Formule E kom dalk na SA

Foto: ABB Formula E

Deur Franco Theron en Junaid Samodien

Oor die afgelope paar jaar het Suid-Afrika en Afrika ʼn groot omwenteling in die investering van internasionale motorsport gesien.

Nie net is die FIA Wêreld “Rallycross”-kampioenskap in 2016 in Kaapstad aangebied nie, maar het ʼn string ander motorsportligas soos die Wêreld-uithourenkampioenskap, die Interkontinentale-uithourenkampioenskap, die Safari-tydren, en die Formule E reeks in Marrakesj ook by die reeks positiewe nuus aangesluit.

Die jongste nuus is dat die FIA ABB Formule E-kampioenskap moontlik ʼn Kaapse draai kan maak. Dit is nie net uitstekende nuus vir die stad nie, maar ook vir Suid Afrika in geheel.

Hierdie spesifieke reeks het dit sedert 2014 reggekry om die twee wêrelde van stedelike mobiliteit en skoon tegnologie te meng. Saam met Kaapstad se mikpunt om van die normale elektrisiteitstoevoer weg te beweeg asook om ʼn wêreldleier te word vir toerisme, bring hierdie motorsportreeks ʼn dubbeldoor ekonomiese inspuiting.

Gedryf deur e-Movement en in samewerking met Jaguar Suid-Afrika, sowel as die Stad Kaapstad, is daar besluit om ondersoek in te stel oor of Suid-Afrika en spesifieke Kaapstad só ʼn wedren sal kan aanbied.

Drie moontlike bane word tans oorweeg in samewerking met elk van die partye. Tesame met die wedren word daar ook ʼn hernubare energie-week beplan, het Iain Banner, hoof van e-Movement, gesê. Hierdie wedren sal ʼn geweldige inspuiting vir Suider-Afrikaanse toerisme sowel as die beeld van Suid-Afrikaanse motorsport wees.

Saam met die vooruitgang van alternatiewe mobiliteitsmodelle is daar ook natuurlik ʼn reuse-investering van vervaardigers. Die ABB Formule E-reeks bestaan uit 12 verskillende spanne en nege verskillende vervaardigers. Porsche en Mercedes-Benz is maar net twee van die spanne wat onlangs by ander soos BMW, Mahindra, Nio, Audi, DS, Penske, Nissan en Jaguar aangesluit het.

Formule E het stil begin maar vinning gegroei as een van die herkenbaarste oopwielmotorsport-platforms. Die uitkoms van elk van die laaste vyf seisoene is ook tydens die laaste ren naweek beslis, met Jean-Eric Vergne (DS Techeetah) wat in 2019 die eerste tweemalige Formule E-kampioen geword het.

Die 2018/2019-seisoen het agt verskillende wenners in die eerste agt renne gesien, waarna Vergne die eerste renjaer geword het om hierdie ketting te breek tydens die Monaco-ren. Die 2019/2020-seisoen is ook vinnig besig om dieselfde patroon te volg, met die eerste vyf renne, wat tot dusver deur vyf verskillende jaers, en vier verskillende spanne gewen is. Kwalifisering bied ook geensins ʼn waarborg vir oorwinning nie, met net Alexander Sims (BMW I Andretti) en Antonio Felix da Costa (DS Techeetah), wat tot dusver dit hierdie seisoen kon vermag.

Sedert die begin van die reeks in 2014, het die kampioenskap sterk gegroei. Oorspronklik ontwikkel vir stedelike renne, met ʼn halfren motorverandering (weens die batterye, wat net vir die helfte van die ren kon hou), het die reeks nou al ontwikkel om ten volle op renbane plaas te vind met geen motorveranderinge tydens die renne nie. Dit is te danke aan FIA se ontwikkeling van die GEN2-renmotor met die GEN2Evo, wat teen die einde van 2020 beskikbaar sal wees vir elk van die spanne.

Die merkwaardige mylpaal is nie net verantwoordelik vir wiel-tot-wiel aksie nie, maar ook geweldige tegnologiese innovasie vir daaglikse voertuie. Met so baie vervaardigers in die reeks, is die aanbod om so ʼn wedren in Suid Afrika aan te bied dalk net die beste idee om die ekonomie vorentoe ʼn hupstoot te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Ek hoop hulle bring kragopwekkers saam, want met Eskom en beurtkrag gaan die moeilik wees om daai karre vol gelaai te hou!!
Nou op ‘n ernstige noot, hoekom alles vir Kaapstad? In Midrand is daar ‘n wêreld klas baan, met met goeie toegang en naby ‘n paar lughawens. Miskien moet Gauteng bietjie wakker skrik!

Gerrie ·

Gauteng is so agter dit lyk of hy voor is dit is baie sleg vir Gauteng

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.