Ford, trots Suid-Afrikaans…

Die Ranger se enjins word vervaardig in die Struandale-enjinaanleg in Gqeberha. (Foto: Verskaf)

Toe ek ʼn jong lat was sou ek met enige mens gestry het dat Ford ʼn Suid-Afrikaanse handelsmerk is. Hoe sê die manne, een liter brandewyn – twee liter Coke en ʼn drie liter Ford…?

Ek het later geleer dat Ford so Amerikaans is soos die rooi, wit en blou vlag vol sterre. Of is dit? Suid-Afrika dra ʼn magdom by tot Ford as handelsmerk. So word sy uiters gewilde Ranger plaaslik vervaardig in sy Silverton-aanleg in Pretoria. Daardie einste Ranger is vanjaar gekies as ons motor van die jaar deur die Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste.

Die Ranger se enjins word vervaardig in die Struandale-enjinaanleg in Gqeberha, of PE in ou geld. Sover my kennis strek, is dit die enigste enjinaanleg ter wêreld waar ʼn vier-, vyf- en sessilinderenjin agtermekaar vervaardig word op een lyn. Dit is Ford se ou 2.2 viersilinderturbodiesel, 3.2 vyfsilinderturbodiesel én dan nou die nuwe 3.0 V6 turbodiesel.

Die Ranger se enjins word vervaardig in die Struandale-enjinaanleg in Gqeberha. Die tweede lyn by die fabriek vervaardig die 2.0 enkel- en- dubbelturbodieselenjins op ʼn aparte lyn.(Foto: Verskaf)

Ford het ons ʼn wyle terug deur dié aanleg geneem en gewys toe hulle begin het om die 2.2 en 3.2 lyn uit te brei om die V6 te akkommodeer. Dit het met my kop effens gesmokkel om te sien hoe die ingenieurs die lyn verleng, die gat in die vloer sny en die ketting verleng – toé al die masjinerie installeer en programmeer.

Ver bó my verstand. Daardie lyn is nou afgehandel en loop klopdisselboom. Die tweede lyn by die fabriek vervaardig die 2.0 enkel- en- dubbelturbodieselenjins op ʼn aparte lyn.

Die Ranger se enjins word vervaardig in die Struandale-enjinaanleg in Gqeberha. (Foto: Verskaf)

Ek vra vir Shawn Govender, aanlegbestuurder by die Ford Struandale-enjinaanleg of hulle vir nou eers klaar is. Hy bevestig dat die huidige uitbreidings afgehandel is – maar dat daar deurlopend gekyk word na projekte wat moontlik die aanleg se toekoms kan verseker in die volgende dekades.

Ontmoet deur groot oë vra ek: “Manne, kom ek vra die vraag direk. Hoe lyk jul syfers in terme van betroubaarheid? Daar sal mos ʼn teiken wees.”

Shawn dink vir ʼn sekonde en antwoord direk: “Ons is absoluut tevrede met ons betroubaarheidsinligting wat terugkom.

Daar word van elke liewe enjin tred gehou en elke brokkie inligting word op ʼn sentrale databasis gestoor. Ons werk tans mooi binne die riglyne wat Ford vir ons gestel het, én kan nie meer dankbaar wees vir die groei in aanvraag vir die V6-enjin wat niemand voorspel het só sou groei nie!”

So alles loop perfek dan? Wel, nee – nie heeltemal nie. Ford kwyt hulle fantasties van hul taak – afgesien van die uitdagings wat hulle het. Die Struandale-enjinaanleg se grootste uitdaging is beurtkrag.

Die Ranger se enjins word vervaardig in die Struandale-enjinaanleg in Gqeberha. (Foto: Verskaf)

Dit beïnvloed al drie fasette van die onderneming: gehalte, koste en lewering. Die aanleg word erg geraak, maar só ook die verskaffers waarop die aanleg staat maak. Indien daardie ketting swaar genoeg geraak word, val die Silverton-aanleg wat die voertuie bou ook om indien daar nie enjins is nie.

Dis ʼn deurlopende stryd – maar Shawn en sy span poog daagliks om die beste gehalte produk, teen die beste prys elke dag betyds te lewer.

Nóg ʼn uitdaging wat die Oos-Kaap tans teister is droogte en watertekort. Dié aanleg het oor die afgelope vyf jaar egter watertenks geïnstalleer om reënwater op te vang én krane en toilette ingesit wat groot hoeveelhede water bespaar.

Eenvoudig gestel het hulle geen ander opsie nie. Hulle is nie die enigste aanleg ter wêreld wat dié enjins vervaardig nie, en kompeteer met ander Ford-aanlegte regoor die wêreld vir volumes en markaandeel.

ʼn Mens kan dit nie dink nie, maar sou dit onmoontlik wees om hier sake te doen sou Ford doodeenvoudig die enjins elders aankoop – en dít sou ʼn onnodige hou wees vir werkloosheid in die Oos-Kaap, iets waarmee hulle reeds verskriklik sukkel.

Soos ons deur die aanleg stap en hulle vir my al die innoverende tegnologie wys, is ek verstom. Elke stap in die proses van die enjinvervaardiging word afgeneem en gemeet. Met infrarooi- en laserkameras.

Die Ranger se enjins word vervaardig in die Struandale-enjinaanleg in Gqeberha. Die tweede lyn by die fabriek vervaardig die 2.0 enkel- en- dubbelturbodieselenjins op ʼn aparte lyn.(Foto: Verskaf)

Dié beeldmateriaal vergelyk die eenheid wat besig is om gebou te word met die spesifikasies wat deur die ingenieurs gestel is. Indien enigiets etlike mikrons uit plek uit is, stop die lyn nét daar. Elke item word met presiese akkuraatheid gedoen, broodnodig om by die betroubaarheidsteikens uit te kom.

Die Ranger se enjins word vervaardig in die Struandale-enjinaanleg in Gqeberha. Die tweede lyn by die fabriek vervaardig die 2.0 enkel- en- dubbelturbodieselenjins op ʼn aparte lyn. (Foto: Verskaf)

In ʼn aparte gebou word die silinderkoppe vir die V6 diesel vervaardig. Die rou aluminium word in Duitsland gegiet, dan word die res van die proses op eie bodem voltooi.

Waar enjins lukraak gekies is, in ʼn dinamometer vasgebout was én dan “warm” getoets is, word elke liewe enjin nou koud getoets. Daar is ʼn masjien wat elke aspek van die enjin meet, die weerstand wat die krukas bied en eers as elke liewe enjin dié toets slaag mag hy verder in die lyn af vorder.

Dis ʼn riem onder die hart om die tegnologie te aanskou wat Ford het. Ten spyte van elke moontlike uitdaging vorder hulle en probeer om die toekoms van die plaaslike bedryf te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.