Ford-aanleg maak reg vir nuwe Ranger en Raptor

Die splinternuwe Ford Ranger is in Silverton bekendgestel. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die eerste prototipes van die nuwe Everest en Ranger is in al hul volle glorie by die Ford-aanleg in Silverton bekendgestel. Vir voornemende kopers sal die Ranger aan die einde van die jaar in vertoonlokale te siene wees en die Everest vroeg volgende jaar. Die Raptor sal later in 2023 volg.

Die nuwe Ranger en Raptor gaan slegs in Suid Afrika gebou word, maar hierdie voorreg het nie goedkoop en oornag gekom nie. “Ford het verlede jaar $1 miljard (R15,8 miljard) belê om die aanleg hiervoor toe te rus, asook in ons verskaffingsnetwerk. Dit sal nou een van die grootste voertuigaanlegte in Suid-Afrika wees,” sê Neale Hill, hoof- uitvoerende beampte van Ford Suid-Afrika en sub-Sahara-Afrika (Afrika suid van die Sahara) en president van Ford Afrika.

‘n Ranger op die huidige monteerlyn in die Silverton-aanleg. (Du Preez de Villiers)

Maroela Media het vroeër berig hoe belangrik dié motorreus vir die Suid-Afrikaanse ekonomie is.

“Ford dra tans amper 2% tot die bruto binnelandse produk van Suid-Afrika by en volgende jaar vier ons ʼn eeu lange betrokkenheid in Suid-Afrika,” sê hy.

Neale Hill, hoof- uitvoerende beampte van Ford Suid-Afrika en Afrika suid van die Sahara en president van Ford Afrika aan die woord. (Foto: Du Preez de Villiers)

Nuwe gevorderde tegnologieë en stelsels is aangeskaf om dié aanleg te moderniseer. Dit sluit die bou van ʼn paneelpers-fasiliteit met die nuutste robottegnologie in. Daarbenewens is die fabriek ook aansienlik groter gemaak en spog nou met ʼn totale oppervlakte van 10 200 m2 .

Ford sal ʼn bykomende 1 200 werknemers aanstel, wat sy algehele arbeidsmag in Suid-Afrika op 5 500 te staan ​​sal bring. Die belegging sal ook na raming 10 000 nuwe werksgeleenthede in Ford se plaaslike verskaffersnetwerk skep. Altesaam 60 000 werknemers sal dan uiteindelik van Ford afhanklik wees.

Die nuwe Ranger se onderstelle gaan ook in Silverton vervaardig word, in plaas van in die Rosslyn-aanleg, waar dit vir die huidige Ranger gedoen word.

Silverton sal ook een van die eerste Ford-aanlegte in die wêreld word wat “eilandmodus”-status sal bereik. Teen 2024 sal hy heeltemal selfvoorsienend in sy energiebehoeftes, asook koolstofneutraal wees.

Die splinternuwe Ford Everest, wat in Thailand vervaardig gaan word, is bekendgestel. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die Struandale-enjinaanleg in Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) het ook ʼn noemenswaardige finansiële inspuiting gekry om die nuwe Ranger se enjins aanmekaar te sit. R600 miljoen is belê in ʼn nuwe 3,0 ℓ-V6-turbodieselenjin-monteerlyn en aanpassings is aan die bestaande monteerlyn vir die 2,0 ℓ-enkelturbo- en 2,0 ℓ-bi-turbo-dieselenjins gedoen.

Die jaarlikse kapasiteit van die Silverton-aanleg sal tot 200 000 voertuie, vanaf 168 000, vir binnelandse verkope en uitvoer na meer as 100 lande verhoog.

Nog Ranger foto’s: 

 

Nog Everest foto’s:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Wielspore ·

Uitstaande mylpaal vir motor vervaardiging in SA wat nuwe standaarde van kwaliteit en bougehalte gaan stel. Voorneemende kopers kan weet dat hulle ‘n uitstaande voertuie gaan koop. Ford se Ranger en Volkswagen se Amarok gaan binnekort die oogvanger op SA se paaie wees. Dit wil voorkom of Ford se Bantam bakkie en Volkswagen se Caddy bakkie (Saveiro) ook binnekort bekend gestel gaan word.
Baie geluk aan Ford met die nuwe projek.

RS ·

Wow! Baie geluk. Wat n mooi bakkie. Wish I could own it. Hy gaan n goeie verkoper wees.

VaalDonkie ·

Kyk, ek hou niks van Ford nie. Maar hulle is darem nog hier terwyl GM die hasepad gekies het. En Ford verstaan die SA mark darem.

Martin ·

Ek en my vrou het 4 jaar gelede ‘n nuwe FORD Ranger bakkie gekoop by ons naaste FORD handelaar. Ons het van dag 1 af goeie diens ontvang en het nie ‘n dag se probleme met ons voertuig gehad nie. Dankie FORD hou so aan. Aan al my vriende en kollegas wat altyd aanmerkings maak oor FORD voertuie – julle is net jaloers…

krodedil ·

Een van die dae ry jou vriende en kollegas ook Ford. Tye het verander want daar is meer as net een keuse.

Jakez ·

Net jammer Ford onttrek die Fiesta uit die SA mark – puik voertuie.

FrikkievV ·

Ek self nie ‘n Ford ondersteuner nie maar die nuwe generasie Ford bakkies is darem spiekeries.
Wel gedaan Ford vir al die nuwe werk geleenthede wat julle skep.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.