Ford Ranger Thunder ʼn MacGyver-mes

In die motorjoernalistiek meet party joernaliste of uitgewers hul staal aan ʼn langtermyn-toetsmotor. Sou ons dieselfde gedoen het, kon ons nou eintlik ʼn bietjie spog. Maroela Media het sy heel eerste langtermyn-toetsmotor. En dis nie sommer enige tjor nie, nee.

Vir my sondes in die eerste episode van Perdekrag het Ford besluit dat ek eenvoudig te min tyd al in ʼn Ranger deurgebring het. Ek moet dus ses maande met een verwyl … om beter te leer ken waaroor gaan #livingtherangerlife.

Ford het aanvanklik beplan om vir ons ʼn XL Sport te gee, maar ons het een voorvereiste gehad. Vir Perdekrag vervoer ons ʼn kleinhuisie vol gereedskap wat net duskant ʼn halfmiljoen rand kos … dus het ons ʼn sluitbare rolluik nodig gehad. Die een wat hulle met ʼn rolluik beskikbaar gehad het, was ʼn Ford Ranger Thunder 2.0 Bi-Turbo-dubbelkajuit 4×4 outo. Nou ja, dis die groot meneer.

Ons bakkie het al sy eerste paar weke met ons deurgebring – en enige bakkie wat sy sout werd is, skrik vir niks.

Ons Thunder het al ʼn kluis gaan haal, ʼn waentjie gesleep, weggegaan vir ʼn naweek, twee episodes van Perdekrag geskiet, gehelp trek, woonwa gesleep, dam toe gegaan en staan nou rustig in die parkeerterrein by die kantoor en skep ʼn bietjie asem.

Daar het nou al klomp mense die Ranger onder hande gehad, en hulle kan nie ophou kommentaar lewer oor hoe luuks die bakkie is nie – ook die gehalte aan die binneruim, hoe stil dit is in die kajuit en die uitstekende bougehalte.

In dié artikel wil ek die Thunder welkom heet. Ons sal sy sterk- en swakpunte in verskeie artikels oor die volgende ses maande uitsonder. Sy eerste sterkpunt wat ek in dié artikel sal uitlig, is die veelsydigheid van die voertuig. ʼn Dubbelkajuit met ʼn sluitbare rolluik op die bak word eenvoudig ʼn MacGyver-mes. Die Thunder kan 4×4, ʼn gesin van vyf huisves, 3,5 ton sleep, ʼn klomp goed in die laaibak veilig hou … die lysie hou aan.

Ek dink mettertyd gaan dit moeilik raak om swakpunte te identifiseer, maar daar is dalk net een, tyd sal leer.

Die voertuig lyk só:

Logboek
Begin-km18 250 km
Huidige km20 358 km
Km afgelê2 108 km
Brandstofverbruik (werklik)10,4 ℓ/100 km

 

Ford Ranger Thunder 2.0 Bi-Turbo-dubbelkajuit 4×4 outo
Krag157 kW/500 Nm
Brandstofverbruik (vervaardiger)8.1 ℓ/100 km
Euro NCAP-veiligheidsgradering5-ster
Lugsakke7
Sleepkapasiteit3 500 kg
Diensplan & waarborg4 jaar/120 000 km-waarborg

6 jaar/ 90 000 km diensplan

PrysR830 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.