Ford se Ranger word slim

In die bakkiesegment loop die Ranger al ʼn geruime tyd voor met van sy slim tegnologie soos noodremhulp en botsingwaarskuwingstelsels. Ons het onlangs die bekendstelling van die Ranger FX4 bygewoon. Nie net is dit ʼn beperkte weergawe wat op die XLT gegrond word nie; dit is ook die bekendstelling van FordPass aan die publiek.

ʼn Mens sal al hoe meer begin hoor van connected cars, of as ons dit mooi vertaal, is dit basies voertuie wat hul eie simkaarte ingebou het, en dus is hulle permanent aan die internet gekoppel. Hoekom? Dis eenvoudig: Inligting en data. Dit stel die voertuig se inligtingstelsel in staat om regstreekse verkeersinligting te bied, ʼn noodoproep te maak indien jy in ʼn ongeluk betrokke is en duisende ander funksies.

Nie net kry die motor ʼn simkaart nie, maar daar is ʼn app vir jou slimfoon. Sodra jou voertuig tot jou app bygevoeg is, het jy toegang tot ʼn magdom inligting oor die voertuig soos die brandstofvlak, reikafstand en wanneer die volgende diens nodig is. ʼn Mens het ook beheer oor die voertuig. Jy kan die voertuig laat aanskakel voor jy in hom klim… dit kan óf in koue klimate help dat die motor rustig tot by die regte temperatuur kom, óf in warm klimate, soos in Suid-Afrika, die lugreëling kans gee om die kajuit af te koel. ʼn Mens kan selfs die deure oop- en toesluit. Jaaa, die stelsel is afhanklik van ʼn datakoppeling – so as jy weet daar gaan nie sein wees nie, dan kan dit nie werk nie.

Meer oor die FX4

Die FX4-pakket is ʼn visuele opknapping van Ford se Ranger 2.0 SiT XLT. Die ontwerp is netjies, al is ek nie die grootste liefhebber van die swart wiele nie, maar die unieke rolstaaf is iets besonders en ek hou daarvan.

Aan die binneruim voel dit meer soos ʼn Thunder binne met mooi rooi stiksels en ʼn leer bedekte paneelbord. Die kajuit is met Ford se puik Sync 3-inligtingstelsel toegerus wat CarPlay en Android Auto bied, saam met die twee USB-poorte voor in die kajuit.

Die FX4 word aangedryf deur Ford se 2.0-viersilinderturbodiesel wat 132 kW en 420 Nm bied. Daai krag word deur Ford se 10-spoed- outomatiese ratkas aan die wiele gestoot. In die spesifieke weergawe waarmee ons die Oos-Kaap aangedurf het, wel aan al vier wiele deur ʼn laestrekratkas.

Dis op die grondpaaie en berge en dale van die Oos-Kaap in en om Port St Johns waar ʼn dubbelkajuit 4×4 werklik tot sy reg kom. Dit bied toegang tot die mees asemrowende dele van ons land. Ek smeek julle, as julle ʼn bekwame voertuig het, dubbelkajuit of nie – draai af en gaan besoek dié pragtige dele van ons land.

Op die pad is die Ranger se kajuit voorwaar gemaklik. Die klimaatbeheer op 21 grade gestel hou die kajuit lieflik koel en die taai humiditeit van die Suidkus van mens se lyf af. Die FX4 het oorgenoeg krag om lieflik op die snelweg te toer, en die 4×4-hindernis baas te raak.

Dit is baie maklik om albei produkte op te som. FordPass gaan ʼn puik truuk word oor hoe mense met hul voertuig integreer. Die FX4 is vir die man wat ʼn bietjie meer soek as ʼn XLT, maar nie heeltemal by ʼn Wildtrak wil draai nie… ʼn wen-wen-situasie.

Die reeks lyk só:

ModelKragBrandstof-verbruikSleepkapasiteitPrys
Ford Ranger 2.0 SiT FX4 4×2 outo132 kW/420 Nm7,2 ℓ/100 km3,5 tonR618 900
Ford Ranger 2.0 SiT FX4 4×4 outo132 kW/420 Nm7,5 ℓ/100 km3,5 tonR687 900

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/120 000 km-waarborg en 6 jaar/90 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Shady ·

Gee eerder aandag aan die meganiese elemente op die bakkies

Fritz ·

Hy word te slim. Binnekort sal party motors elke sekonde van jou ritte kan opneem. En nie lank daarna nie, sal die polisie daai inligting mag gebruik om jou van n spoedoortreding of versuim om dood te stop by n 4 rigting stop aan te kla. Gelukkig ry ek n 100% dom voertuig. So ek kan na hartelus die lewe se breë weg bewandel wanneer dit my pas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.