Fortuner nóú perfek?

(Foto: Verskaf)

Dit is geen geheim dat ek ʼn baie groot Fortuner-aanhanger is nie. Dit pas my gesin perfek. Ons is vyf, plus ouma; dus het ons af en toe ses sitplekke nodig. Ons sleep graag ons karavaan wyd en syd… en ons hou baie daarvan om in die veld en duine oor ʼn paar hindernisse rond te ploeter. Daar is min voertuie wat dié vlak van veelsydigheid kan bied.

Ek het onlangs ʼn video oor Toyota se Fortuner gemaak. Die vervaardigers dwing my elke keer om vyf foute by die voertuig te soek – en sal jy nou glo dat Toyota werk gemaak het van vier van my vyf krapperighede .

Dié winter was vir my ysig koud in Pretoria. Ons het op ʼn oggend die -2 °C by Groenkloof-natuurreservaat getrotseer. Ek het gevra vir sitplekverwarmers en nou is die twee voorste sitplekke verhit. Ek het gevra vir CarPlay en Android Auto – en dit is daar. Hulle het wel nie vir my ʼn elektroniese handrem gegee nie, maar wel Toyota se Safety Sense-pakket wat botsing- en blindekolwaarskuwing en aanpasbare spoedkontrole insluit. Sit hierby ʼn selfverduisterende truspieëltjie én elektries verstelbare sitplekke voor.

(Foto: Verskaf)

Aan die enjin kant het Toyota sy 2.8 GD-6 ʼn indrukwekkende opknapping gegee met nuwe turbo’s, ʼn balanseringstaaf en ʼn paar ander verfynings om eindelik 150 kW en 500 Nm te bied. Soos ek gevra het, is die wringkragomsitter ook effens stywer gekalibreer om beter aan sesde rat vas te hou op die snelweg. Die resultate is puik. Die Fortuner toer soos ʼn droom op die snelweg én die brandstofverbruik is heelwat verbeter.

Die nuwe swart binneruim is soos dit uit die staanspoor moes wees en die wit stiksels op die stuurwiel en handrem rond die pakket mooi af. Aan die buitekant is daar nuwe Bi-Beam LED-ligte voor en LED-strookligte agter. Die 2.8 Fortuner kry nuwe sierwiele wat hy by die Prado leen. Die metaalverf lyk fantasties op die wiele.

Dit is effens meer as net ʼn klein opknapping vir die Fortuner-reeks. Ek is ʼn groot liefhebber van die 2.4 en dink dit bly steeds die winskoop in die reeks, maar die 2.8 GD-6 4×4 VX is ʼn fantastiese pakket wat nie in dié segment geïgnoreer kan word nie.

Die reeks lyk nou só:

ModelKragBrandstof-verbruikSleepkapasiteitPrys
Toyota Fortuner 2.4 GD-6 handrat110 kW/400 Nm6,8 ℓ/100 km2,5 tonR566 800
Toyota Fortuner 2.4 GD-6 outo110 kW/400 Nm7,2 ℓ/100 km2,5 tonR588 000
Toyota Fortuner 2.4 GD-6 4×4 outo110 kW/400 Nm7,6 ℓ/100 km3,3 tonR616 700
Toyota Fortuner 2.8 GD-6 outo150 kW/500 Nm7,6 ℓ/100 km2,5 tonR700 100
Toyota Fortuner 2.8 GD-6 VX outo150 kW/500 Nm7,6 ℓ/ 00 km2,5 tonR720 200
Toyota Fortuner 2.8 GD-6 4×4 outo150 kW/500 Nm7,9 ℓ/100 km3,3 tonR770 400
Toyota Fortuner 2.8 GD-6 4×4 VX outo150 kW/500 Nm7,9 ℓ/100 km3,3 tonR790 500

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 9-dienste-diensplan.

Die mededinging lyk só:

ModelKragBrandstof-verbruikSleep-kapasiteitWaarborgPrys
Mitsubishi Pajero Sport 2.4 DI-D 4×4 Exceed133 kW/430 Nm8,1 ℓ/100 km2,7 ton3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R689 995
Isuzu MU-X 3.0 4WD130 kW/380 Nm7,9 ℓ/100 km3 ton5 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R712 200
Ford Everst 2.0Bi-Turbo 4WD Limited157 kW/500 Nm7,6 ℓ/100 km3,1 ton4 jaar/ 120 000 km waarborg

6 jaar/ 90 000 km diensplan

R819 900

Ons sal weer tyd in die Fortuner deurbring en hom gebruik om te sleep om te sien hoe die optimaliserings in die enjin en ratkas hom as sleepvoertuig beïnvloed. Indien jy ʼn sleepvoertuig wil koop, spog die Fortuner met die swaarste sleepkapasiteit van almal.

Die invloed van die inperking en tuis werk het verskillende resultate vir verskeie maatskappye gebied. Ek is gek oor Toyota se nuwe TV advertensie vir die Fortuner – kyk dit gerus hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Stephen ·

Twee irritasies wat niemand blykbaar opmerk in die Fortuner nie: Bestuurder sig rondom die voertuig swak weens die pilaar tussen die windskerm en die bestuurders deur wat nie goed geplaas is nie. Die ander een is dat groot ouens soos ek hulle nekke verstuit net om in die voertuig te klim.
Ek vind dieselfde probleem met die nuwe RAV.

koos10 ·

Stephen, die sig probleem het baie ander karre ook, wat vererger as jy wind bubbles op sit. Ek dink dit het te doen met die feit van die streng NCAP en die gejag na die 5 sterre vir veiligheid.

koos10 ·

Ek wonder of die prys verskil tussen die goedkoopstse en duurste regtig die regte pad is om te gaan.
Die basis is dieselfde, so R400 000.00 vir luukshede en 40kw? Nee wat die 2.4 outo is dan die een. R400 000.00 is bitter baie geld.
En teen net R120 000.00 op die top model meer sit jy in ‘n Prado

amot ·

R120,000 meer vir Prado of R100,000 minder vir ‘n Pajero Sport. Die Pajero Sport raak nou ‘n winskoop.

Bernard ·

Pajero Sport is beter – veral padhouvermoë. Weet van talle sterftes wat teen Fortuner/Hilux se rekening aangeteken kan word. Mitsubishi ook meer betroubaar .

Kirst ·

Hoe werk dit dat die 2.4 4×4 outo 3.3 ton kan sleep maar die 2.4 handrat en outo en 2.8 outo en VX kan net 2,5 ton sleep?

Brendon Staniforth ·

Dagsê Kirst

Dankie vir jou kommentaar. Die 4×4 weergawes het ‘n effens sterker dryfstelsel, maar dit gaan meer oor wegtrek in moeilike situasies met 3.3 ton agteraan – het mens toegang tot ‘n laestrek ratkas én vierwielaandrywing.

Dit het niks met die enjin se trekkrag te doen nie, en alles met die dryfstelsel en die ratkas wat sterker gemaak is om die lading van die viertrekstelsel te kan handhaaf. Mens sal ook op ‘n gladde oppervlak nie met ‘n 4×2 kan wegtrek met 3.3 ton gehaak nie.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.