Ford se nuwe Ranger Stormtrak is hier

(Foto: Verskaf)

Dit is vir elke vervaardiger ʼn groot uitdaging om nuwe lewe te blaas in ʼn model wat al amper aan die einde van sy lewensiklus kom.

Ford het groot planne in Suid-Afrika en is reeds besig met ʼn R15,8 miljard-belegging in Silverton. Dit is om gereed te maak vir die volgende Ranger én Amarok. Albei sal hier in Pretoria gebou word.

Ford het die Ranger Thunder ʼn tydjie gelede bekendgestel, en handelaars kon nie voorbly nie. Die Stormtrak is basies presies die Thunder, maar daar is ’n bykomende kleuropsie en nog ’n verandering – iets wat my grootste pyn aanspreek. Die rolluik op die Thunder waarmee ons vir ses maande gery het, was nogal moeilik om oop en toe te maak en oop en toe te sluit. Die Stormtrak se rolluik is elektries met ʼn knoppie in die kajuit om hom oop en toe te maak.

Die huidige Ranger is die beste nog. Nie nét oor sy ontwerp nie, maar mense kan ook die afrondingswerk van die afgelope paar jaar sien en voel. Ford se Sync3-inligtingstelsel met CarPlay en Android Auto werk puik. Dít gepaard met Ford Pass en al sy funksies plaas die Ranger in ʼn liga van sy eie.

Die kajuit se gehalte is uit die boonste rakke. Die sitplekke is uiters gemaklik, en die ergonomie werk puik. Die Ranger is tans die tweede breedste kajuit tussen die dubbelkajuitbakkies, én hy bied goeie beenruimte. Die sitplekke is elektries verstelbaar; ʼn mens is dus vinnig gemaklik. Al item wat ek graag op die volgende Ranger wil sien, is ʼn reikverstelbare stuurkolom.

(Foto: Verskaf)

Ons het met die Stormtrak van Port Elizabeth tot by Stormsriviermond gery. Daarvandaan het ons deur die Baviaanskloof tot in Steytlerville, verby Witmos-ossewakamp en terug tot in Gqeberha (Xhosas met fantastiese vaardighede in tong-kliekery het my al probeer leer hoe om dit uit te spreek, maar ek kry dit net af en toe reg).

Dié reistog was 1 004 km en nagenoeg 650 km daarvan was op grondpaaie. Party mooi, ander nie só mooi nie. Ons was omtrent 10 Rangers, en nie een pap wiel nie. Nie een probleem langs die pad nie, behalwe ʼn klip wat tussen ʼn wiel en die remskyf ingegly het wat ons moes uitkrap.

(Foto: Verskaf)

Dis fantasties – en toe val dit my by. Baie Suid-Afrikaners het bakkies, maar as ons iewers heen toer, vat ons die N1, N2 of N3. Ek het al klomp keer hier gesmeek, vat daai afdraai, ry daai grondpad… jy sal verbaas wees watter juwele daar is om te ontdek. Ligte motreën in die Karoo is een van die belewenisse vir my.

Dit is maklik om die Stormtrak op te som. Dit is inderdaad duur, ja – maar dis ʼn lieflike ryding. Maroela Media gaan vir ses maande met een ry en ek kan nie wag om hom te kry nie.

Die reeks lyk só:

Ford Ranger StormtrakR790 300
Ford Ranger Stormtrak 4×4R846 500

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/120 000 km-waarborg en 6 jaar/90 000 km-diensplan.

Ons sal die Stormtrak met sy direkte mededingers vergelyk as ons weer ʼn bietjie tyd met hom deurgebring het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Belinda ·

Kry mens darm n hond by… jy weet so as die kar breek dat jy nie alleen hoef te stap nie?

VaalDonkie ·

Nee, maar jy kry darem ‘n paar gemaklike stapskoene.

Wilhelm ·

In die 2de paragraaf staan daar dat Ford die Ranger en “Amarok” gaan bou… ek dink dit moet wees Ranger en “Stormtrak”.

andre ·

jy het reg gelees ,die Ranger en Amarok . Die plaaslik vervaardigde Amarok behoort darem goedkoper te wees.

koos10 ·

My bekommernis is dat die Amarok dieselfde pad as die X klas gaan loop. Baie duurder as die skenker voertuig, met nie veel meer om te bied nie. Sal maar moet wag en sien? Gaan Ford kan baat by die droom V6 TDI van VW? Miskien die krag oor 200kw stoot?

Harry ·

Ja nou gaan jy 2 stukke gemors uit een fabriek kry, en alby gaan rook en olie lek

Luxrider ·

Sou daarvan hou as hulle gesê het waar die fotos geneem is of die presiese roete wat gery is. Geld vir al die motor rit verslae wat die joernaliste skryf.

Dan weet mens waar om te gaan ry. Die fotos wys mooi plekke maar mens weet nie altyd waar dit is of wat die roete was nie

Brendon Staniforth ·

Dagsê Luxrider

Baie dankie vir jou kommentaar. Stuur asseblief vir my ‘n e-pos na [email protected] dan stuur ek vir jou die presiese roete.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Hills ·

Ranger bakkies ry lekkerder as enige ander bakkie maar fabrieks waarborg is nie genoeg nie, sorg maar vir verlengde waarborg tot 200000km.
Vra ons ,ons weet !

VaalDonkie ·

Ja ne. Alhoewel die Hilux die gehardste bakkie van die lot is, ry hy so ongemaklik soos ‘n perdekar. Ek sal net vir myself lieg as ek ‘n plaasbakkie koop. Ek ry eerder gemaklik as ek gaan kamp of iets by Builder’s gaan oplaai.

Maar eintlik worry ek nie. Ek ry ‘n 14 jaar oue Subaru en die ding sal seker NOG 14 jaar hou so tot dan kyk ek maar net prentjies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.