Ford: ʼn Eeu van mense, modelle en herinneringe

Ford is reeds 100 jaar in Suid-Afrika en daar is waarskynlik nie een gesin in die land wat nie iewers met ʼn Ford te doen gehad het nie. My pa het klomp Escorts gehad, en Bantam-bakkies … toe het my ma ʼn Ford Laser gehad. ʼn Mooi bloue. Die Laser is ingeruil op ʼn Ford Husky-bus – ons was vier kinders.

Moontlik die mooiste van die lot en die gewildste was my oom se bloedrooi Ford Cortina XR6.

Die eerste Cortina het in 1962 in Suid-Afrika aangeland met ʼn piepklein 1.2-enjin en ʼn ewe skraal topspoed van 125 km/h. Ford het darem in 1963 die befaamde Cortina GT bekendgestel.

Die GT het met laer vering, ʼn toereteller, korter rathefboompie en remskywe voor gespog, maar belangrikste van als was die 1.5-enjin met sy Weber-vergasser, ewelengte-uitlaatspruitstuk, effens hoër kompressieverhouding en wilder nokas. Ons moet ook nie vergeet van die GT-embleempies nie.

Terwyl die Cortina GT 61 kW uitgestoot het, was dit steeds nie genoeg nie. Ford het toe die Lotus Cortina bekendgestel. Die Lotus Cortina is deur F1-legende Colin Chapman ontwikkel. Terwyl die 78 kW- Lotus Cortina nie by ʼn handelaar beskikbaar was nie, het Ford twee ingevoer vir Basil van Rooyen en Koos Swanepoel om in 1964 mee te jaag in die sedanmotor-kampioenskap.

Basil Green het in 1968 ʼn V6 uit ʼn Zodiac in ʼn Cortina ingewurg. Só is die Perana-naamplaatjie gebore en daarna het ons die fantastiese Capri Perana met sy enorme V8 gekry!

Tydens die derdegenerasie-Cortina se leeftyd in Suid-Afrika is ʼn bakkie ontwikkel. Dit was só ʼn groot sukses dat die Cortina-bakkie uitgevoer is Engeland toe. Ons self het ʼn V6-Cortina-bakkie gehad waarmee ons die woonwa viswaters toe gesleep het.

Die finale kroon op die Cortina-reeks was 200 Interceptor-modelle. Die Interceptor het drie Weber-vergassers opgehad, ook die ewelengte-uitlaatspruitstuk, ʼn wilde nokas, beter vering en sierwiele. Die Interceptor het weereens met motorrenne te doen gehad en Sarel van der Merwe en Geoff Mortimer het gereeld in hul klas met die louere weggestap.

Teen die tyd dat die Cortina-produksie in 1983 gestaak is, het Ford ʼn allemintige 303 000 in Suid-Afrika verkoop.

Soos die Cortina se lang geskiedenis in Suid-Afrika is daar ʼn familie in Gqeberha (Port Elizabeth) wat nou al in hul derde generasie ʼn pad met Ford stap. Graham Boswell het in 1972 sy loopbaan by Ford begin ná sy pa ook vir 30 jaar by Ford gewerk het. Graham het 47 jaar aan Ford toegewy.

Die jongste Boswell, Terry-Lee, werk ook by Ford en het haar man daar ontmoet. Só het die klein blou Ford-embleempies volksbesit geword en is ons bloed nie nét blou vir die Bulls nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet 6 ·

In die ou Cortina en Granada dae:

Foute Oral Reperasies Daagliks.

Zandra ·

Trotse eienaar van 2 Fords
een ouer as jou kind maar die mooiste en enigste van sy soort in SA!
die ander een 2000 model
geen probleme
geen olie lekke
kyk na jou kar en hy kyk na jou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.