Ek het ʼn tydjie gelede ʼn week met Ford se Tourneo Custom deurgebring en ek was ongelukkig erg teleurgesteld met die ratkas. Jy kan daai vergelyking hier lees. Ek is oortuig dit is nie nét van my gekerm nie, maar Ford het geluister… en sopas twee nuwe weergawes tot sy Tourneo Custom‑reeks bygevoeg.
Die twee weergawes het twee welkome opknappings. ʼn Nuwe 2.0‑viersilinder‑enkelturbodiesel in twee kragvlakke, en ʼn nuwe 6-spoed‑ outomatiese ratkas. Dié nuus is musiek vir my ore. Die nuwe enjin maak gebruik van AdBlue‑tegnologie, en is beskikbaar in Trend‑spesifikasievlak met 96 kW en 385 Nm, of Limited‑spesifikasievlak met 136 kW en 415 Nm.
Albei enjins maak gebruik van Ford se AdBlue‑tegnologie en is die eerste modelle in Suid-Afrika. Dit gebruik ʼn nie-toksiese ureum/water‑oplossing om stikstofoksied NOx in die uitlaatgasse te omskep in eko-vriendelike stikstof en water. Dié stelsel saam met die dieselstofdeeltjiefilter verminder meer as 99% van die stofdeeltjies van die uitlaatgasse. Die AdBlue word in ʼn 21 liter‑tenk gestoor, en sy vuller is direk onder die diesel se gaatjie. Daar is ʼn waarskuwing op die paneelbord wat wys hoeveel reikafstand oor is, en wanneer die AdBlue gevul moet word.
Die binneruim word opgeknap met ʼn nuwe paneelbord en Ford se SYNC3‑raakskerminligtingstelsel. Dié stelsel bied Apple CarPlay sowel as Android Auto. Die Trend‑weergawe kry ʼn 4”‑raakskerm en die Limited ʼn 8”‑skerm.
Ons sal binnekort die nuwe Tourneo Custom onder hande kry, maar in die tussentyd lyk die reeks só:
Ford Tourneo Custom 2.2 TDCi Ambiente 6-spd-handrat | 74 kW/310 Nm | R621 500 |
Ford Tourneo Custom 2.2 TDCi Trend 6-spd-handrat | 92 kW/350 Nm | R646 000 |
Ford Tourneo Custom 2.2 TDCi Limited 6-spd-handrat | 114 kW/385 Nm | R695 600 |
Ford Tourneo Custom 2.0 SiT Trend 6-spd-outo | 96 kW/385 Nm | R700 200 |
Ford Tourneo Custom 2.0 SiT Limited 6-spd-outo | 136 kW/415 Nm | R740 900 |
Die reeks word gedek deur Ford se 4 jaar/120 000 km‑waarborg en 6 jaar/90 000 km‑diensplan.
Ons sal met die volledige resensie die Tourneo Custom weer met sy mededingers vergelyk.
Ford sal moet bykom met die hele ratkas probleme. Selfs in hulle Rangers.