Ford se onderskatte juweel

Ford verkoop ongeveer 150 Everest-modelle per maand teenoor Toyota se nagenoeg 1 000 Fortuners.

Dit is ʼn jammerte; kom ek verduidelik hoekom. Die Ford Everest, soos sy mededinger by Toyota, word rofweg op sy bakkieboetie, die Ranger, gebaseer. Dit is ʼn volgrootte sewesitplek-sportnutsvoertuig met ʼn leerraam, dieselenjin, permanente vierwielaandrywing en laestrekratkas.

Die Everest is egter veel meer as die som van daai onderdele. Die Everest bied fantastiese bougehalte en ʼn sterk spesifikasievlak. Dít gepaard met die 2.0-viersilinder-enkelturbodieselenjin wat aan ʼn 10-spoed-wringkragomsitter- outomatiese ratkas gekoppel is – bied ʼn ritgehalte wat nie een van die drie ander mededingers in die segment kan ewenaar nie. Die 2.0-viersilinderturbodieselenjin bied 132 kW en 420 Nm. Heeltemal in die kol vir dié voertuig.

In die kajuit is daar sewe sitplekke met leerbekleedsel van puik gehalte, ʼn leerbedekte paneelbord, Ford se SYNC3-inligtingstelsel wat CarPlay en Android Auto bied, klimaatbeheer en spoedkontrole. Die bestuurder se sitplek verstel elektries, en sodra alles net só gestel is – dan is ʼn mens werklik gemaklik.

Ons bekendstellingsroete het ons in die Wes-Kaap vanaf George, deur Mosselbaai tot in Oudtshoorn geneem. Die bergpasse en oop vlaktes is in ʼn oogwink in die Everest verby. Plek-plek was ons glad nie sag met ons verwagting van die Everest se padhouvermoë nie. Die tweede dag verlaat ons Oudtshoorn en ry in Prins Albert se rigting. Die Swartbergpas lê tussen ons en middagete. Die Everest maak ligte werk van die grondpad en die ritgehalte is wragtig puik. Ná middagete is dit ʼn naelloop tot by die lughawe deur Meiringspoort, Oudtshoorn en uiteindelik die Outeniekwapas. Weereens wys die Everest sy staal in die padhouvermoë-afdeling.

Dit is werklik maklik om die Ford Everest Sport op te som. Dit is ʼn voertuig van uitmuntende gehalte wat plaaslik vervaardig word, en tussen sy mededingers puik geprys. Indien jy in die mark is vir ʼn Fortuner, Everest, Pajero Sport of MU-X, gaan toetsbestuur gerus ʼn Everest voordat jy op die stippellyn teken.

Die reeks lyk só:

Ford Everest Sport 2.0 SiT 10AT 4×2132 kW/420 Nm7.1 ℓ/100 kmR662 800
Ford Everest Sport 2.0 SiT 10AT 4×4132 kW/420 Nm7.1 ℓ/100 kmR718 000

Die reeks word deur ʼn 4 jaar/120 000 km-waarborg en 6 jaar/90 000 km-diensplan gedek.

Ons sal weer tyd met die Everest deurbring en sien hoe hy hom dán in die daaglikse roetine gedra en hom teen sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.