deug nie. Waar die wêreld turbo-mal is, hang Lexus terug en sê – nee wat, gaan julle maar aan … ons weet waarmee ons besig is.
Die Lexus RX350 F-Sport is een só ʼn evolusie. Ek kan jou waarborg dat niemand in 1998 na Makoto Oshima se ontwerp van die eerste generasie RX gekyk en gedink het, wow, dis pragtig nie. Ook nie uitermatig luuks nie, maar soos Lexus grootgeword het en sy eie persoonlikheid ontwikkel het, het die Toyota-eienskappe minder en minder geword. Ek het onlangs in ʼn artikel verwys na voertuie wat private skool toe is. Die Lexus was aanvanklik ʼn private skool-Toyota, meer afgerond – maar nou is dit voorwaar ʼn handelsmerk met sy eie karakter.
Lexus is nie gepla oor die Nürburg-ring of rondetye nie. As ʼn mens na die RX350 F-Sport kyk kry jy die gevoel hier is ʼn handelsmerk-etos, ʼn ontwerptaal wat die kunstenaar trots was om te volg. As ʼn mens hom sien, weet jy dadelik dis ʼn RX. Die F-Sport afrondingspakket is vir my asemrowend mooi.
Dis wel aan die binneruim waar ʼn Lexus net in ʼn ander klas is. Dit is gemak bó alles. Die sitplekke is fantasties, elektries verstelbaar en bedek in die mooiste rooi leer. Die kajuit is ergonomies uitgelê en elke fyn detail aan aandag gegee. Já – die muis kan steeds ʼn pyn wees om die inligtingstelsel te werk – maar hy is darem nou ook ʼn raakskerm. Die toevoeging van Apple CarPlay en Android Auto is ʼn fantastiese funksie wat mens se hande in elk geval van die stelsels afhou. Ek kon aanvanklik nie die lugreëling baasraak nie – maar na ʼn gevroetel het ek dit uitgepluis. Die RX se veiligheid is fantasties met tien lugsakke, blindekolwaarskuwing en aanpasbare spoedbeheer met botsingwaarskuwing.
Die RX350 F-Sport maak gebruik van ʼn romerige 3.5 V6 petrolenjin. Dit bied 221 kW en 370 Nm. 0 – 100 km/h neem ʼn ratse agt sekondes en die RX is elektronies beperk tot 200 km/h. Lexus beweer ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 9.6 ℓ/ 100 km. Die 8-spoed ratkas “jag” partykeer ratte, maar die ratkas is intelligent – so pas aan by jou bestuurstyl. Dit kan wees dat ek net bietjie hardhandig was met die RX, dus was sy ratkas altyd blitsig om terug te skop om die beste versnelling te bied.
Die F-Sport pakket op die RX gee vir dit ʼn jonger, meer sportiewe karakter waarvan ek baie hou. Twee funksies staan vir my kop en skouers bó die mededingers uit … een van hulle is Lexus se outo helderligte met wat hulle noem BladeScan-tegnologie. Meeste van die nuwe auto high beam assist funksies waarmee karre uitkom draai die LED-lig weg van die aankomende verkeer af. Lexus maak gebruik van ʼn spieëltjie wat teen 12 000 r/min draai en die LED weerkaats.
Die stelsel werk puik en ʼn mens kan letterlik jou helderligte aan laat en nie weer daaroor besorg wees nie. Die ander funksie is die Mark Levinson-klankstelsel met 15 luidsprekers. Daar is min stelsels wat naby dié klankstelsel kom. Volvo se Bowers & Wilkins is die enigste een in dié prysklas en die ander is die Bang & Olufsen in ʼn Lamborghini Urus.
Op die pad is die RX ʼn ware juweel. Lexus het nie in dieselfde lokval getrap as al sy mededingers nie. Die rit is pragtig, soepel en sag met bitter min NVH (Noise, Vibration and Harshness). Al is die rit só sag, is padhouvermoë beter as wat enige RX-eienaar óóit sal nodig hê. Dit maak die RX ʼn pragtige toer-maat. Die RX eet die myle onversadigbaar op, en lyk fantasties terwyl hy dit doen.
Die reeks lyk só:
Lexus RX350 EX | 221 kW/ 370 Nm | 9.6 ℓ/ 100 km | R1 012 000 |
Lexus RX350 RX | 221 kW/ 370 Nm | 9.6 ℓ/ 100 km | R1 087 000 |
Lexus RX350 EX L | 216 kW/ 358 Nm | 10.2 ℓ/ 100 km | R1 087 000 |
Lexus RX350 F-Sport | 221 kW/ 370 Nm | 9.6 ℓ/ 100 km | R1 132 200 |
Lexus RX450h SE | 230e kW/ 335 + e Nm | 5.7 ℓ/ 100 km | R1 315 800 |
Die reeks word gedek deur ʼn 7 jaar/ 105 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplan. Die waarborg op die hibried-battery is 8 jaar/ 195 000 km. Diensintervalle is elke 15 000 km.
Die kompetisie lyk só:
Mercedes-Benz GLE450 4Matic | 286 kW/ 500 Nm | 9.4 ℓ/ 100 km | 2 jaar/ onbeperkte km waarborg 5 jaar/ 100 000km omvattende instandhoudingsplan | R1 337 855 |
BMW X6 xDrive40i | 250 kW/ 450 Nm | 9.0 ℓ/ 100 km | 2 jaar/ onbeperkte km waarborg 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R1 345 879 |
Jaguar F-Pace 35t AWD S | 280 kW/ 450 Nm | 8.9 ℓ/ 100 km | 5 jaar/ 100 000 km waarborg 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R1 348 059 |
Audi Q8 55TFSI Quattro | 250 kW/ 500 Nm | 9.1 ℓ/ 100 km | 1 jaar/ onbeperkte km waarborg 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R1 397 500 |
Tussen dié mededingers is die RX puik geprys. Ja, die mededingers het almal turboaangejaagde enjins – maar Lexus bied ʼn hibried….