Ford Ranger Thunder bult sy spiere

Suid-Afrikaners is darem bitter lief vir ons bakkies. Ek was nog altyd opgewonde as ek ʼn dubbelkajuitbakkie kry om te toets, maar vir die eerste keer leef ek ʼn bietjie met een – en ek sal vir jou sê, ʼn mens raak vinnig gewoond aan die ou staatmaker wat in die oprit staan.

By Maroela Media is daar gereeld takies wat uitgevoer moet word waarvoor ons ʼn groot voertuig nodig het en tot nou was daar nog net Christo Brits, ons besigheidsbestuurder, se Fortuner. Gelukkig kan die bakkie nou ingespan word. Eugene Lottering, ons projekbestuurder, het onlangs die Ranger gebruik en was verbaas met die krag wat die 2.0 BiTurbo bied. Eugene is rietskraal en was lekker beïndruk met die sitplekverwarmers wat help met ʼn bietjie hitte in die lyf inkry.

Du Preez de Villiers, ons landboujoernalis, moes ʼn boeredag bywoon. Dit was sy eerste beurt met die Thunder en hy het die Vrydag na Thabazimbi vertrek. Soos met enige Vrydag moet ʼn mens vir die busse en die taxi’s op pad na Limpopo bontstaan. Gelukkig het die Thunder ʼn botsingwaarskuwingstelsel wat fantasties werk. Du Preez het dadelik tuis gevoel tussen die boere en heerlik op die grondpaaie voet in die hoek gesit. Hy soek nou egter ʼn geleentheid om die Vrystaat te besoek, net om nóg grondpaaie te gaan aandurf met die Ranger. Ek wonder egter hoe hy sal voel as hy eers ʼn Raptor beleef?

Susan Lombaard, ons uitvoerende hoof, het ook ʼn behoefte vir die bakkie gehad. Haar dogter het aan ʼn ruitersportkompetisie deelgeneem en die pad tot waar dit plaasgevind het was maar rof. Verskeie mammas was al te jaloers op Susan se hoë bakkie wat tjoef-tjaf deur die modder gespring het. Susan kon nie anders as om net te glimlag nie.

Ek het intussen verhuis en weens die stygende Covid-19-gevalle werk ons weer tuis. Nadat ek self Covid-19 opgedoen het, het ek ʼn paar toetsmotors gekanselleer aangesien die Ranger in my oprit staan. Ons het weer ʼn paar keer tuinvullis weggery en ʼn klomp grond gaan haal om te begin timmer aan die grasperk vir die lente.

Met die Ranger Thunder is dit die eerste keer dat ek my “eie” bakkie het. Ek sal wel sê – dit gaan ʼn reuseprobleem wees as hy teruggaan na Ford toe, want ʼn mens raak bitter vinnig gewoond aan die familievoertuig, wat ook 3,5 ton kan sleep én ʼn paar honderd kilogram op sy rug kan laai.

Is daar egter al iets wat pla? Ek moet werklik hard dink hier. As jy groot goed wil laai moet jy die verdeler in die bak uithaal, en die rolluik neem ʼn bietjie spasie in beslag, maar wat daardie twee dinge bied maak die dubbelkajuit lekkerder om elke dag mee saam te leef, so dis nie ʼn slegte punt nie. Hier in die woonbuurt rond, skool toe en terug is maar net-net meer as 1 km so die BiTurbo kan wild raak op brandstof, maar die oomblik wat ʼn mens die snelweg klim, verbeter die brandstofverbruik.

Ons Thunder is halfpad toegerus vir die Ford Pass-app. Die nuwer modelle het ekstra funksionaliteit maar met dié een kan jy die brandstofvlak, odometer en diensrekord sien. Ons Thunder gaan vinnig ʼn draai maak by een van ons naaste handelaars om seker te maak alles is piekfyn voordat hy so 5 000 km gaan trotseer deur die Karoo Suid-Kaap toe en terug. In die volgende artikel sal ek meer insig gee oor daardie ervaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VaalDonkie ·

So kom ek mos eenkeer terug Kaap toe van my vakansie in Plett en een van hierdie bakkies kom ry op my alie. Toe sit ek maar my Subaru Forester terug in 4de rat en jaag vir hom weg. Kyk, die bakkie is vinnig en als, maar jy moet darem nog jou respekte ken. gaan ry volgende eerder agter ‘n Golf GTI of iets.

MakersMark ·

Vale die bakkie brigade ken net een spoed – so vinnig as moontlik veral op die afdraande en dan hou hul daarvan om jou te probeer “intimideer” deur bo op jou te ry. Teen die opdraandes……ander storie dan hou die diesel branders juis nie by nie.

Adam Adriaan ·

Agente verkoop ook die olie wat hy gebruik in die kleur van jou motorhuis se vloer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.