Februarie se motorverkope die beste in amper ’n jaar

Die Toyota Corolla Cross

Die nuwevoertuigmark het in Februarie verder voortgebeur en sy beste verkoopsmaand sedert Maart verlede jaar aangeteken.

Volgens Naamsa, oftewel die Motorvervoer-sakeraad, het nuwemotorverkope in Februarie met 18,4% vergeleke met Februarie 2021 gegroei, tot 44 229 eenhede.

Toyota het 13 458 voertuie verkoop, terwyl hulle nóg 5 101 eenhede uitgevoer het. Volkswagen staan sterk in die tweede plek met 6 153 plaaslike verkope en 8 448 uitvoere. Suzuki is weer in die derde plek met 3 240 eenhede verkoop. Hyundai (3 017), Nissan (2 126), Haval (2 054) Renault (2 047), Ford (1 877), Kia (1 737) en Isuzu (1 677) rond die res van die toptien af.

Ford steier steeds weens die wêreldwye halfgeleiermikroskyfiekrisis en dit wil uit die verkope lyk asof hulle die ergste hieronder ly terwyl ander vervaardigers ondanks die krisis steeds uiters goeie verkope aanteken.

Die Hilux-bakkie en die Corolla Cross was Toyota se topverkopers. Volkswagen se Polo het koning gekraai onder sy modelle, terwyl die Swift Suzuki se staatmaker was. Die Atos en Venue het vir Hyundai vir die meeste verkope gesorg, terwyl die NP200 en Navara Nissan se gewildste modelle was. Die P Series-bakkie en Jolion is Haval se staatmakers en die Kwid het Renault se posisie in die toptien verseker. Die Ranger-bakkie, die Picanto en die D-Max-bakkie was Ford, Kia en Isuzu se gewildste modelle.

“Dit is bemoedigend dat verkope op is vir die eerste twee maande van die jaar in vergelyking met Januarie en Februarie verlede jaar, ten spyte van die verskaffingskwessies wat die meeste franchises raak,” sê Mark Dommisse, voorsitter van die Nasionale Motorhandelaarsvereniging (Nada).

“’n Interessante statistiek het uitgekom in die lys van verkope van elektriese, inprophibried- en tradisionele hibriedvoertuie, wat gekombineerd met ’n indrukwekkende 535% op ’n jaar-tot-datum-grondslag toegeneem het van slegs 34 eenhede in die eerste twee maande van 2021 tot 216 eenhede in dieselfde maande vanjaar.

“Dit kan deels toegeskryf word aan die nuwe Toyota Corolla Cross wat Suid-Afrika se topverkoper-passasiersmotor in Februarie was en waar daar groot aanvraag na die hibriede variant van hierdie model is. Natuurlik sal die bekendstelling van baie nuwe elektriese modelle van tophandelsmerke soos Audi, BMW en Mercedes net vorentoe tot hierdie syfer bydra.”

Volgens Dommisse was die begrotingsrede se goeie nuus van geen groot belastingverhogings of heffings nie van korte duur met die reusestygings in brandstofpryse wat aangekondig is.

“Die konflik wat in Europa ontrafel is baie kommerwekkend en saam met die brandstofprysskok vandeesmaand sal dit na alle waarskynlikheid verkope in die toekoms beïnvloed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.