Ford wil Dakar toe

Die NWM Ford Castrol-veldrenspan het onlangs in Parys teen die huidige wêreldkampioene Toyota koning gekraai.

Dié ronde van die SA Rally Raid-kampioenskap is kortgeknip ná swaar reën. Al die spanne het sukkel-sukkel deur die landerye geswem en naderhand het almal eenvoudig begin vasval.

Daar is egter genoeg tyd en afstand afgelê om ʼn wenner te kroon. Gareth Woolridge en navigator Boyd Dreyer het vir die eerste keer ʼn oorwinning ingeoes.

Die Ford-span het twee Ford Ranger FIA T1+ EcoBoost V6-bakkies. Lance Woolridge jaag die tweede bakkie met vrou en navigator, Elvéne Vonk, in die passasiersitplek.

Ná die renjaers die modder van hul renpakke afgespoel het, vra ons vir Neil Woolridge, spanbaas, of daar Dakar-planne in die toekoms is. “Ons het oorweeg om dié jaar in te skryf vir Januarie 2023, maar het gevoel dit sou net te min tyd gelos het om behoorlik voor te berei – maar ja, dit is inderdaad die plan!”

Dit moet ʼn riem onder elke Suid-Afrikaner se hart wees dat ons sulke sterk verteenwoordiging by die wêreld se uitdagendste wedren kan geniet. Toyota Gazoo Racing met hul Hilux is tans die kampioene, en daar is geen rede hoekom Ford nie ook kan gaan probeer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Vertrou dat Ford hul goeie kompetisie gaan gee, Toyota beter hul sokkies optrek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.