Ford stel beperkte weergawe Ranger bekend

Soos altyd woed die bakkie-oorlog sterker as ooit in Suid-Afrika. Dis beslis nie ʼn slegte ding nie, want hoe harder die vervaardigers teen mekaar meeding, hoe beter is dit vir die eindverbruiker én die tegnologie.

Die Ranger Thunder is op Ford se uiters suksesvolle Wildtrak gegrond. Die Thunder kry ʼn nuwe sierrooster, nuwe 18”-sierwiele en dieselfde sport-rolstaaf as die Wildtrak. Daar is talle Thunder-plakkers en -embleme oor die Ranger gestrooi. Aan die praktiese kant kry die Ranger ʼn sluitbare rolluik wat die laaibak beskerm, en ʼn vragbestuurstelsel wat die laaibak verdeel om items makliker vas te pak.

Daar is vier kleure beskikbaar – Sea Grey, Frozen White, Absolute Black en Moondust Silver. Die Thunder word aangedryf deur Ford se 2.0 bi-turbo-enjin wat 157 kW en 500 Nm bied. Die enjin is gepaard met Ford se nuwe 10-spoed-outokas. Die Thunder spog met Ranger se fenomenale sleepvermoë, en 3,5 ton-sleepkapasiteit. Die 4×4-weergawe van die Thunder kan tot 800 mm diep water aandurf en het 230 mm grondvryhoogte.

Ford se Wildtrak spog met die beste standaarde wat betref veiligheidstelsels in die bakkie-segment.

Dié stelsels is verder verbeter in die Thunder met AEB (autonomous emergency braking)… waar die Ranger self sal remme aanslaan indien jy moontlik gaan bots. Die stelsel maak gebruik van radar en kameras, maar die sagteware is nou aangepas om voetgangers, stilstaande en bewegende voorwerpe uit te ken. Die Thunder is toegerus met aanpasbare spoedbeheer ACC (adaptive cruise control) met voorbotsingwaarskuwing. Baanbeheer en waarskuwing is ook standaard op die Thunder.

Die Thunder neem dinge nou ʼn treetjie verder met SAPPA (semi-automatic parallel park assist). Die stelsel soek ʼn parkeerplek wat groot genoeg is vir die Ranger. Jy beheer net die remme en versneller; die Ranger sal hom self in die parkeerplek instuur.

Die Thunder kry Ford se EZ-optel-laaibakklap. Dit is ʼn torsiestaaf wat die gewig van die klap tot en met 70% verminder. ʼn Mens kan dus nou die klap met jou pinkie toemaak.

Ons het nou al heelwat tyd agter die stuur van verskeie Rangers deurgebring. Hul ry gemak en spesifikasievlak is onoortreflik. Ek sien uit om weer ʼn kansie met dié bul te kry.

Die Thunder reeks lyk só:

Ford Ranger Thunder 3.2 TDCI dubbelkajuit 6-spoed-outo 4×2147 kW/470 Nm8,2 ℓ/100 kmR711 600
Ford Ranger Thunder 2.0 bi-turbo dubbelkajuit 10-spoed-outo 4×2157 kW/500 Nm7,8 ℓ/100 kmR736 000
Ford Ranger Thunder 2.0 bi-turbo dubbelkajuit 10-spoed outo 4×4157 kW/500 Nm7,8 ℓ/100 kmR787 000

Die reeks word deur Ford se 4 jaar/120 000 km-waarborg en 6 jaar/90 000 km-diensplan gedek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.