Ford Ranger: Gepantser teen die aanslae van die lewe

(Foto: Verskaf)

Gepantserde voertuie is niks nuuts nie. Ons sien hulle daagliks op ons paaie terwyl hulle waardevolle vragte heen en weer vervoer. Uit ʼn estetiese oogpunt is dit gewoonlik nie baie aantreklike voertuie nie, en boonop baie lomp, maar hulle dien ʼn spesifieke doel.

Daar is natuurlik ook meer luukse voertuie beskikbaar wat gepantser is met die uitsluitlike doel om baie belangrike persone soos filmsterre, politici en ander hoëprofiel-insittendes veilig by hul bestemmings te kry.

Kortom, gepantserde voertuie is ons gewone mense nie beskore nie.

Die Ford Motormaatskappy van Suider-Afrika (FMCSA) het egter onlangs aangekondig dat sy immergewilde Ranger nou met ʼn Ford-goedgekeurde gepantserde baadjie beskikbaar is. Dis te danke aan ʼn samewerkingsooreenkoms met SVI Engineering, en beteken dat die Ranger nou in ʼn heel nuwe segment vir private klante én vlootklante meeding.

ʼn Paar lede van die media het die geleentheid gehad om die gepantserde Ranger onder oë en hande te kry. Die vraag op almal se lippe was of daar werklik ʼn mark vir so ʼn tipe voertuig is. Die antwoord was verstommend – en ongelukkig – ja.

(Foto: Verskaf)

Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens se statistieke vir 2020-’21 word daar jaarliks meer as 18 000 voertuie in Suid-Afrika gekaap. Soms gaan dit gepaard met ernstige besering, so ʼn ekstra laag beskerming maak sin.

“Natuurlik wens ons almal dat daar geen nut vir gepantserde voertuie was nie, maar die veiligheid van die insittendes was nog altyd vir Ford ʼn prioriteit. Met die gepantserde Ranger voer ons dit nou ʼn stappie verder,” het Neale Hill, die grootbaas van FMCSA, gesê.

Boonop is daar nou ʼn opsie wat nie so lelik soos die nag is óf ʼn Bosveldplaas se prys kos nie. Dit raak ook nie die waarborg of diensplan van die Ranger nie.

SVI Engineering bestaan sedert 2004 en ontwikkel en vervaardig gepantserde produkte vir die militêre, sekuriteits- en burgerlike mark. Volgens die hoof- uitvoerende beampte van dié maatskappy, Jaco de Kock, is daar ʼn toenemende vraag na gepantserde voertuie vir private gebruik.

“Dis ongelukkig ʼn teken van die tye waarin ons leef,” het hy verduidelik. “In heelwat gevalle is dit ʼn baie emosionele besluit. Dis dikwels mense wat reeds in voorvalle van geweld betrokke was wat ons nader om hul voertuie te pantser. Die Ranger is nie net ʼn gewilde, betroubare en bewese voertuig nie, maar Ford se goeie naam vir innovering en uitstekende klantediens beteken dat ons goeie pasmaats is.”

SVI bied twee vlakke van Ford-goedgekeurde pantsering aan en dis beskikbaar vir alle modelle in die Ranger-reeks: B4 en B6.

Die B4- gepantserde spesifikasievlak bied beskerming teen handwapens tot .44-Magnum. Dis geskik vir tipiese kapings- en klipgooisituasies. Hier word gepantserde glas van 18 tot 22 mm dik en Kevlar-plate vir die bakwerk gebruik. Dit word so diskreet gedoen dat g’n mens met die blote oog sal raaksien dat dié Ranger enigsins van sy stalmaats verskil nie.

Al waar ek wel die verskil agtergekom het, is met die oop- en toemaak van die deure; hulle voel swaarder as gewoonlik. En van swaar gepraat, met die B4-spesifikasievlak weeg ʼn Ranger-dubbelkajuit ʼn skrale 280 kg meer. Dis omtrent die gewig van twee passasiers, so op die pad gaan jy nie juis die verskil voel nie. Die invloed op werkverrigting, brandstofverbruik en hantering is minimaal.

Ons het in erge stormweer die gepantserde Ranger deur sy passies gesit en al was die teerpaaie sopnat en seepglad en die 4×4-baan wat vir ons uitgelê is een groot modderbad, het die Ranger met sy dikker vel vir geen oomblik geaarsel nie.

Om ʼn Ranger met die B4-spesifikasie toe te rus neem ongeveer agt weke.

Vir diegene wat graag ʼn bietjie meer beskerming wil hê, is daar die B6-spesifikasievlak. Dis die hoogste vlak van pantsering vir burgerlike gebruik en kan aanslae met ʼn R1 of AK47 teenstaan. Dis te danke aan 38 mm-glas en spesiale versterkte staalplate. Uiteraard weeg dit meer as die B4-spesifikasie – 650 kg om presies te wees – en daarom moet die Ranger se veringstelsel ook bygewerk word.

Met die B6-spesifikasievlak kan klante kies tussen ʼn “diskrete” aanwending of die meer kostedoeltreffende en minder diskrete sogenaamde Stopgun V2.0-opsie. Die installering van die diskrete opsie neem 12 weke, maar die minder diskrete opsie – wat ʼn tweedelige windskerm insluit – neem slegs twee weke.

Die diskrete opsie maak sin vir diegene wat ekstra beskerming wil hê, maar verkies dat hul ryding nog mooi lyk en nie soos ʼn tenk nie.

Uiteraard is die ruite wat gebruik word vir die gepantserde Rangers ʼn baie belangrike komponent. Dié wat deur SVI gebruik word, bestaan uit spesiale lae glas en polikarbonaat wat kompressie en drukking kan weerstaan. Ons het aan ʼn spesiale demonstrasie met ʼn 9 mm-handwapen en ʼn AK47 deelgeneem. Met die handwapen het die buitekant van die ruit as’t ware ontplof, maar aan die binnekant was die ruit nog seepglad.

Die B4- en B6-spesifikasievlakke dek alle ruite, die A-, B- en C-pilare, al die deure, die agterkant van die kajuit, die voorste buffer, die battery en die sluitweer-remeenheid.

Klante het ook die opsie om die dak, vloer en sierrooster te laat pantser. Sogenaamde “runflat”-bande kan ook aangebring word.

Dit word alles deur Ford goedgekeur en het geen invloed op die Ranger se standaardwaarborg van vier jaar/100 000 km, of die padbystand van drie jaar/onbeperkte afstand en roeswaarborg van vyf jaar/onbeperkte afstand nie. ʼn Diensplan van ses jaar/90 000 km is ook deel van die pakket en dek ses dienste. Dienste moet elke 15 000 km plaasvind of een keer per jaar, wat ook al eerste voorkom.

Wat die pantsering betref, bied SVI ʼn waarborg van een jaar/50 000 km.

Die Ranger is die enigste gepantserde bakkie op die plaaslike mark en kan by enige van Ford se 134 handelaars landwyd bestel word. Uiteraard is die koste verbonde aan die pantsering benewens die aankoopprys van die gekose Ranger-model en sluit nie BTW in nie.

Model  B4B6 diskreetB6 Stopgun V2.0
Ranger-enkelkajuitR234 413R527 990R234 413
Ranger-superkajuitR454 371R688 225R271 163
Ranger-dubbelkajuitR454 371R688 225R335 202

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Grens

Great, nou moet hulle net nog die bakkie bou dat hy nie elke 100 000km ‘n nuwe engin moet kry nie.

Alet

Is dit die prys wanneer mens dit laat aanbring indien jy reeds ‘n Ranger het?

Alet

O ok ek sien ek het nie mooi gelees nie