Ford belê selfs verder in e-voertuie

Ford Mustang Mach-E

Ford het Woensdag aangekondig dat hy sy beleggings in geen-emissievoertuie gaan verhoog – met ʼn teiken om teen 2030 minstens 40% van sy verkope deur volledig elektriese voertuie te genereer.

Die Amerikaanse motorvervaardiger sê dat dit die belegging in elektriese voertuie, onderdele en infrastruktuur teen 2025 tot meer as $30 miljard (sowat R406 miljard) sal verhoog.

“Dit is ons grootste geleentheid vir groei en waardeskepping sedert Henry Ford met die Model T begin het, en ons gryp dit met albei hande aan,” het Jim Farley, uitvoerende hoof van Ford, in ʼn verklaring gesê.

Die maatskappy het verlede week ʼn volledig elektriese weergawe van sy topverkoper F-150-bakkie in ʼn omgewingsvriendelike weergawe bekendgestel. Ford het binne ʼn week sowat 70 000 bestellings vir dié voertuig ontvang.

Benewens die batteryaangedrewe F-150 Lightning het die motorhandelaar ook met verkope van die elektriese Mustang Mach-E sportnutsvoertuig begin en sal dit na verwagting binnekort die E-Transit-vragwa in vertoonlokale bekendstel.

Motorvervaardigers wêreldwyd het tot die geen-emissie-beweging toegetree in ʼn poging om aardverwarming hok te slaan. Enkele nuwelinge het ook tot dié mark toegetree, waaronder die beginnerondernemings Rivian en Lucid.

General Motors, Ford se grootste mededinger, het hom in Januarie daartoe verbind om teen 2035 nie meer diesel- of petrolaangedrewe motors te vervaardig nie. Die Duitse motorvervaardiger Volkswagen is ook van plan om teen 2030 naastenby 70 elektriese modelle aan te bied en oor tien jaar byna 26 miljoen eenhede te verkoop.

Die elektroniese motorvervaardiger Tesla bly egter steeds die oorheersende dryfkrag in die elektriese motormark, met ʼn geskatte waarde van $580 miljard vergeleke met Ford se $51 miljard.

Volgens die spesialisfirma Cox het elektriese motors egter in die eerste kwartaal nog net 2,5 persent van alle Amerikaanse verkope uitgemaak.

Die VSA se pres. Joe Biden het die ontwikkeling van elektriese motors ʼn prioriteit gemaak.

Sy plan vir massiewe beleggings in infrastruktuur wat tans bespreek word, bied verskeie aansporings, waaronder die oprigting van ʼn nasionale netwerk van 500 000 laaistasies teen 2030 en ʼn plan dat 20% van skoolbusse elektries aangedrewe moet wees.

Ford pak Tesla aan met die doel om “teen die einde van 2021 ongeveer een miljoen voertuie te hê wat oor-die-lug-stelselopdaterings kan ontvang, wat Tesla se volume teen Julie 2022 sal oorskry”.

Onder die inisiatiewe wat Woensdag aangebied is as deel van die “Ford +” -plan om groei te bevorder, het die maatskappy ook die stigting van Ford Pro aangekondig. Dit is ʼn wêreldwye voertuigdiens- en verspreidingsonderneming wat toegewy is aan kommersiële en regeringskliënte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stof ·

Dan vra ek weereens, is die verbod op elektriese voertuie op deurpaaie nie die doodsteek vir hierdie ontwikkeling nie? Baie padgebruikers gebruik daagliks deurpaaie.

JohanR ·

2030 as ‘n motor jou tref dan het jy hom nie eers hoor aankom nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.