Ford trek sy sokkies op  

Tussen 2008 en 2010 het Ford redelike groot probleme gehad. Die nuwe Ranger het van die lyn begin afrol maar daar was gehalte- en betroubaarheidsprobleme.

Wêreldwyd meet motoraanlegte hulself teen ʼn sekere standaard. Die maatstaaf wat Ford gebruik is die gemiddelde aantal probleme per 1 000 voertuie. Aanvanklik het Ford om en by 400 probleme per duisend voertuie gehad.

Daar is ʼn afdeling by Ford wat elke “probleem” moet ondersoek en probeer regstel. Nadat die fout gerapporteer is, word daar bepaal of dit ʼn produksiefout is en of dit ʼn foutiewe onderdeel is. Indien dit ʼn produksiefout is, gaan die span na die aanleg waar daardie spesifieke item geïnstalleer word en probeer identifiseer hoekom die probleem ontstaan het en stel dit reg.

Dieselfde geld indien dit ʼn foutiewe onderdeel is, met 60% van alle foute wat die gevolg is van onderdele wat verskaffers bied. Daar word dan teruggerapporteer aan die verskaffer en die verskaffer moet die produk weer volgens spesifikasie lewer.

Deur dit só te doen word daar tred gehou van elke fout en kan Ford uitskieters begin identifiseer – dit is die oomblik wat ʼn spesifieke onderdeel werklik buite die kurwe van normale gebruik onbetroubaar is. Dan kan daar vinnig stappe gedoen word om die probleem reg te stel soos om moontlike foutiewe voertuie te onttrek om reggestel te word.

Ford het hier die voordeel met die grootte van sy steekproef wat dit makliker maak om uitskieters te identifiseer. Dit is dié einste proses wat dit moontlik gemaak het om die probleme met ʼn ratjie in die nuwe 10-spoed outomatiese ratkas vinnig reg te stel.

Die Ford Ranger het in 2008 begin met gemiddeld 400 probleme per duisend – nogal swak. Dit word op drie vlakke gemeet – maandeliks, jaarliks en oor die leeftyd van ʼn modelreeks. Oor die leeftyd van die huidige T6 Ford Ranger loop die Ranger gemiddeld op 80 foute per 1 000 voertuie. Heel goed as mens onthou dat hulle by 400 weggespring het. Meeste fabrieksfoute blyk binne 12 maande nadat eienaarskap van die voertuig geneem is. Ná die eerste 12 maande is dit gehaltefoute.

Die afgelope paar maande is dit tussen 11 en 16 foute per 1 000.

Die Ford Ranger-bakkies wat in Suid-Afrika vervaardig word, word ook na uitvoermarkte verskeep met Europa wat die grootste uitvoerbestemming is.

Vervaardiging van die nuwe Ford Ranger begin aan die einde van volgende jaar in Suid-Afrika. Daar is net twee fabrieke ter wêreld waar Rangers gebou word – Thailand en Suid-Afrika. Thailand is in dié stadium Ford se vlagskipaanleg met net agt foute per 1 000 voertuie… dit wil gedoen word.

Om mededingend te bly, het Ford Suid-Afrika geen ander keuse as om self Rangers te kan verskaf teen 8 foute per 1 000, of selfs nog minder. Dit is om dié rede dat daar pas R15,8 miljard in die Ford se Silverton-aanleg belê is. Dit is om sekere onderdele self te begin vervaardig ten einde gehalte te verbeter én om Volkswagen se teikens te haal van wat die voorwaardes sou wees om die Amarok te kan bou. Tans word 50% van die onderdele plaaslik in Suid-Afrika vervaardig. Ná 2023 en die nuwe Ranger is die teiken om 80% van die onderdele plaaslik te verkry.

Die aanleg is besig om teen ʼn spoed aanlyn te kom en die gehalte word elke dag beter en beter. Ford vat dié strategie ʼn treetjie verder deur handelaars te probeer kry om probleem die eerste keer reg op te los. Die gemiddelde tyd wat ʼn Ranger met groot probleme staan is tien dae. Ford se teiken is vier dae. Hulle wil die handelaars toerus met die regte tegnici en kennis om ʼn voertuig die eerste keer reg te diagnoseer, én dan die nodige onderdele byderhand te hê om die voertuig so spoedig moontlik te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Alet ·

Ek het twee Fords. ‘n Ranger en ‘n Everest. Ek is happy met altwee. Alhoewel die EVerest bietjie sagter ry as die Ranger maar ek is mal oor my Fordjies

Grens ·

My 3.2 Ranger is nou op sy 3de engine na 200k km. Wat ‘n stuk gemors. Ek koop volgende jaar ‘n nuwe Hilux. Harde les geleer, nooit weer ‘n Ford nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.